Aandete by die Taliban.

Mei 13, 2011 in Sonder kategorie

“Daar is ‘n TV in my restaurant” sê Ismael, “met DSTV en al die sportkanale.”

 

Ek gooi petrol in, en Ismael het die ou in die Tazz pas gekonfronteer oor die blink rims op die kar nie by die Khan broers se onderdele winkel gekoop was nie. Ismael wag ook om petrol in te gooi, maar hy laat nie gras onder sy voete groei nie, so hy doen maar reklame terwyl hy wag vir sy ingooibeurt.

 

Al die pad van die Ngami meer af dink ek aan die wedstryd.

 

Die een tussen die Stormers en die Sharks.

 

Ek wou dit glad nie misloop nie. Onthou dit was nou die Saterdag so twee weke of so gelede, die groot wedstryd moes nog plaasvind.

 

By Shakawe draai ek in by Jan Drotsky se kampplek, en gaan kyk dadelik of die TV in die kroeg DSTV het. Nee, daar is nie DSTV nie, daar is glad nie eers ‘n donnerse TV nie. Kyk, die Okovangorivier is baie mooi. Die bome, die visarende, die seekoeie, alles baie mooi, ek stem saam, maar op daardie presiese minuut was ek ingestel op die groot wedstryd.

 

In die luukse “lodge” het die kamers wel TV’s in, volledig met DSTV ontvangs, en ek begin dit oorweeg om megabucks te blaas en in ‘n luukse kamer in te boek, hierdie opsie is plan C, die laaste uitweg.

 

Plan A, was om heerlik in die Drotsky’s kroeg te kyk.

 

Plan B – dit is die soektog na ‘n DSTV iewers in Shakawe.

 

Die petrolpomp is altyd ‘n goeie plek om goed by uit te vind, en so het ek vir Ismael Khan ontmoet, later sy broers ook.

 

Hy het so 3 jaar gelede uit Pakistan uit aangekom. Die 3 broers het 3 besighede hier. Die “restaurant”, die onderdele plek, en ook die slaghuis, streng halaal, verseker hy my. Ek moenie vir sy broers vertel nie, maar hy wat Ismael is geniet nogal ‘n bier ook.

 

Reg, ry gou “restaurant” toe, daar is ‘n pragtige nuwe platskerm TV besig om krieket op SS2 te wys.

Ek is min gepla oor enige ander aspek van die restaurant, want ek is nie daar om te eet nie.

 

Na die Stormers se pragtige oorwinning, moet ek saam met Ismael kerrie en rotis gaan eet agter in die kombuis. Ordentlike kerrie sê hy. Oxtail. Halaal. Nogal lekker ook.

 

Hulle wat Pakistani Khans is, se voorvaders het eens op ‘n tyd in Kabul gebly, ek moet weet die bergstamme is eintlik vriendelike ouens.

 

Ons praat bietjie godsdiens/politiek/Libië/Amerika… alles Amerika se skuld.

 

en die volgende dag breek die nuus oor Bin Laden.

 

tv

 

Die restaurant.

 

Die TV staan bo op die yskas.

Hulle het spesiaal vir my die kanaal van krieket na rugby verander.

 

Nee, sokker was nie ‘n keuse nie.

 

ismael

 

Ismael en een van die kombuisgirls ( Lerato)

 

Rotis en beesstertkerrie voor hulle.

 

 

dj

 

Ismael het geen beswaar teen die kroeg langaan nie. Op Saterdagaand is daar ‘n DJ op die stoep en hordes honger kliënte.

Die restaurant was besig, baie baie besig. Ek het maar ‘n black label of twee gaan koop en onopsigtelik by die TV sit en drink. Onopsigtelik , want die honger kliënte mag nou nie eintlik sterk drank in ‘n halaal restaurant inbring nie.

 

Die kroeg langsaan behoort obviously nie aan die Khans nie, maar gelukkig beinvloed die soberheid van jou klandisie nie jou halaal status nie.

 

 

tent

 

Ek het my tent voor die rugby al opgeslaan, altyd beter om dit op te slaan terwyl daar nog genoeg lig is.

 

Netjiese kampplekke.

 

7 antwoorde op Aandete by die Taliban.

  1. TS het gesê op Mei 13, 2011

    Interessant so buite mens se gemaksone

  2. Vetjan het gesê op Mei 13, 2011

    nogal ja, en dit is dikwels hoe dit gebeur as mens reis.

  3. Vetjan het gesê op Mei 13, 2011

    Helaas, krieket of liewer wedenskappe op krieket, is vir die Khans baie meer aanloklik.

  4. Blikskottel het gesê op Mei 14, 2011

    Die Paki’s wat hier by ons werk is deedae baie stil en vriendelik. Ek wonder hoekom?

  5. Vetjan het gesê op Mei 14, 2011

    besigheid is seker stadig ?

  6. Berwick het gesê op Mei 18, 2011

    Goed gaan, Petrus.

  7. Vetjan het gesê op Mei 18, 2011

    halo Berwick

Los ’n antwoord vir Berwick. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.