Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Om die boer te skiet – dubul’ibhunu

Februarie 24, 2011 in Sonder kategorie

Eerstens, wil ek dit onomwonde en duidelik stel.

 

Ek keur die sing van dubul’ibhunu af.

 

Enige plek en veral by politieke vergaderings waar massas opgesweep word deur charismatiese leiers. Charismaties uit die perspektief van hulle ondersteuners.

 

Met die uitsondering van ons man in China, Francois Williams, dink ek nie enige leser van hierdie blogs vind Julias besonder charismaties nie, maar ek verseker julle hy is. Soveel so dat Zuma, self ‘n baie charismatiese man, versigtig is vir onse Julias.

 

Die ANC is nou al sedert 1994 die regering , amper 17 jaar.

 

Hier is die groot teenstrydigheid:

 

“Ibhunu”, Die Boere was en is nog steeds ‘n bynaam vir die polisie.

 

Dit kan verder uitgebrei word om te beteken die regering – die apartheidsregering – amper soos hulle destyds vroeë sewentigs, in die VSA , na die regering verwys het as “The Man”.

 

Die 3de betekenis kan wees – Die Afrikaner –

 

en die 4de een – plaasboere.

 

Die SAPD is veronderstel om in diens te wees van alle inwoners van die RSA. Indien iemand wil beweer dat “boere” in die liedjie die SAPD beteken, sou die hedendaagse sing van hom hulle te skiet erg subversief wees.

Selfs nog meer as om jou band Fokof polisiekar te noem.

 

In die goeie (of slegte) ou dae kon mens sê die polisie .. soos in Koevoet en Caspirs en so aan was ‘n legitieme teiken. Ek het self agter op ‘n Buffel rondgery in lokasies, ook in Wamboland, maar hierdie inskrywing gaan oor die situasie in die RSA , so ons sal nou nie oor Wamboland praat nie, scratch Koevoet.

 

Ons praat dan maar van die onluste eenheid.

 

Douvoordag een wintersoggend in 1986 was ek deel van ‘n kordon in Khayalitsha… “die Boere” moes deursoek. Die infanterie (ek was ‘n bokkop) moes die kordon gooi. Die witdoeke en die comrades was toe slaags. Van julle sal onthou. Ons was ses geweerkompanies op die “dek” by Wingfield.

 

As ek daai tyd ‘n comrade was sou ek ook dubul’ibhunu gesing het.

 

Nie dat die comrades dit ooit probeer het nie. In hulle fokken drome. Die realiteit was dat hulle te besig was om oumas sunlight seep te laat drink, en ander mense te necklace.

 

Hopelik is die liedjie nie ‘n soort protes teen die hedendaagse SAPD nie.

 

Protes teen die huidige regering? Natuurlik nie. Zuma sal tog nie sy masjiengeweer bring vir ‘n selfmoordpoging nie. Malema allermins, daar wag sushi in die ZAR klub. Nou praat jy.

 

Raait, dit bring ons by die Afrikaner, Zuma is reg as hy sê dat die Afrikaner nie saamstem oor wie of wat die Afrikaner is nie. Ons kon nog nooit nie. Hoekom dink julle was daar destyds oor die 100 verskillende trekleiers?

 

Ou storie, fok jou kommandant, ek trek in my eie rigting.

 

Dit bring ons by die uiters kwesbare plaasboere.

 

 

Eusebius McKaiser was of is besig met sy Phd in filosofie, nogal by Oxford, … ek weet nie of hy nog daarmee besig is nie, opgeskop het, dit gekry het of wat nie, maar hy het onder andere geskryf:

 

“In fact, we would be asking Malema to assume that all black people are simpletons or automatons who should not be trusted as capable of distinguishing right from wrong. This assumption is deeply offensive (because it robs “ordinary” people of moral agency) and also patently false (no one needs a degree or money or power to be responsible for their actions, disaffected farmworkers included). “

 

Duidelik het Eusebius nog nooit by ‘n vars smeulende necklace slagoffer gestaan nie. Een wat nog so skop skop sy laaste stuiptrekkings gee nie. Of die begeesterde massa met traanrook, en rubberkoeëls uiteengejaag om ‘n arme drommel van ‘n pynlike dood te red nie. Geen normale morele mens wat ” can be trusted as capable of distinguishing right from wrong” , sal tog deelneem aan ‘n necklacing nie….. of ‘n ander sinnelose moord nie … vra maar die Waterkloof 4, bietjie opsweping, ‘n paar shots brannas of rum, en siedaar .. die morele mense vergeet sy moraliteit.

 

Punt is dit, in hierdie jaar 2011, met 3 plaasmoorde laas week, moet dit die regering se erns wees om ALLES DENKBAAR te doen om plaasmoorde stop te sit.

 

‘n Baie goeie simboliese ding om te doen sou wees om onomwonde die sing van dubul’ibhunu te “can”.

 

Die feit is dat daar in die lokasie BAIE meer moorde is as in die ‘”wit dorp”. Hier in my dorp het ons meer as 3 per maand in lokasie, en miskien een in 3 jaar in die “wit dorp.” Soos met Maandagoggend se geval, twyfel almal ten sterkste of die geval enigsins iets te make gehad het met politiek, ‘randomness” , of selfs roof … maar alles met een of ander wraakpoging.

 

Selfs destyds, my ex skoonpa het in die Strydomblok geboer, het baie spesifieke boere landmyne op hulle paaie gekry. Daar was uitsonderings.

 

Sover het nog geen van die plaasmoordenaars tot dusver in die hof dubul’ibhunu as versagtende omstandighede aangevoer nie. Ek dink almal wag daarvoor, want dan sal die McKaisers in hulle ivoortorings hulle woorde moet sluk. .. .. aan die anderkant weer, hulle sal met ‘n helse komplekse verduideliking kom .. wat net mense met doktorsgrade in filosofie kan verstaan… hoekom dit eintlik nie so is nie.

 

Daar is natuurlik ‘n tyd en ‘n plek vir alles. My oupa het die liedjie “We are marching to Pretoria” gehaat. Die Kakies se “marching song”, my oupa was omtrent 17 jaar oud in 1899.

 

Ons het destyds die allerverskriklikste liedjies gesing oor Kaunda, Sam, en so aan. Soveel so dat sammajoor Tillie Smith ons verbied het om ons “vuilgat liedjies” te sing waar beskaafde mense ons kon hoor.

 

Nouja, Bono was reg, daar is ‘n tyd en ‘n plek vir nostalgiese liedjies ….. maar nie vir dubul’ibhunu en masjiengeweer liedjies in Suid Afrika vandag nie.

 

 

Ayasab’ amagwala (die lafaards is bang)

dubula dubula (skiet skiet)

ayeah

dubula dubula (skiet skiet)

ayasab ‘a magwala (die lafaards is bang)

dubula dubula (skiet skiet)

awu yoh

dubula dubula ((skiet skiet)

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet)

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet )

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet)

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet)

awe mama ndiyekele (ma laat my dit doen ) of anders gestel : ma los my uit ….. om dit te doen

awe mama iyeah (o mama ja )

awe mama ndiyekele (ma laat my dit doen )

awe mama iyo (o mama ja )

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet )

aw dubul’ibhunu (skiet die boer)

dubula dubula (skiet skiet )

Alweer moord

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Ons ou dorpie is nie eintlik die moordadigste plek op aarde nie. 

Daar is die paar gevalle van messtekery in die “township”, en dan ook die jong laaities wat hulle bes doen om hulleself en mekaar uit te wis met hulle bakleiery, dronkbestuur, bottelstekery, tik rokery en so aan. Daar was laasjaar of was dit nou die jaar voor dit die twee “hits” onder die perlemoenrampokkers, maar oor die algemeen hier leef ons nie in vrees nie.

Ten minste nie vir moorde wat jou soos weerligstrale uit die bloute uit tref nie.

Gister en vandag was die moord op “Nugget”  die groot storie.

Tydens my eerste vier gesprekke vandag met medeboorlinge hier was dit die eerste onderwerp van bespreking.

Vanoggend vat ek my kar mechanic toe, en daar staan so bekende blou bakkie.  Nugget se bakkie ? Ja.

So gaan dit.

Die polisie het ‘n verdagte tuinwerker gevang, maar niemand is 100% seker dat dit hy was nie.

Hulle wag vir bloedtoetse, om te sien of die bloedspatsels ooreenstem met die slagoffer s’n.

Intussen is die storie ook dat dit nie heeltemal ‘n “random” moord was nie.

He who lives by the sword …….

Nugget was nie ‘n maklike mens nie, ” he didnt call ‘n spade a spade, he called it a bloody shovel”

Daarmee wil mense nou ook nie sê dat hy dit verdien het nie. Niemand verdien om met ‘n byl in die kop gekap te word nie.

Veral verdien geen vrou om haar man met ‘n byl in die kop in die bed te kry nie.

‘n Ander kennis op die dorp, ook nie ‘n “maklike” ou nie, reken hy gaan nou allerhande elektriese drade, alarms, en sulke goed om sy huis sit.

“Jy weet nooit watter tik kop het jy kwaad gemaak nie, ons bly in ‘n fucked up dorp”

Hy is natuurlik ook nie iemand wat skroom om met ‘n erge of selfs ‘n minder erge meningsverskil die naaste glas of bottel te gryp, en sy teisteraar te “deface” nie.

Heel toevallig, het daar Saterdag ook ‘n sms rond getrek. Hier is ‘n paar ouens was ‘n tak vir die Suidlanders wil stig.

Verbasend genoeg word ek ook uitgenooi, en wend my toe maar tot die interwebs om eintlik te sien waaroor die Suidlanders gaan…..  O aaardetjie toggie.

Nag van die lang messe !

Hier by ons sal mense beter verstaan as hulle dit die nag van gebreekte bottels noem.

Ek sien die Suidlanders is nogal gesteld op skoon taal, soberheid en sulke deugde, en heeltemal gekant teen sondige plekke soos dobbelhuise en so aan,  maar kyk, in ons dorp was ek nou glad nie verbaas dat die sms uitnodiging afkomstig was van die eienaar van die mees berugte kroeg , kompleet met dobbelmasjiene,  rowwe klante, gevegte en so aan nie.

Lyk my die Suidlanders se visoene en inligtingstelsels het hulle hierdie keer bietjie in die steek gelaat, en eintlik wou ek uit nuuskierigheid hulle vergadering gaan bywoon.

Aan die anderkant weer, mens kan seker alles wat jy wil weet op hulle webwerf lees.

Ons dorp die mag klein wees, maar vervelig, aikona.

Die ouens sal vanaand ‘n dop ter nagedagtenis aan ou Nugget drink.

U2

Februarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Natuurlik het ek ook gegaan.

 

Nie dat ek so geweldige U2 ondersteuner is of was nie, ‘n paar vriende het gegaan, een het kop uitgetrek, en hulle wil weet of ek die kaartjie wil oorneem? Ja wat, sal interessant wees om te sien. Nie net te sien nie, maar te beleef. Iemand SMS my, WAT!? jy gaan in ‘n crowd van 70 000 wees, is jy mal?

 

Dit was ‘n belewenis. Die hele ding. Voor, tydens en na.

 

claw

 

“The Claw” by ‘n ander plek, maar dit het Vrydagaand ook so gelyk.

 

 

Die vertoning self was miskien vergelykbaar met ‘n Verhoeven fliek, storielyn nie so fantasties nie, maar die effekte wel, en die konteks en die ding as geheel die moeite werd.

 

Hoog op in die pawiljoen waar ons gesit het was die klank net okay, nie goed nie. Ek het nie eers geweet waar ons gaan sit nie,anders het ek beslis ‘n verkyker gebring. So by so was ons toe uitgelewer aan wat ookal die kameramanne op die GROOT skerm gewys het, want die mannetjies op die verhoog was piep klein vanuit my perspektief. Ja, mens kon uitmaak dat daar outjies moontlik kitaarspeel en sing op die verhoog, maar dit kon netsowel alles ‘n opname met goeie mimiek gewees het. Ons het maar TV gekyk.

 

Die groot TV skerm, en dit is nie sommer net ‘n gewone “big screen” nie, die ding bestaan uit selle, amper soos ‘n heuningkoek, kan konsertina ook. Op en af, en groter en kleiner ensovoorts.

 

Indrukwekkende tegnologie, die hele stel, die beligting, die volgepakte stadion

 

“Celebrity is currency, so I wanted to use mine effectively.”

 

Nou ja, dan kan mens seker aktivisties wees as jy wil.

 

Morné du Plessis het dit jare gelede al gesê. Hy was altyd verbaas dat die feit dat hy goed rugby gespeel het hom oombliklik tot ‘n ekspert op alles gepromoveer het. Mense wou gedurig sy mening oor allerhande goed hê, hy dag eers hy sal maar sy bek hou, maar die mense druk hom so dan gebruik jy maar die geleentheid.

 

Aung San Suu Kyi van Burma het vervolgens “gefeature”, en nader tuis is Tutu en Mandela ook vir die vertoning gebruik. Altans beeld en klankmateriaal van hulle.

 

”Don’t forget about my sisters and brothers,’ she says, ‘2300 political prisoners still in the jails of Burma for the crime of believing an election result.’ So we will not forget…”

 

‘n Een en ander oor vigs en malaria. Die onderste twee Bono aanhalings kom nie uit Vrydagaand se vertoning nie, maar verskaf bietjie insig in Bono se denkwyse.

“Look at what happened in Southeast Asia with the Tsunami. 150,000 lives lost to the greatest misnomer of all misnomers, mother nature.” Well, in Africa, 150,000 lives are lost every month. A tsunami every month. And it’s a completely avoidable catastrophe.”

 

Oor waar hulle geld gee:

 

“We have to have a very simple standard of doing business, which is: If you are not tackling corruption, if you are not allowing civil society to do their job, we are not giving you any money. Outside of famine, and outside of those kinds of catastrophes, which need money pumped in no matter who’s in charge. We are not marching the streets to redecorate presidential palaces for anyone.”

 

Dink nie hulle gaan geld gee vir die joef lieg se feeste nie.

 

Bono is ook maar versigtig, oor Zimbawe en onbevoegde politici Afrika rep hy geen woord nie, behalwe nou dat hy nie vir korruptes geld gee nie, maar Afrika word nie uitgesonder nie, dis ‘n generiese stelling.

 

Ek wou eers niks oor ons plaaslike kansvatter Steve Hofmeyer se publisiteitsfoefie sê nie, maar aangesien Bono vir Mandela en Tutu gebruik om sy “show” bietjie woema te gee, kan Steve seker bietjie op Bono se rug ook probeer ry… oo weë en daar weet Bono nie eintlik wie de fok Steve Hofmeyer is nie.

 

Het Steve regtig gedink hy moes daar gespeel het? Soos Arno Carstens en die “nudies”? huh?

 

Op sy beste bly ou Steve maar ‘n doos.

 

Ek is darem by dat ek een van die dae op ‘n klein konsert na Albert Frost, Dan Patlansky, Bra Piet en kie ( Tony G ook) kan gaan luister… binne trefafstand van ‘n tamatie… nie dat ek hulle met ‘n tamatie sou wou gooi nie, inteendeel. Ek sê maar net.

 

Big Blues fees is in Kleinmond op 4 en 5 Maart.

 

Groen Kalahari

Februarie 18, 2011 in Sonder kategorie

Die Kalahari is eintlik ‘n woestyn, maar nie altyd nie.Presies ‘n week gelede het drie van ons die pad gevat. Clanwilliam, Calvinia – uitstekende espresso daar, Kenhardt, Upington, Twee Rivieren.

Die twee riviere is die Nossob en die Auob in die Kgaligadi oorgrens park, amper 4 miljoen hektaar.

Hier is die leeustorie.

Leeus se normale dagprogram, maar moenie dink hulle is vas aan die slaap nie.

slaap

 

vlak

‘n Vlakhaas het bietjie nader gekom, en oombliklik word hy bekruip, maar junior is te stadig … todat ‘n muishond gewaar word…. onder ‘n bos.

bos

Almal kom by vir die speletjie. Ma ook, net die ou manne lê eenkant en slaap.

vang

Muishond word aan die stert gevang.

aksie

Groot aksie.

 

boom

In die spelery kom muishond weg, en vlieg op in die boom.

 

leeu

Teen die tyd het MENEER agtergekom daar is bietjie aksie en verwerdig hom om op te kyk en te loer 

wat aangaan.

cheetah

springbokke

Daar is hier en daar ‘n jagluiperd ook, maar die Springbokke geniet die gras.

 

nat

Soms is die Kalahari sommer baie nat.

Die laaste 3 fotos is sommer met my selfoon geneem, ek wou sien hoe dit uitkom.

Skipskop

Februarie 9, 2011 in Sonder kategorie

Vroeg Saterdagoggend sleep ons verby Pearlie beach, Buffeljags, Die Dam, en sny deur net voor Wolvengat. So  10 km voor Struisbaai bars die band, maar dit was op ‘n “straight”, so  daar was nie skade nie, behalwe die verwoeste “tyre”. Half agt lanseer ons die bootjie by Struisbaai.


Die Suidoos waai redelik, en dis ‘n lang ent Skipskop toe.


Waenhuiskrans se sleephelling is baie nader, maar dit is die slegste helling in Suid Afrika.  Ons vaar liewers die ekstra 22 km tussen  Struisbaai en Waenhuiskrans. Om die punt verander die water se kleur na so ligte turkoois, so gladde see.  Nog 10 km verder was ons voor die toetsbaan. 

Die gewraakte missile toetsbaan. Skipskop se einde. “Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop, more gaan ons weg.”  Daardie hartseer besigheid.



Maar ons het omtrent net voor Skipskop anker gegooi, en wag vir ta om te kom. Ons lok hom darem so bietjie.


En sy kom toe. ‘n Skoon , vaartbelynde 3 meter.


 

‘n Hele swerm Stormswaeltjies fladder rond, enetjie bokant die haai.


 

Swartpoot Stormswawels.

 

Die haai het ‘n ligte prikkie gekry. Mission accomplished.


 

maar wat ken ek anders
as die bloudam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
maar verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
en sê maar so long Skipskop, Skipskop sê goodbye

Ondersoekende joernalistiek is morsdood.

Februarie 8, 2011 in Sonder kategorie

Daar sluk die stelsel my inskrywing!  Alles my eie skuld. Ek skryf dit maar oor.

Media 24 besit en verskaf die infrastruktuur wat dit vir ons moontlik maak om gratis hier te blog. Hulle besit ook al die belangrike Afrikaanse koerante en tydskrifte, Die Rapport, Beeld, Huisgenoot en natuurlik Die Burger.

Heeldag moan en bitch hulle dat die gedrukte media veld verloor, nie meer winsgewend is nie ensovoorts, en het allerhande redes en verskonings daarvoor.

Die stand van die ekonomie, die internet, die adverteerders ensovoorts. Swak joernalistiek, en patetiese beriggewing word NOOIT deur hulle as ‘n moontlike rede genoem nie.

Die gehalte van ‘n koerant kom van bo af. Die grootbase stel die redakteur aan. Wat die redakteur se job is, is is onduidelik. Ons weet hy moet gaan cocktails drink saam met die Woordfees mense, en ook op ‘n foto saam met Boet Troskie pose om ‘n skenking vir die Kersfonds in ontvangs te neem. Alles baie mooi.

Ongelukkig word die belangrikste ding van die koerant heeltemal afgeskeep. Gehalte beriggewing. Wanneer was daar laas ‘n regte egte skoop ? Hoekom is die gehalte van die verslaggewing so swak. Bestaan daar nog iets soos ondersoekende joernalisme?

Hier in my geweste, dit is nou die landelike streke van die Wes Kaap, is Die Burger die belangrikste koerant.

So hier breek ‘n storie.  Aanranding by ‘n “spogskool”. Die insident by die Paarl Gimnasium koshuis. Huis mcFarlane.

In die Boland en Overberg stuur baie mense hulle kinders koshuis toe in die Paarl. Uiters relevante storie vir hierdie geweste.

‘n Goeie ondersoekende joernalis sou al LAAANKAL agter die kap van die byl gekom het.

Nie net op bladsy 4 tevrede gewees het om die skool se amptelike verklaring gedeeltelik te plaas nie.

Daar is verskeie vrae. Die skoolraad se amptelike verklaring praat van “beweerde” aanrading. Beweerde aanranding? Sou klein Dawid-Hendrik homself op sy knaters geskop het?

Die enigste vrae is : Waar het die aanranding plaasgevind? Wie was die aanvallers? Motief?

By ‘n paartie in die dorp 10 dae gelede?  of in die vroeë oggendure in die koshuis die daaropvolgende Dinsdag.

Vind daar gereelde viktimisasie in die koshuis plaas? Wat is die storie?

Hoekom is daar nog nie ‘n klagte by die SAPD ingedien nie, gestel iemand het geval en sy nek gebreek, sou hulle dan ook probeer toesmeer? Of wat?

Met goeie ondersoekende joernalistiek sou Die Burger teen Saterdag al ‘n skoop gehad het.

Mense sou geweet het.

Wat het ons tot dusver? Net spekulasie. Ons moet wag vir die amptelike ondersoek. By Die Burger sit hulle ook op hulle vet gatte en wag.  Wat doen die sogenaamde joernaliste by die koerant?

Lyk my klein Dawid-Hendrik het een bal meer as Bun.

We are Stardust

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

Uit Joni Mitchell se liedjie “Woodstock”.

Crosby, Stills, Nash & Young se Déjà Vu weergawe is my gunsteling.  

So 2012 kruip nader, ons lees van aardverwarming , rampe, die arabiese wêreld is besig om op sy kop te draai en niemand  kan sê hoe dit gaan uitdraai nie.  Mense hoor stemme, sien visioene, kry allerhande gevoelens, en ons bespiegel oor “die wetenskap”. 

Mens kan jou altyd verkyk, of liewer verluister na ‘n charismatiese spreker.  Gewoonlik is hulle politici of  priesters van soorte. Amper nooit is dit wetenskaplikes nie.

Charismatiese sprekers het ook die gewoonte om allerhande absolute twak te praat. Dink maar aan ons geliefde Julias van houtwerkfaam, of Hitler of ……

Hier is Dr Neil deGrasse Tyson. Hy is nie net ‘n gewone sterrekundige nie, maar ‘n astro-fisikus.  Baie charismaties, dit is nogal nie aldag dat ‘n charismatiese spreker sin praat nie.

Op hierdie blogs is daar telkens dogmatiese verwysings na  “die wetenskap”  en ontvang gewoonlik die blaam vir mense se tekortkomings.  

Dit is soos om die klip te blameer vir die feit dat Kain dit gebruik het hom Abel se kop te verbrysel.

Ek haal maar weer hierdie stukkie aan:

“Sover is die wetenskaplike manier van dink die mees kultureel transendeerbare en neutrale manier van verkenning van die werklikheid wat vir die mensdom beskikbaar is.”

En ek las my eie stertjie by  – die geskrifte van mense wat stemme in hulle koppe hoor praat het, verskaf geen antwoorde nie.  Dieselfde geld vir “sieners” met hulle visioene … en nie almal van hulle was op 9 jarige ouderdom disnis gegooi met ‘n klip nie.

Hier verduidelik DeGrasse Tyson dat  ons regtig “stardust” is. Onder andere. As jy wil weet wie die slimste man ooit was en hoekom, kyk die video.

 

Wat is die vierkantswortel van ‘n varktjop?

Ons heelal is ook nie so vriendelike plek nie, selfs ons liewe ou aarde is nie so hunky dory as wat ons gedink het nie.

O ja, verder, vergeet van 2012, dis die meteoriet  wat ons in 2036 gaan tref, waaroor ons moet worry. Eintlik nie ons nie, maar moenie  op Malibu beach gaan uithang op 13 April 2036 nie.

Niemand dink “Die Wetenskap” het al die antwoorde nie, maar die antwoorde wat ons wel het, het na ons gekom deur die wetenskaplike  denkwyse.

As jy regtig wil sien watter twak die hele 2012 storie is, klik hier.

Voor die Kopstorie begin.

Februarie 1, 2011 in Sonder kategorie

Gisteraand wou ek eers iets skryf oor sterretjies, maar dink nog eers bietjie daaroor.

Vir nou gaan ek eers net een van die mees briljante Afrikaners ooit aanhaal:

“Wat ons wetenskap noem, is ‘n manier van dink oor die werklikheid wat die mees gedissiplineerde opbreek van die wêreld is waartoe mense tot nog toe in staat was.

Hierdie kennis kan verwoord en oorgedra word op so ‘n wyse dat meer as een mens dit op dieselfde manier kan verstaan.

Dit beteken nie nie dat hierdie kennis onfeilbaar of die finale woord oor alles is nie.

Sover is die wetenskaplike manier van dink die mees kultureel transendeerbare en neutrale manier van verkenning van die werklikheid wat vir die mensdom beskikbaar is.

Hierdie feit maak my skepties oor die standpunt van radikale relativisme dat ons individueel verstrik is in die konstruksies van ons eie bewussyn en dat ‘n gedeelde ervaring van die werklikheid nooit op ‘n verstaanbare manier oorgedra kan word nie.”

* * *

Hiermee volstaan ek vir nou.

Baie van die lesers sal dadelik weet wie se woorde hierbo staan, maar ek sê nie nou nie, want mens moet miskien net oor die woorde dink as wie dit gesê het.

Ek sal natuurlik bietjie later die aap volledig uit die mou laat.

Hierdie is nog maar deel van die Proloog.