Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Onthouding op oujaarsaand

Desember 30, 2010 in Sonder kategorie

‘n Geheelonthouer is iemand wat oujaarsaand in sy geheel kan onthou.

Power band

Desember 26, 2010 in Sonder kategorie

Gewoonlik voel ek ‘n veer vir hierdie goed, maar behalwe omtrent die helfte van die SA krieketspan, dra die Jaagduiwel ook deesdae ‘n “powerband bracelet”.

Ongetwyfeld omdat Rubens Baricello ook ene dra.

‘n Regte egte Power Band kos meer as R 400.

Daar is ook die nagemaakte powerbands vir veel minder, omtrent R 130 een.

Noodwendig is daar mense wat nou bekommerd is oor of hulle dalk verneuk word as hulle ‘n goedkoper powerband koop.

Dit is nou ‘n R 130 een teenoor ‘n regte egte een teen R 400 plus.

Wat doen ‘n powerband ?

Dit is vir mense wat graag hulle balans, energievlakke, pyne en skete en wie weet wat nog alles wil verbeter. Hier nou ‘n produk wat beslis net so goed soos Tim Jan se Wondersap sal werk.

In die geval van die R 130 fake armband, gaan hy moontlik nie werk nie, en het jy jou geld eintlik maar gemors…., tog het ek na intensiewe navorsing hierdie handige gids saamgestel wat jou teen verneukery kan help.

Dus :  hoe om te weet of jy verneuk word of nie :

Eerstens moet ons ‘n klein bietjie besin oor die term “verneuk”:

Dit is byvoorbeeld wanneer mens nogal ‘n redelike bedrag betaal vir ‘n stukkie plastiek met ‘n sticker op, en wat nou nie die verlangde resultate het nie. Maw jou rumatiek en artiritis is net so erg soos voorheen, en jou balans net so versteurd soos altyd. Jou breingolwe ook.

powerband

1. Die oorspronklike “Power Band’ arm bandjie teen R 400 plus aangekoop direk vanaf powerband se webwerf.

    Jy word verneuk, en het R 400 plus vir simpel twak betaal. Jy is ‘n sucker.

2. Jy koop die bandjie by ‘n verspeider, soos byvoorbeeld die naturopatiese afdeling van jou plaaslike apteek vir R 350 plus of so.

   Jy word verneuk, die ouens het jou so pas uit R 350 plus bedonner. Jy is ook ‘n sucker.

3. Jy koop ‘n namaaksel van die powerband teen R 130.

   Jy word verneuk, net soos in bogenoemde voorbeelde, maar jy spaar darem meer as R 200.
 
  Jy is ook ‘n sucker, maar nie so groot sucker soos die mense wat R 350 en R 400 vir ‘n nuttelose stukkie plastiek met ‘n sticker op betaal het nie.

Ten minste het jy dieselfde plasebo gekoop teen minder as die helfte van die prys.

placebo

‘n Halfprys plasebo is beter as ‘n volprys plasebo.

Okay , geen van hierdie “powerband” armbande werk nie, die enigste manier om nie verneuk te word nie, is om een verniet te kry. byvoorbeeld in die asblik of iewers waar iemand dit weggegooi het.. of om een persent te kry by een of ander swaap wat actually goeie geld vir die pot snot betaal het.

Ten slotte : Powerband was regtens verplig om hierdie advertensie in die Australiese pers te plaas na verskeie klagtes :

Hulle erken hulle is ‘n spul liegbekke wat mense verneuk het

ad

Dr Tim Noakes het vandag in Die Rapport ook bevestig dat die hele ding ‘n verneukspul is.  Ek kan net nie verstaan wat mense vir hierdie soort verneukery laat val nie.

Die yskoue blou see

Desember 22, 2010 in Sonder kategorie

Na al hierdie jaar se rondlopery bly ek net hier by die huis.

Ek het eers beplan om op ‘n werklik stokou skip, die Liemba, te gaan seil op die Tanganjika meer, maar is nie nou lus vir so helse mission nie, netnou breek die enjins weer dan sit ek vas in Mpulungu vir wie weet hoe lank. Ek sal liewers hier chill as in Mpulungu.

Anyway, bietjie rondplas in die see is dus aan die orde van die dag, maar hel die suidoos waai ‘n hond uit ‘n bos uit.

Die Suidoos doen hoofsaaklik 2 goed. Reën in Transvaal, en maak die water hier baie baie koud.

Vrydagaand vertel iemand vir my die water by Pringlebaai is so kristal helder. Oneindige sig. Die resultaat van die Sedoos se waaiery. Miskien dink julle nou die Suidoos doen ‘n derde ding, naamlik maak die water skoon, maar dit is nie noodwendig so nie. Hy maak die water op partyplekke skoon en ander nie. Hy maak die wasgoed ook vinniger droog of miskien ook nie , veral nie as dit ‘n swart suidoos is nie.

Nevermaaind. I digress.

Die yskoue see. Soos veroorsaak deur baie suidoos.

Alhoewel die kreefseisoen al sedert middel November oop is, was ek te lui om te gaan duik.

So, na Vrydagaand se nuus oor die hiperskoon water, ry ek toe maar Pringlebaai toe, en spring in by die punt. Die sig was maar gewoonweg, en matig koud. Daar was kreef, maar nie dik nie. Darem genoeg vir ‘n kwotatjie, en ook maar net net size.

ja wel, ten minste kan ek sê dat ek by Pringlebaai ‘n draai gemaak het, die water by Bettiesbaai, net voor Pinglebaai, was wel so turkoois blou soos op daai fotos van Mauritius.

Raait, Sondag het ek gerus en niks gedoen nie.

Vir Maandag het ek ook een of ander verskoning gehad, maar gister, dis nou Dinsdag het ek my gewone plek van laasjaar naby Onrus gaan duik.. en liewe knersus.. was die water koud !!!

Eers in die sloepie voel jy mmm, dis kouerig, maar dan kom mens by so plek waar die nuwe water inspoel, toe begin die koue byt… eers jou wangbene, en dan jou kakebeen, en dan jou hande. En agter by jou nek begin die water deursyfer.

En die kreef was swak. Vir veel langer as ‘n uur was dit nodig om daar agter rond te swem, en rotsskeure te fynkam. Waar die krewe veronderstel was om te wees, was hulle nie. Nie eers kleintjies nie, en daar was geen manier om terug wal toe te gaan met niks nie. Heeltemal buite die kwessie.

Die oefenkamp het vanjaar erg agterweë gebly, noodwendig is daar nie sprake van fiksheid en uithouvermoë nie. Slegs ego.

En dit raak kouer en kouer. Naderhand is daar ‘n kreef hier en daar, maar ratsheid, ko-ordinasie en handvaardigheid is weg. Die koue doen dit. Die krewe is egter gewoond aan die koue water, en hulle spring rats dieper in hulle gate en skeure in, en dan voel voel jy hulle soort van met jou vingerpunte diep onder in die skeur, maar kan nie ‘n greep kry nie, en intussen wil jou longe bars, en soek jy weer asem. Dan is daar nog die deining, en die bamboes wat verby gesleur word, en wat jou ook wil wegsleur van die skeur waar jy die kreef probeer voel met jou vingerpunte.

Uiteindelik, en uiters gatvol kry ek toe ten einde laaste die vierde kreef, en verkas land toe.

Sit toe maar daar op die sand teen ‘n rots en probeer bietjie warm word. Die karavaanpark op Onrus is nog soos altyd, so daar was darem tyd vir ‘n bier of so…..

Ek recover nou nog van gister se koudkry, maar een ding is seker… ek het ‘n fireproof kuur vir slapeloosheid herontdek.

Moord en doodslag

Desember 9, 2010 in Sonder kategorie

Laat in die tagtigs ry ek toe met die bakkie se linkervoorwiel in ‘n gat in.

‘n Put, om presies te wees.

Laatmiddag, sterk skemer.

Noodtoestande was landwyd van krag. Veral in die Oos Kaap.

My bakkie met die wiel in die put was in die Transkei.

Ek was besig om ‘n kortpad te vat, en het sommer so deur die veld na ‘n driffie gery, was nie lus vir die helse wye draai nie.

Daar sit ek toe.

‘n Put beteken natuurlik mense.

Stap na die naaste kraal toe. Natuurlik hulle put waarin ek vasgesit het.

Hulle help my maar toe daaruit.

Ek wonder toe oor die span jongetjies met die knopkieries, assegaaie, pangas en byle wat my vroeër die middag gestop het.

Hulle was baie opgewonde en op pad iewers heen om iemand te gaan opdonner.. of iets. Ek het hulle maar ‘n lift gegee.

Ek het darem nie later in die koerante van enige slagting gelees nie.

Die jaar is nou 2010 amper 2011.

Ek ry nog steeds agterpaadjies in die Transkei. Fokkit, laasjaar op Kersdag teen laat skemer amper donker is ek al weer in ‘n helse situasie. Weer op ‘n donnerse agterpaadjie. Nie alleen nie, 2 van my kinders is by my, Tienks was toe 15 en die Jaagduiwel pas 18.

Weer ‘n kortpad, maar dit reen en alles is modderig. Ek probeer so agtertom ‘n stroois ry, maar die voertuig gly net, en gly net.

Gou is die hele donnerse kraal daar, een dronker as die ander, ek probeer om uit te reverse sonder om die ou se stroois heel vaktap te stamp. Hy is moerig en sê my hy is die hoofman. Hy is ook dronk, en ek gee hom maar my enigste bottel soetes.

Obviously het ons ook uit daardie pekel gekom, en baie later die aand in Koffiebaai uitgekom.

So maand of wat gelede is ek weer met so ander agterpaadjie, hierdie keer in Zimbabwe. Halfpad tussen Karoi en Binga. Op pad in Matusodona toe. Half tien die aand kry ek weereens ‘n pap wiel, maar ek ruil maar om, en donner voort.

Kom toe so teen 11 uur die aand by sulke klippe en goed in die pad, mens moet soort van in die bos indraai.. dan kom jy by so vaktap huis uit, waar ouens met AK’s uitkom… dan vra jy hulle maar of dit okay is dat jy net daar langs hulle kamp.

Dan sê hulle ja dit is, hulle het net nie water nie, maar andersins sê hulle kan ek veilig kamp, en hoef ek nie te worry nie.

In Suid Afrika is daar heeltemal te veel misdaad. Veral geweldsmisdaad  – moorde , verkragting en ernstige aanranding neem kommerwekkende afmetings aan. Veral al die moorde, wat insluit plaasmoorde met rassistiese ondertone is iets afgrysliks.

Ek is net verstom oor die idiotiese klomp twak wat mense op die blogs daaroor skryf.

Persvryheid en lekkasies

Desember 2, 2010 in Sonder kategorie

Vandag se uitgawe van “Die Burger” is nogal koddig.

Eerstens publiseer hulle “Sisulu se geheime verslag” op die voorblad, en dan skryf die intellektuele reus van ‘n redakteur die volgende :

“WikiLeaks kan ook die teenoorgestelde bereik van wat sy bedoeling was omdat regerings hierdie massale lek kan gebruik om groter geheimhouding te regverdig.

Ironies genoeg kan WikiLeaks se stigter, mnr. Julian Assange, van presies dieselfde beskuldig word as waarvan hy Amerika beskuldig.

Hy het die mag om die inligting openbaar te maak, maar hoef nie verantwoording daarvoor te doen nie.

Dit is presies sy regverdiging vir wat WikiLeaks gedoen het.”

Bla bla bla en bla.

Net soos die lek van Sisulu se verslag, en die publikasie van die belangrikste punte “groter geheimhouding gaan regverdig” ?

“Die Huisgenoot” en ” Die Burger”  behoort aan Media 24.  So ook hierdie blogs, ons blogs hier word geborg deur Media 24.

‘n Mens moet seker soms ook berig oor jou kollegas se flaters.  Ahaa!!!! … kom dit vanuit die hoë kantore daar voor by die see in Kaapstad … maar Esmaré moet verantwoording doen !!!! en  Julian Assange nie.

“Kaapstad – Esmaré Weideman, hoofredakteur van die tydskrifte Huisgenoot, You en Drum, het “’n oneerlike bedoeling” gehad met die publikasie byna drie jaar gelede van ’n artikel oor die sanger Jurie Els.

In dié artikel het die sanger Robbie Klay volledig vertel van beweerde seksuele molestering deur Els toe Klay nog minderjarig was.

Dié artikel het gister daartoe gelei dat Weideman en Media24, uitgewer van dié tydskrifte, deur appèlregters B. Nugent, J. Heher en A. Maya aan minagting van die hof skuldig bevind is.

Ingevolge die appèlhof se bevel moet hulle in die Kaapstadse hooggeregshof gevonnis word.”

Ek is nie so seker of Assange hierdie keer heeltemal gaan wegkom nie, daar is 2 girls in Swede wat sê hy het hulle vekrag.. nogal goeie “timing” sou ek sê… maar nouja , wie sal weet wat die waarheid is ?

Die hele regse Amerika het eenparig ‘n fatwa uitgeroep teenl Assange. Verkieslik moet hy onverwyld teen ‘n muur gemaak staan word, en in die openbaar geskiet word.. of beter nog , hy moet op ‘n plein in Washington ge “drawn and quatered” word.. of so iets.

Wys jou net hoe mense se sienswyses afhang van hulle belange.

Spraakvryheid en vryheid van die pers is presies net dit.. en daarby moet jy staan of val .. meneer die redakteur.

Prinses Sisulu en die VSA regering moet in beginsel oor dieselfde kam geskeer word.