Snoektyd.

Julie 25, 2010 in Sonder kategorie

‘n Perfekte winter sonskyndag is mos heeltemal normaal in die binneland. Ysig koud in die vroegoggend, wit gerypte gras, maar ‘n blou blou lug en sonskyn.

Die Kaap is anders, die koue fronte moet in die winter deur storm, die een na die ander en reën saambring. Hierdie jaar is die weer traag. Dit word koud. Eintlik kouer as wat mens normaalweg sou verwag van ‘n Julie, maar nie so nat nie, en wat ons het is hierdie mooi sonskyn dae… in die middel van die winter…

Die redelik goeie see toestande gee die manne ‘n kans vir ‘n winter bonussie, en daar kom vir ‘n verandering ‘n paar “wettige” perlemoene ook uit.

Intussen loop die snoek met mening. Kleinerige snoekies. Die bote kom met duisende snoeke in.  ‘n Groter skuit kan tot vier duisend van hierdie klein snoekies inbring. Die smouse probeer die prys afstry na onder  R 4.00 ‘n snoek, maar die gemiddeld is darem R 5.00. Die smous ry dan met sy bakkie tot iewers lans die pad en verkoop die snoeke aan die publiek… of die groot vragmotor laai hulle, en gaan vries hulle vir die binnelandse mark, of gaan rook hulle of so iets.

 

As die boot inkom probeer ek altyd een of twee bo van die hoop af kry, en betaal R 10.00 ‘n snoek met ‘n smile.

Dit is belangrik om ‘n boonste snoek te kry, om twee redes. Dis die snoek wat die mees onlangste gevang was, net voor hulle lyne opgetrek het.  So daai snoek is so vars as wat hy kan wees, minder as ‘n uur gelede nog in die see rond geswem.

Tweedens het hy nie die gewig van al die ander baie snoeke bo op hom gehad nie. Die vleis het die beste tekstuur.

Vier mense kan maklik eet aan ‘n klein snoekie, en teen R 10.00 ‘n snoek is dit selfs ‘n bargain as net twee mense die snoek opeet. Vyf rand vir ‘n halwe snoek ?  bargain ! Die vlekker vra of hy die kop en die kuite kan kry, wat ek gee, hy vra nie vir geld om te vlek nie, maar ek gooi tog maar ‘n vyf rand munt in sy hempsak vir die twee snoeke se vlek. Nou werk dit uit op R 12.50 per snoek. Nog steeds ‘n absolute winskoop.

Intussen kom die perlemoenbote ook in. Moenie dink jy kan ‘n perlemoen koop nie. Nie dat ek sou wou nie. Beginsel besware.

Soos met kreef, en dit het niks met bewaring of oordrewe sin vir verantwoordelikheid te make nie. Suiwer ego aan die een kant, en dan natuurlik ook dat mens betaal nie vir iets wat jy verniet kan kry nie.. wel .. soortvan. Ja, die permitte kos geld by die poskantoor ensovoorts, maar ek praat nou nie van daai kostes nie.

Ewenwel, die perlemoene kan jy net by ‘n gelisensieerde handelaar koop, en dan teen die internasionale markprys. Die fabriek betaal die duikers R 300 ‘n kilo in die dop. Hulle het net twee dae nodig om die 500 kg of wat uit te haal. Nou verstaan julle die treurmare oor die kwotas. R150 000 in twee dae.

10 antwoorde op Snoektyd.

  1. kan jy vir my so ou halwe gaar snoekie faks asb……..

  2. DallaSePa het gesê op Julie 25, 2010

    Jou oë sien my drome …

  3. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    vandag was hier by my net een boot uit.

  4. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    ek maak so 🙂

  5. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    jy is reg ghaap

  6. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    🙂

  7. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    vandag storm die wind alweer!

  8. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    my vrieskas is nou woes en leeg:-)

  9. Vetjan het gesê op Julie 31, 2010

    mwah

  10. Vetjan het gesê op November 17, 2010

    haha.. ek het so ruk terug een in my vrieskas ontdek, weet nie hoe hy daar gekom het nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.