Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

High Street

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

In Engeland is daar mos omtrent in elke dorp in High street. Ek weet in Worcester is ‘n Hoog straat en as ek reg onthou was daar een in Oudtshoorn ook. Amper soos Kerk straat in elke ander dorp. Nietemin, noodwendig het Grahamstad sy High street. Kom doer onder uit die onderdorp uit en loop vas in die universiteits gebou teen die kop.  Die banke, die hof, ‘n kerk, die Albany club, die Graham hotel, allerhande winkels en ook ‘n klomp koffie en eetplekke is in High street.

Die mees opvallende vir my is al die bedelaartjies. Dit is nie net hier in High street waar 3 of 4 op die sypaadjie staan en kyk hoe drink die ryk mense koffie nie. Bo by die Setlaarsmuseum… op die museum terrein.. klaarblyklik met goedkeuring van die museummense, staan hulle ook en bedel. In die tradisie van mimiek kunstenaars , staan die kinders daar met wit gesmeerde gesigte en doen bewegings en goed.

Die dorp het ‘n sopkombuis. By van die besighede kan jy sop kaartjies koop, en dit vir die kindertjies gee, maar dit is maar ‘n halfhartige inisiatief, slegs by een plek hier bevorder hulle die skema enigsins.

Die bedelary neem toe, want mense gee geld vir die kinders, hulle vertel hulle maatjies, en more is daar twee en drie wat by elke plek staan en bedel.

Antjie Krog het nou die dag in Franschoek haar speelgoed gegooi oor die ryk mense wat met hulle kaas en wyn sit en moan..maar in Grahamstad, gaan ons haar agter die potte by die sopkombuis aantref ? Gaan sy aktief besig wees om die bedelary te stop, en vir die arm kindertjies ‘n program te organiseer?

Of is dit ‘n soort skema van die Grahamstad kunsfees organiseerders om die kinders te gebruik om mens met die armoede te konfronteer?   Al leer ons die kindertjies van kleins af om die bakhand saluut van Afrika te perpetueer.

Heeltemal gesaaid track

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

Die deftige dame net voor my in die ry praat suiwer ” Queens English”. Ons staan by so mobiele koffiestalletjie, of eerder ‘n koffiekarretjie, met ‘n “barrista” in. Kompleet met pony tail en oorbel. Die deftige dame se grys hare is perfek gedoen, en haar gesprek is met Poniestert die koffieman. Klaarblyklik veroorloof sy haar slegs enkele koppies koffie per jaar, die kaffein is vreeslik sleg vir mens se gesondheid en so aan, maar sy is so bly dat Poniestert so ‘n kundige koffiemaker is. Aangesien ek myself tot vele koffies per dag veroorloof is ek ook bly om te hoor Poniestert rooster spesiaal uitgesoekte boontjies self, en dat hy inderwaarheid ‘n koffiekoning is. Of so iets.

Die treilertjie met die koffiemasjien is binne in die 1820 Setlaars Monument geparkeer. Grahamstad. Die kunstefees is tans in volle swang. Om en by 88 of so was ek laas hier tydens die fees. Ook toevallig soos hierdie keer. Daai tyd ‘n dubbelvertoning gekyk, vir Piet Pers, Braai Nylon, Hanepoot Van Tonder en Kerkorrel.Op pad terug van die Transkei af. Hierdie keer was dit anders. As jy deftige Engelse mense wil sien moet jy in Grahamstad kom kyk. Tydens die kunstefees.

Eintlik sou dit beter gewees het as ek toegegee het aan ‘n impuls om in Bloemfontein te kyk na die Duitsland – Engeland wedstryd. Aangesien ek na die Italie-Slowakye wedstryd ‘n dag of drie tyd gehad het om terug by die huis te kom, maar soos julle weet was ek moerig vir Bloemfontein en druk deur sonder om eers by Engen se Wimpy te stop of enige so iets.

Die maroen Kombi het omtrent 60 km voor Colesberg gebreek. Omtrent twee of die km nadat ek by hulle verby gejaag het begin ek skuldig voel. Synde nou dat ek alleen in ‘n groot sterk 4×4 ry, en nie dringend by die huis hoef te wees nie. Kyk, dis kak om langs die pad te breek. Vra my.

Fok ja.

Ek span toe maar die kombi agter my in. Ek het die sleeptoue en dinge mos.

Drie van hulle klim by my in. Teater geselskap op pad Grahamstad toe. Van Pretoria af. Kom ons noem dit ontwikkelingsteater. Die arme donners het eenvoudig geen benul nie. Verstaan glad nie eers waar die hel Grahamstad is, of watter afstande eers ter sprake is nie. Die situasie is desperaat. As hulle nie Sondagoggend 11.30 vm hulle eerste opvoering opvoer nie verloor hulle die karige befondsing wat hulle het. Ek is ‘n kenner van desperate situasies. Self ‘n desperado of note. Ek het nog nie vertel van die oggend toe ek die 8 km van Morlaix na Roscoff in 45 minute moes draf om die veerboot te haal nie, met ‘n rugsak en twee surfboards nie. Of van die keer toe die bakkie in die dryfsand van die Hoarisib weggesink het nie. Of baie ander insidente. Suffice to say dat ek die t shirt het. En duidelik daar, baie duidelik was hierdie teatergeselskap se situasie FUBAR. Om dan ‘n amerikanisme te gebruik, en hulle het ‘n boer nodig gehad om ‘n plan te maak.

Okay, so by so was dit Saterdagmiddag so my reisplanne het in Colesberg verander en ek sleep hulle maar deur Middelburg toe, en Cradock, en uiteindelik tot in fokken Grahamstad, waar ek nou maar weer 22 jaar na die aand Kerkorrel-hulle in die Deanery opgetree het, my weer te midde van al die deftige Engelse lanies bevind.. en omsien na ‘n “ontwikkelings-teatergeselskap”

Behalwe “Evil Run” my geselskap se produksie, het ek darem ook na ‘n paar ander opvoerings gekyk. Terwyl ek nou hier is.

Slowakye breek deur

Junie 25, 2010 in Sonder kategorie

In al my jare van rugby ondersteuning het ek nog nooit op Ellispark gekom nie. Vandag was ek daar. Vir ‘n sokker game nogal.

Slowakye was in hulle poel heel laaste. Italie ‘n reus. Wereldbeker kampioene. Vir R10.00 het ‘n meisiekind ‘n Slowakye aanplak vlaggie teen my wang vasgegom. Voor die wedstryd, en so by so was my persent kaartjie omtrent op die middellyn.

Wat ‘n wedstryd !!!!  Ek het dit regtig geniet…en die Slowakiese outjies het hulle harte uitgespeel. Die wedstryd was spannend ‘n Briljante “cliffhanger”

Telling 3-2 in Slowakye se guns.

Fantastiese atmosfeer, die duisenende Suid-Afrikaners daar het oorwegend vir Italie ondersteun, Slowakiese ondersteuners was heeltemal in die minderheid.

Hierdie sokker wereldbeker is werklik iets besonders!

My plastiek trompet

Junie 22, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend was ek in Nelspruit waar ek my eerste geel plastiek trompet gekoop het.  aanvanklik kon ek hoegenaamd geen geluid daarmee voortbring nie. My pogings het nie op dowe ore geval nie, selfs ore wat fokken goed kan hoor, sou niks gehoor het nie, en ek wou die vuvuzela vir ‘n werkende een gaan omruil. Toe maak die verkoopsdame my naam gat, want sy blaas hom dat almal se ore tuit.

Anyway, ek koop toe maar ‘n kleiner enetjie, ‘n groene, en kom toe wel geluide produseer.

Sien , nou die dag in Bloemfontein het ek niks gehad om my span aan te moedig nie… en moreaand  is ek by die Serwie – Australie game in Nelspruit, en die volgende aand op Ellis park by die Italie- Slowakye game. My aankope vandag was dus : twee vuvuzelas, een geel pet, en SA vlag mussie, en een Chinese rip off bafana T hemp, met al die amptelike logos en goed op .. teen R 150 teenoor die FIFA gesanksioneerde R 500 of R 600 of watookal vir dieselfde hempie wat hulle omtrent R 18.00 kos om in die eerste plek te produseer.

Die stad in Suid Afrika wat die prys wen vir die gierigste gastehuiseienaars in die land is Bloemfontein…. in al my wereldbeker swerwinge wat insluit Rustenburg, Durban, Bloemfontein, Johannesburg, Pretoria en Nelspruit, wen Bloemfontein die prys.. vir daylight robbery… dan moan en bitch hulle oor misdaad in SA !?  Vir lesse hoe om mense te bedonner en te verseker hulle besoek nooit ooit weer SA nie.. gaan kyk in Bloemfontein hoe doen die gastehuise dit..  of daai skelm met die kroeg in Pretoria

Die groot kroeks in die wereldbeker besigheid is in volgorde : 1. Blatter en sy maats, 2. elke lugredery  en 3. Bloemfontein se gastehuise.

In Durban, die Suidkus, Oos Vrystaat, Nelspruit omgewing ens betaal ek normale pryse en minder… net nie in Bloemfontein nie, o nee. Blykbaar het Vrystaat toerisme vir hulle gese maal met twee en ‘n half manne….. so R 300 is nou R 750 .. en so gaan dit aan.

“Die Burger” se ombudsman oor bloggers

Junie 4, 2010 in Sonder kategorie

“Bloggers bedryf meestal nie joernalistiek nie” skryf Hendrik Coetzee, ombudsman van “Die Burger” vandag in die koerant. “Veral die koms van blogs en sosiale netwerke het ‘n nuwe soort ‘joernalistiek’ geskep”, en dan gaan hy aan met ‘n gebla bla bla oor die regte van joernaliste teenoor bloggers.

Dit is nie verbasend dat Jan rap en sy maats nie eintlik verstaan wat ‘n blogs is nie, maar as ‘n gesoute joernalis, in hierdie geval nogal die koerant se ombudsman deurmekaar raak, dan begin ek rêrig wonder ……..

Goeie fôk, watter blogger hier beskou homself as ‘n joernalis ?

Vanwaar die denkfout?

Die woord “blog” is afgelei van “web log”, dood gewoonweg, iemand wat ‘n joernaal op die web neerskryf eerder as om dit in ‘n boek of boekie te skryf.

Enige ou wat wil kan wat hy wil neerskryf op ‘n stukkie papier, dit fotostateer, by die stopstraat staan en deur die kar vensters uitdeel aan wie dit ookal wil hê?

Dit maak dit tog nie “joernalistiek” nie, en niemand verwar die pamflet van Speedy exhuast of die happy clappy sekte nommer 12 se nuutste prophesy of doom met joernalistiek nie.

Hoekom raak ‘n koerantman dan verward oor iets wat iemand op die web skryf.

‘n Web blad is tog maar net ‘n manier om iets neer te skryf, vanweë die tegnologiese aard van die web kan jy natuurlik ook beelde, klank en films oplaai.

Met die term “joernalis” verwys ek nie na sussie wat ‘n dagboekie oftewel ‘n joernaal hou nie, of boekhouer wat joernaal inskrywings maak nie, of ‘n drawwer wat ‘n joernaal of logboek byhou van sy drawwery nie.

Ek praat van ‘n verslaggewer. ‘n Nuusman of vrou met ‘n salaris wat betaal word deur ‘n koerant of radiostasie of soortgelyk. Die definisie van ‘n “joernalis” sou miskien ‘n beter onderwerp vir die ombudsman se rubriek gewees het, want ek kan al klaar insien dat mens daaroor kan redeneer.

My slotsom is dood eenvoudig dit – net so min as wat ek of jy sal dink ‘n ou met ‘n gedrukte traktaatjie op straat is ‘n joernalis, net so min sal ek of jy wat hier op die web rond surf dink enige blogger is ‘n joernalis.

Gadija en die blokkade

Junie 1, 2010 in Sonder kategorie

Me Gidija Davids, joernalis by Radio 786 “South Africa’s number One Islamic Talk Radio Station”, het sedert Sondag nog nie weer met haar familie in Strandfontein kontak gehad nie. Hulle is erg bekommerd.

Die hele Israel Gasa situasie is ‘n helse turksvy, maar dit weet ons almal al vir baie lank. Elkeen beskuldig die ander een, van dit en dat en dit en dat, aan die bo punt van die piramide sit die manipuleerders wat die situasie uitbuit.

Die eenvoudige feit is dat dit die konvooi skepe se doelwit was om die blokkade te probeer “bust”. Welwetende dat die Israeli’s hulle gaan stop, en welwetende dat mens nie deur ‘n blokkade kan bars sonder konfrontasie nie, het die organiseerders seker gemaak dat daar genoeg joernaliste aan boord was.

Voorspelbaar genoeg was daar toe konfrontasie en ‘n soldaat of soldate is aangerand en gewere is gegryp.

Noodwendig ontaard dit in ‘n skietery, volgens die nuus is nege mense doodgeskiet. Tragies maar voorspelbaar, hopelik verkeer me Davids tans net incommunicado.

Die plan van die organiseerders was tog om maksimum media aandag te verkry en hulle het die propaganda oorlog loshande gewen.

Mens kyk nou na die sirkus, die diplomatieke “krisis”, die uitsprake en die “kneejerk” reaksies, en die uiteinde ?

Hierdie wind sal ook oorwaai met geen party ‘n mikrometer nader aan enige oplossing vir die probleem nie.

Statisties is die kans dat me Davids ok is, meer as 98%.