Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Tyd vlieg

Maart 1, 2010 in Sonder kategorie

So mors ek op hierdie goeie Maandag rond by die blogs terwyl ek eintlik moet werk.

Gisteraand het Kleinsus ons afspraak kanselleer met skoolwerk (3 toetse) en Sondagskool as redes. Klaarblyklik het hulle in die aand Sondagskool. Ek sal my van verdere kommentaar weerhou synde die dominee daar nie my gunsteling persoon is nie, maar dit is seker nie sy skuld nie. Alles is gewoonlik my skuld, en dit is ook so dat wanneer die kinders tieners word, dan verander dinge, hulle word hulle eie mense met hulle eie planne. As jy hulle onafhanklik geprogrammeer het, dan sit jou turf.

 

Die trein na Bratislava.

Die foto is begin Maart in 2001 geneem. Blommekind is op die trein. Sy was daar omtrent 14. Kleinsus is nou 15. Van Bratislava is ons busterminaal toe. Die lug buite is blou maar die land lê wit van die sneeu. Ek het nie ‘n shengen visum gehad nie, so Blommekind moes self regkom Wene toe, en die vliegtuig SA toe kry. Ok, die bus se eerste stop in Wene was by die lughawe se voordeur, maar daar was ‘n grenspos tussen in. Ek was daai aand maar onrustig en het in die vroeë oggendure eers die trein geklim terug Praag toe. Natuurlik was sy ok. Nou groot, klaar geswot en klipsteen hardegat. Kleinsus is nie naastenby so hardegat nie, maar ek dink die aand Sondagskool is ‘n simpel idee.

 

Kleinsus dink wel dis ok om van die rotse in die see te spring, ons sal die vakansie miskien ‘n plan of twee kan maak.