Woestynleeus 2

Februarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Vrydagaand het ek toe deurgepiekel Kaap toe vir die die praatjie oor die woestynleeus. Dr Flip Stander ken nogal sy storie, hy doen al langer as 20 jaar navorsing op die leeus.

 

 

 

Ek het hierdie fotos sommer gegoogle, want ek het nog nooit een van hierdie woestynskimme gesien nie, nevermaaind afgeneem. Ek het wel al hulle spore in die Hoarisibbedding gekry.

In die vroeë tagtigs was daar heelwat woestynleeus en mense wat Torrabaai en verder noord teen die Skedelkus op was het hulle van tyd tot tyd gesien. Teen die kus het hulle aan walvis en rob karkasse gevreet.

Teen die middeltagtigs is die leeus geskiet, en het almal gedink die woestynleeus is heeltemal uitgewis. Niemand het ooit meer woestynleeus gesien nie. Gelukkig het daar ‘n klein groepie in die afgeleë hooglande anderkant Palmwag oorleef, en teen die middel negentigs het die leeubevolking bietjie groter geraaak.

Daar was relatief baie kos vir die min leeus, tweedens het toerisme in Namibië die afgelope 15 jaar ‘n bloeityd beleef.  Toerisme het ‘n baie positiewe impak op landgebruik en bewaring gehad. lewendige leeus bring meer geld in as dooie leeus, alhoewel daar soms ‘n leeu as ‘n trofee vir baie geld aan ‘n ryk buitelandse jagter verkoop word. Ongelukkig is ‘n mannetjie van 10 jaar oud nou die dag in die omgewing van Sesfontein sommer deur ‘n simpel Herero geskiet, eintlik sonder rede. Die leeu het nie sy vee gevang nie. Dit was ‘n leeu met  satteliethalsband, en Flip Stander het hierdie spesifieke leeu sedert geboorte gemonitor.

Die afgelope paar jaar was goeie reenjare in Damaraland, en die leeubevolking het gelukkig nou heelwat groter geraak, maar dit bring mens en dier uiteindelik weer in konflik met mekaar. Meer leeus moet heelwat meer prooi vang, en dit is vir ‘n leeu makliker om ‘n donkie of bees te vang as ‘n gemsbok.

Die mees interresante aspek van die praatjie het oor hierdie spesifieke leeus se jagmetodes gegaan. Die wyfies is hoogs gespesialiseerde groepsjagters, tot sewe van hulle jag saam. Elkeen het ‘n jag “posisie”. Daar is linker en regter vleuels, en “centre forwards”. Een leeu is byvoorbeeld die dominante linkervleuel. Sy sirkel altyd van die linderkant af in. Indien sy nie saam jag nie, word haar plek deur ‘n “reserwe”vleuel ingeneem, maar sodra sy saam jag, skuif die “reserwe” linkervleuel altyd oor regter vleuel toe. Altyd jag hulle so. Elkeen in hulle posisie. Hulle jag meestal in die nag, en hulle koordinasie in die donkerte is merkwaardig goed. Hulle weet presies wanneer almal in posisie is, en inisieer dan eers die jag. Voor die jag begin, kom die groep eers bymekaar, en gaan altyd deur ‘n soort speel interaksie. Amper soos ‘n rugby span wat voor die wedstyd opwarm, die bal rond gooi en skop. Die jagtergroep sal speels baklei, en dit is duidelik dat hierdie voorjag spelery op een of ander manier ‘n uitsorteer van jagposisies is. ‘n Mens sou nooit dink dat so iets moontlik is nie, maar Flip het dit al baie keer waargeneem en selfs met infrarooi video toerusting verfilm (en vir ons gewys)

Ek sal bittergraag hierdie leeus wil sien en fotos van hulle neem.

4 antwoorde op Woestynleeus 2

  1. Dis pragtig –

  2. Daar leer ek nou alweer iets, dit nooit geweet nie.

  3. Goeie blog.

  4. Ou-Top het gesê op Februarie 22, 2010

    Baie dankie vir hierdie gehalte inskrywings, ons weet so min van ons wilde diere, en hulle stryd van oorlewing saam met ons.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.