Waiters, tips en service charges
Februarie 23, 2010 in Sonder kategorie
Op my ou ramkiekie speel ek alweer deurmekaar.
Na heeltemal te veel wyn gisteraand ALWEER in ‘n bespreking/argument betrokke geraak oor verpligte “diensfooie”. Soos wat Ocean Basket in Hermanus maak as mens 6 of meer is.. dan sit hulle OUTOMATIES 10% “diensfooi” by die rekening.
Dis VERKEERD. Mens moet self die keuse kan uitoefen of jy wil tip of nie. Die beginsel is wat tel. ‘n Goeie kelner kan sommer ‘n meer as 10% tip kry, en ‘n swak een, wat gaan sigarette rook, en ‘n spesialis is om die tafel te ontwyk, lyfwegsteek, PMS het en wat nog alles kwalifiseer vir ‘n tip van een rand. Daar is ‘n boodskap in, en dis die gas se prerogatief. Punt.
In elk geval, die laataand deelnemers aan die bogenoemde diskussie, het ingesluit twee restaurant eienaars/bestuurders en een moerse slim snuiter wat blykbaar die “establishment” se weergawe van Tom Cruise in Cocktail is, of so iets. ( Tom irriteer hoeka die blou hel uit my uit)
In elk geval, my ou argument is dat as jy iewers werk, dan is dit die werk se werk om jou vir jou werk te betaal.
Byvoorbeeld, as ek spykers verkoop by Build It, dan moet Build It my betaal.
As ek in die bank werk, dan moet die bank my betaal.
As ek rakke pak by Shoprite, dan moet hulle my betaal. Ensovoorts. Julle verstaan die beginsel.
Net so, as ek ‘n kelner is in die restaurant, dan moet die restaurant my betaal. Dit is nie die gaste wat daar eet se plig om my te betaal nie. As ek my gat in rat gehad het, en mooi na die tafel gekyk het, dan sal hulle heelwaarskynlik vir my ‘n vet tip gee. ‘n dankie sê vir goeie diens. Dit is ‘n vooreg, ‘n bonus, nie ‘n loon omdat ek hulle bedien het nie.
Nou kom weet die mense hier bo genoem vir my te vertel dat dit die gaste se werk is om die kelners te betaal, en dat die arbeidswette nie van toepassing is op waiters nie. Kan nie wees nie dink ek. Google is ‘n wonderlike ding, en natuurlik is minimum lone vir waiters vasgestel (R 10.53/uur), as hulle normaalweg op Sondae werk is die ekstra een en ‘n half, en as hulle nie normaalweg op Sondae werk nie, en kom uithelp dan is dit dubbeltyd !!!!
Verder sien ek toe dat mens staan hoegenaamd nie onder enige verpligting om die ekstra diensfooi van 10% te betaal nie, al staan dit op die spyskaart geskryf. Die restaurant kan doen wat hulle wil, maar hulle kan jou nie verplig om dit te betaal nie.
Ek tip graag vir goeie diens, en soms baie meer as 20%, so as jy ‘n waiter is moenie kom warra warra warra nie. Ek is daai moeilike kliënt wat sommer GROOT TIP .. maar waiters moet wakker wees. Die beginsel is vir my baie belangrik.
Die stukkie wat almal kwaad gemaak het gisteraand was seker toe ek vir hulle gesê het dat ek stry nooit as ek nie weet ek is reg nie.
Onlangse kommentare