Jy blaai in die argief vir 2009 Maart.

Rinkhals in die kar

Maart 4, 2009 in Sonder kategorie

Daar beland die arme rinkhals toe saam met die oom en tannie in die kar.

Dis nogal ‘n storie

Die rinkhals het seker by Biyamiti kamp in die kar beland. Hierdie kamp is naby Malelane. Die oom is ‘n ware koel kalant, en toe hy die slang hier by sy bene rond sien, bly hy kalm en ry eers Hazyview toe.

Die reptielpark daar se ouens kon nie die slang kry nie. Eintlik is dit nie so vreemd nie. Slange, veral rinkhalse kan nogal in klein plekkies wegkruip.

Op pad Lydenburg toe begin ta weer om die oom se been krul. Gelukkig kon die slangvanger in Lydenburg hom uit die kar verwyder.

Volpunte aan die oom en tannie om so kalm en rustig te bly met die rinkhals wat 170 km ver saam gery het.

Gevaarlik, baie gevaarlik

Maart 2, 2009 in Sonder kategorie

Misdaad en gevaar. Moord, rowery en verkragting.

Jeremy Clarkson van Top Gear faam het ‘n baie interessante artikel geskryf oor misdaad in Johannesburg. Lees dit.

Dit is snaaks, veral die gedeeltes oor die leeus wat VIGS kry omdat hulle HIV positiewe Mosambiekers wat deur die wildtuin stap opvreet.

Ek dink die eintlike punt wat hy probeer maak is dat ons dalk in ‘n tipe psigose vasgevang is, en geweldsmisdaad te veel kop toe vat. Kyk ek weet dit gaan erg in Gauteng.

Maar vat nou hierdie voorbeeld hier in my ou dorpie.

Amper elke naweek word iemand gelem in een van die twee lokasies.

Hier was die afgelope 2 maande 2 mafia style “hits”, ‘n turf fight oor perlemoen. 2 Ouens is helder oordag doodgeskiet deur regte “hitmen”.

Geweldig erg sou mens sê.

So paar jaar gelede koop mense die huis langs my. Eerste bou hulle ‘n agt voet muur reg rondom hulle huis, en bring sulke staal rollende “shutters” voor die vensters aan. Dit word pligsgetrou saans afgerol, en elke aand gaan slaap hulle in die wete dat jy ten minste 10 kg dinamiet of iets so nodig hê om hulle fort binne te dring.

My vensters is oop want dis warm en ek hou van vars lug. Ek het nie ‘n heining, doringdraad of diefwering nie. Miskien sal ek vanaand ‘n deur sluit. Sal sien hoe ek voel. Punt is dit. Iemand kan hier inkom, my beroof en vermoor. Om eerlik te wees, laasjaar het ‘n nag sluiper die gordyne by die oop skuifdeur wegedruk, ingekom, en ‘n skootrekenaar gesteel. Seker 6 meter van waar ek lê en snork het. Ek het daaroor geblog en was erg die bliksem in.

Maar wat, daai diewe is intussen gevang, en ek reken die “odds” is ok.

My bure stem nie saam nie, en sal sekerlik kan vertel hoe erg die misdaad geraak het.

Let wel. ons woon nie in Gauteng nie, want ek kan nie agter tralies en doringdraad woon nie.

Rys

Maart 2, 2009 in Sonder kategorie

Gister by ‘n braai ‘n sushi voorgereg gehad. Rolletjies, amper soos California rolls, net die rol was groter, en toe weer dunner gesny. nevermaaind. Hierdie blog gaan eintlik oor rys.

Gewone tastic werk nie so lekker vir sushi nie, die gewone lang korrels. Maak seker nie saak of dit noodwendig tastic is nie, dis maar dieselfde as al die “no-name” soorte wat jy in die naaste supermark koop. Terloops, daar is niks krap in crab sticks nie.

Dieselfde geld paella.

Paella staan op 5 pilare. Die rys, pan, hitte, sofrito (uie, knoffel, kruie) en die aftreksel.

Terug by die rys. Die kort ronde Spaanse rys is wat mens moet gebruik. Jy sukkel om dit hier te kry.
My seekos en rys gereg wat ek maak noem ek eenvoudig dit: seekos rys. Dit is nie paella nie.

Ek gebruik gewone rys, en verder is dit vir my makliker om ‘n soort seekos potjie eenkant te maak, en die rys apart te maak. Kon seker maar pasta ook gemaak het ipv rys. Dis nog steeds alles (gewoonlik) lekker, maar paella is dit nie.

In hierdie land is ons blykbaar behep met basmati rys. Saterdag weer deur stadig deur die rys rak gekyk. Gewone lang rys korrels, bruin rys, en basmati. Die bruin rys in die goeie verpakking het omtrent 5 keer meer as die bruin rys in die plastiese sakkie gekos. Die korrels het maar dieselfde gelyk.

Daar was die regte sushi rys. Ek gaan vir die naweek se gasvrou ‘n pakkie of wat daarvan persent gee, want die regte rys maak nogal ‘n verskil.

Die nuwe kommentaar funksies

Maart 1, 2009 in Sonder kategorie

Ek sien dat 24.com die kommentaar funksionaliteit verander het, die verbetering is beslis dat jy die draad van die kommentaar baie beter kan volg.

Jare gelede, voor ADSL, en ander breëband toegang, was nuusgroepe die eerste gewilde manier van internet groep interaksie. Die draad , of in internet taal die “thread” was altyd belangrik, en die netiket destyds was om ‘n nuwe “thread” te begin wanneer jy oor iets anders wou skryf. Maw mens was nie veronderstel om ‘n gesprek “in die rede te val nie”. Ek weet nie eers of nuusgroepe vandag nog bestaan nie, maar uit ‘n “spam” oogpunt was dit toe al absoluut dodelik om deel te neem aan ‘n gesprek.

Die advertensie manne het dadelik jou e pos adres “ge-oes” , en jou doppie was geklink. Jy het honderde e pos boodskappe begin ontvang wat alles en nog wat adverteer.

“Mailing lists”  veral gemodereerde lyste het oorleef, of sal ek sê die meer spesifieke doelgerigte lyste, alhoewel die nuwe alternatiewe deesdae “faceboek” groepe en blogs is.

Om terug te kom na die nuwe kommentaar funksie,  dit is baie handig om die draad van die kommentaar te volg.. veral vir besoekers op ‘n blog.

Byvoorbeeld, gestel mens is besig om X se blog te lees, en Y lewer kommentaar.

X het nou ‘n keuse, hy/sy kan die kommentaar beantwoord iewers op Y se blog, of hy/sy kan die kommentaar se draad behou en in die nuwe funksionaliteit gebruik, die draad van die inskrywing en kommentaar behou, en die kommentaar beantwoord met die nuwe funksie. Lesers A,B en C kan nou die kommentare op X se blog volg en die konteks beter verstaan.

Soms is ek self eenvoudig lui om vir iemand te e mail , en los ek sommer vir hom/haar iewers op ‘n  inskrywing ( gewoonlik darem ‘n ouer een) ‘n kommentaar, terwyl ek eintlik goed weet die regte of beste metode is om of a “spaces” boodskap of ‘n e mail te stuur.

Nou dat die nuwe kommentaar stelsel bestaan sal ek poog om minder lui te wees, en beter internet maniere te handhaaf.