Boereraat met vratte

Februarie 23, 2009 in Sonder kategorie

Die verkeerde hantering van ‘n padda sou blykbaar vratte veroorsaak. Dit is wat ons destyds vir mekaar vertel het. Lank terug. Ek het nooit vratte gehad nie, juis vanweë die sorg waarmee ek paddas hanteer het.

Nou die dag groei daar toe wragtig ‘n vrat hier op die waai van my linkerhand. Ek kan nou nie onthou dat ek juis daar met my linkerhand ‘n padda hanteer het nie, maar die vrat het gegroei.

Soos julle weet was Vrydagaand se Stormers game nogal spannend. Ek bly in die Wes Kaap so my span is die Stormers.. dis nou maar hoe dit is.

Soos Queensland stadig maar seker ‘n allemintige “comeback” maak, so begin ‘n paar van ons harder met Mnr Jameson praat. Die Ier. Die goue vog met die rokerige smaak. Van die ander ouens het met Mnr Daniels ook gepraat, ensovoorts. Ek weet julle sal verstaan.

Op ‘n stadium noem ek aan my maat dat ek nou gatvol is vir hierdie vrat, en daarmee ‘n plan wil maak.

So word die hele mediese prosedure uitgelê.

Die dokter, vertel hy vir my, gaan die vrat afbrand of af vries. Of met laser strale, of ‘n verskriklike suur of dalk stikstof. Die stikstof mag miskien vriesend koud wees, maar op die einde is dit ook maar brand.

Dit gaan honderde indien nie duisende rande kos.

Maar hy het ‘n beter plan. Ons kan dit sommer dan en daar doen … heeltemal verniet … net as dit werk moet ek nog meer drank koop… voor die tyd. Meer vir my .. narkose, en vir hom as toesighouer.

Die sigaret metode. Ek rook nie. Maar gou word sigarette aan my uitgedeel. My narkose het teen hierdie tyd ook al goed ingeskop.

Hoe dit werk : die vrat word met ‘n sigaret gebrand. Tot jy voel dit brand. Dan stop jy, en koel dit af met ‘n blokkie ys. Dan brand jy weer. Eienaardig genoeg kan jy al hoe langer brand voor dit seer brand.

Ok, na so ruk onstaan daar so blaas, en die verbrande vrat sit bo-op die blaas. Dan knip jy al om en om, en siedaar die vrat is weg. Klaarblyklik is dit min of meer wat by die dokter ook gebeur.

Wel die vrat is weg, en Saterdagoggend was my kop seerder as my hand.

Ek kan nou nie alles so mooi onthou nie, maar Vrydagaand was die prosedure relatief pynloos.

Waar die oorblyfsels van die blaas nou sit is dit natuurlik ietwat sensitief , en ek het dit net soos in die ou dae met methiolate gedokter. Alles lyk nou min of meer ok. Voel ook ok.

6 antwoorde op Boereraat met vratte

  1. adup het gesê op Februarie 23, 2009

    Smeer Tea tree olie aan glo my dit werk.Dis baie minder pynlik.

  2. eina eina eina eina eina

    ek val flou is hulle my vinger prik om my bloedsuikervlak te meet

    ek sou die vraatjie aangeneem het in my lewe, hom Frikkie noem en hoop hy is ‘n soet outjie

  3. wel, kan jy nou meer!

  4. Soe, dit klink seer!

  5. Nou het ek ook vele raad hier gekry.
    Sal maar eers die teatree olie probeer!
    Dankie.

  6. :)as n man stupid wil wees moet hy suffer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.