Die verdrinking van Jeffrie Makatô

Februarie 19, 2009 in Sonder kategorie

Antie Sara werk by my vandat haar niggie Patricia weer terug is Olifantshoek toe. Die Tswanas van Olifantshoek werk nou al jare lank hier in ons dorpie by die see, of altans ‘n paar  families van daar af.

Vanoggend vertel antie Sara vir my die storie. In haar duidelike Noord Kaapse afrikaans. Die Olifantshoekers is Tswana-Afrikaans. Jeffrie Makatô was die pa van Patricia se kind.

Jeffrie kon nie swem nie,  en het as ‘n draer gewerk in die “informele” perlemoen bedryf.

” die boere het op hulle geskiet meneer, daar anderkant by Tiergat, toe sê die duikers hulle moet in die water spring. Maar toe los die duikers hulle meneer, en toe verdrink Jeffrie. Haai meneer die goggas het sy kop lelik gevreet, dit was baie lelik”

Die perlemoensmokkelbedryf  het ‘n hierargie van betrokkenes.
Die duikers duik die perlemoene, en bring die sakke na die vlak water teen die wal. Die draers moet met die sakke in die bosse in hardloop, en na die RV, die versamelpunt neem. Hier vind die eerste inweeg plaas. Duiker en draer word per kilogram vir produksie betaal. Met die dat perlemoene nou skaars geraak het, sal ‘n draer vir sê maar 3 duikers dra , so 5 na 8 kg per duiker.

Teen R 200 per kg sal  20 kg perlemoen R 4000 oplewer. Die duikers sal dan ten minste 80% van die geld kry , en die draer omtrent 20%. Dit is nog steeds darem R 1000 vir die aand  vir die draer.
Of dit is in elk geval die losse beplanning.

Die praktyk werk altyd anders. Hoër op in die ketting is ten minste 3 middelmanne. Daar is die “boere” om altyd mee rekening te hou. Veral as daar nuwe boere kom, wat nog nie die besigheid reg verstaan nie, of ander boere wat die besigheid nie wil verstaan nie.

Dit is dan wanneer produk verlore raak, wanneer inderhaas weggevlug moet word. Soms word produk ook op krediet gelewer. Noodwendig word hierdie produk ook van tyd of tyd by padblokkades of na ‘n ge-pimpery, deur die boere afgevat. Dan is daar baie ongelukkige skuldeisers……

Die see is ook nie jou speelmaat nie. Die water is koud, daar is branders en bamboes, seestrome en haaie.

Jeffrie Makotô het 2 weke gelede verdrink.

4 antwoorde op Die verdrinking van Jeffrie Makatô

  1. is dar dan nog perlemoen oor om so te smokkel.?

  2. Vetjan het gesê op Februarie 20, 2009

    Elza, hier en daar is ‘n kolletjie met nog ‘n paar, maar stelselmatig stroop hulle die bodem leeg.

  3. Vetjan het gesê op Februarie 20, 2009

    Vertel meer van die protesoptog Maankind.

  4. Vetjan het gesê op Februarie 20, 2009

    Vormpies 🙂

Los ’n antwoord vir Vetjan. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.