Breederivier Zambezihaai

Februarie 16, 2009 in Sonder kategorie

Die Suid Afrikaanse Haai Bewarings Organisasie in Hermanus   (SASC – South African Shark Conservancy) is die dryfveer agter die Breederivier haai projek. Hulle werk ten nouste saam met die Breederivier bewarea. SASC is ‘n artikel 21 maatskappy ‘n “NGO”, sonder enige groot borge. Die organisasie leef van krummels. Hulle waardeer enige vorm van hulp.

Die “hoofmeisie” is Meag McCord, en as sy terug kom van Witsand oor ‘n week of wat, kan julle in die ou hawe in Hermanus ‘n draai by hulle plek gaan maak.

Petrus het nog altyd ‘n groot belangstelling in seelewe, en veral haaie, en vind die Breederivier Zambezi projek geweldig interressant. Daarom was dit vir hom ‘n groot plesier om ‘n paar dae op te offer om te gaan help om die haai se spoor te sny.

Die wyfiehaai is gedoop NyamiNyami – na die Zambezi riviergod. Sy is uniek om 3 redes.

Foto : Alison Towner. Bioloog by Marine Dynamics in Gansbaai.

1. Sy is ‘n wêreldrekord. Die grootste Zambezihaai wat nog ooit gevang is.
2. Sy is baie vet, en lyk erg verwagtend.
3.Voorheen is gedink dat Zambezihaaie nie verder suid as Kaap St Francis voorkom nie. Nou het ons wetenskaplik gedokumenteerde bewys dat hulle wel  verder suid  en wes voorkom. Die Breederiviermond is amper by die  Suidpunt van Afrika.

Die spoorsnyery is ‘n 2 weke projek, en die haai word vir 2 weke lank “24/7” agtervolg. Dag en nag.
Spanne met vrywilligers, ‘n span sal bestaan uit 2 of 3 lede,  werk in 4 uur skofte, en ruil dan om.

Nog ‘n nag op die rivier. Meag het die onderwater mikrofoon, en Alice skryf neer.

Die boot is Kappie Beukes van Caledon/Hermanus omgewing se ou “rubberduck”, en dit is baie gaaf van hom om die boot beskikbaar te stel, skete en al. Dit was juis een van die skete wat Petrus se avontuurindeks verhoog het toe hy Vrydag vir die beste deel van die pikswartnag op ‘n modderbank vasgesit het. Saterdagnag/Sondagoggend het Petrus en ‘n vriendin die 2-6 vm skof gedoen, en gisteraand die  6-10 nm skof.


Foto: Alison Towner

Hier word die ultrasoniese merker aan die haai vasgesteek. Dit is vir die haai maar soos ‘n oorbelletjie.

Gisteraand het sy meer as 20 km rivier op geswem. Sy het anderhant “bushpub” gaan draai , en toe weer stadig af mond se kant toe geswem.

Gistermiddag was ‘n baie mooi Sondagmiddag op die rivier. Baie rekreasionele gebruikers, vissermanne, waterskiers, “kiteboarders” , en ook swemmers. So 10 km stroomop het NyamiNyami verby swemmers geswem, hulle uitgekyk, en glad nie njam njam gegaan nie. Die span wat toe gevolg het, het die swemmers darem gou opgelaai en vir hulle na hulle boot terug geneem. Daarna het hulle haar verder stroom op gevolg.

Saterdagoggend baie vroeg het Pottie wel agtergekom waarvan Zambezihaai regtig hou.

Kabeljou !

Hierdie was ten minste ‘n honderdponder.

6 antwoorde op Breederivier Zambezihaai

  1. philvr het gesê op Februarie 16, 2009

    Jis dit is interressant !!!
    lekker dag vir jou van die sand wereld.
    PvR

  2. Vetjan het gesê op Februarie 16, 2009

    Hallo PvR, bly jy geniet die inskrywing. Sterkte in die Arabiese sand.

  3. Vetjan het gesê op Februarie 16, 2009

    Plesier Maankind.

  4. Vetjan het gesê op Februarie 16, 2009

    Hahaha Leon, Njammies. Dis toeval, maar ek gaan Meag nog baie terg oor daai een.

  5. Vetjan het gesê op Februarie 19, 2009

    Flenters, dis ‘n gewilde rivier. Stroomop het die kanoe/rubberboot ouens mos 2 kampe : “up the creek” en “round the bend”

    Die gedoente met die haaie is inderdaad baie intterresant.

  6. Oulik ek het die storie ook oor RSG gevolg

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.