Jy blaai in die argief vir 2008 Augustus.

Vreemde vis

Augustus 21, 2008 in Sonder kategorie

As ‘n eksperiment sms ek toe “Cardinal fish” na die SASSI nommer ( 0794998795)

Binne sekondes is die antwoord terug: Unidentified.

Hulle sms antwoord spekuleer verder as volg :
Cardinal seems to be an Ocean Basket marketing name for an as yet unidentified fish – possibly a farmed species.

In hierdie geval was die restaurant nie Ocean Basket nie, en ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat die vis smouse deesdae ‘n bemarkingsnaam uitgedink het vir een of ander soort vis .

Alledaagse voorbeelde hiervan is

Cape Whiting vir Stokvis ( Hake in engels)
Cape Salmon vir Geelbek ( Geelbek is glad nie deel van die salm familie nie)
Steelhead salmon vir dam forel. (trout, ten minste behoort forelle tot die salm familie)

Jare gelede het ons in die karavaanpark in Struisbaai Kraaibek (Cape Knifejaw) as Galjoen verkoop aan Kapenaars, en Roman aan mense van die binneland as Rooi Galjoen !

Die Kraaibek se ander name is ook parrot en cuckoo bass.
 
Die snaakste ding is dat ene Sam Esterhuizen van Gordonsbaai ‘n boek oor visvang en visvangplekke geskryf het ” Rock and Surf Angling in the Cape” en die Kraaibek as volg beskryf:
 
” Then you get the beaked Galjoen which is something else to understand which is very rare, but is found on the deep sea banks in the deep water and only feeds on seaweed and is a real Galjoen with a beak.
This Galjoen is always in deep water and is shot with a speargun by divers.
Local people know the real Cape Galjoen and never new(sic) the beaked Galjoen, said they don’t know if this is a real Galjoen till they tasted it on the braai.”

Ok, so nou dekades na ons verskriklik gelieg het vir die mense in die karavaanpark op Struis voel ek nie so bad daaroor dat ons Kraaibekke as Galjoen verkoop het nie. Ok, die “rooi galjoene” is nou iets anders, maar ons het selfs daarvoor repeat customers gehad, ‘n gebraaide Roman is ook glad nie sleg nie, en as jy hom in foelie toedraai met tamaties uie en speserye ens in stoom hy nogal lekker op die rooster.

Sam het sy boek self uitgegee met behulp van ‘n fotostaat masjien net soos Koos Kombuis jare gelede.
Wonder hoe groot die toeval is dat beide deesdae in Gordonsbaai woon?

By die BP in Gordonsbaai het ek Sam se “New fourth edition 2005” genommer 4786 gekoop. Kyk, kopiereg skending is ‘n ernstige ding!

Ek wil tog met ou Sam gaan praat dat ons sy boek dalk scan en as ‘n e book smous. Tans handgeskrewe, alles hoofletters, mens kan dit net so scan om die oorspronklike gees van die boek te behou.

Hier is bladsy 20 getiteld “The Perfect Angler”

 

Volhoubare Seekos

Augustus 20, 2008 in Sonder kategorie

Alhoewel Paul Watson van Sea Shepherd nie veel tyd het vir die “coporate” en burokratiese ouens nie, soos bv WWF, sit die einste WWF tog agter ‘n redelik goeie inisiatief nl. SASSI.

The Southern African Sustainable Seafood Initiative.

In die restaurant kan jy sommer die naam of soort vis waarin jy belangstel sms na
079 499 8795

Hulle sal dan ‘n boodskap terugstuur met die status van die vis.

Hierdie is nogal nuttig.

Gisteraand byvoorbeeld is ek saam met mense in ‘n restaurant in Seepunt.

Lynvis van die dag.

Cardinal fish sê die waiter.

Wat ?

Normaalweg as hulle louter snert praat in die restaurant strip ek my moer heeltemal.

Maar ek het my pose baie mooi gehou, en niks gesê nie.

Hierdie is hoe ‘n donnerse “Cardinal fish” lyk :

Dis ‘n tropiese vissie.

Dis nie [email protected]%%&* lynvis in die Kaap nie !

Liewe land. Gee my krag !

Ek het my baie goed gedra, en het geen bohaai van enige aard opgeskop nie.

Nie eers toe die buitelanders my vra of dit ‘n goeie keuse van vis sou wees nie.

Ek het my bek gehou, en dus effektief saam met die restaurant gebullshit.

Die wat vis bestel het,het gesê dit smaak lekker.

My steak was reg, ipv stysel het hulle groente gebring, ‘n moerse skep pampoen en nog ‘n helse skep room spinasie.

Die fout is dat omdat ek al 2 keer or middagete lekker geëet het daar, en dit naby aan die mense se blyplek was, het ek die plek vir hulle aanbeveel. Myself gesnoeker. Sal maar later so woordjie met hulle gaan wissel… of miskien ook nie. Sal dit enigsins help ?

SASSI se lys sê geelbek is redelik in gevaar,

Galjoen is in die rooi. Geelbek is in die oranje en snoek in die groen.

Soos ‘n robot amper.

As jy kan, eet net groen.
Oranje , versigtig nou , en rooi – moenie dit eet nie.

Galjoen, Mosselkraker en Wit Steenbras moet vermy word.
So ook ooskus kreef.

Geelbek en Kabeljou is op die oranje lys. Vermy as jy kan …. dit sal swaar gaan.

Tuna, Geelstert, Snoek en Stokvis is almal op die groen lys.

Bottervis ook, maar ek is glad nie mal oor bottervis nie. Dit is ook bittermin dat ‘n restaurant kok dit regkry om Geelstert sappig gaar te maak.

en ek weet glad nie wat se vis die mense gisteraand regtig geëet het nie.

Seekos dilemma

Augustus 20, 2008 in Sonder kategorie

Ek hou van seekos.

Daar is so 2 kg tuna in my vrieskas oor.

Vars bevrore tuna hou ok in die vrieskas. Ek het in Mei ‘n hele een gekoop op die kaai. Daai aand heeltemal te veel sashimi geëet.

Van die tuna later uitgedeel, nog meer sashimi geëet. Ook gebraaide tuna en so aan.

Die kreef is op. Ek wag vir die seisoen.

Swart en bruin mossels pluk mens sommer op die rotse. Die ware swart mossels raak min, bruin mossels neem oor. jammerte. Wit mossels trap mens nog lekker op die strand.

Lank laas oesters uitgehaal.

Ek vang nie vis nie, skiet hulle liewer. “Pre selecting the prey” Met die vis voor jou besluit jy of jy hom gaan skiet of nie.

Het ek al ‘n galjoen buite seisoen geskiet ? Ja ek het.

Het ek al te veel van een of ander seekos uitgehaal. Ja ek het.

Het hulle my al gevang en gefine? Ja dit ook.

Het baie respektabele mense al ‘n krefie of wat by my gekoop .. ja.

As studente het ons presies geweet watter restaurant soek watter seekos, ander ooms, dominees, onderwysers, boere en wie nog almal het sommer vooraf bestellings geplaas.. luister boet .. ek soek so 10 krewe asseblief .. ens.

I am guilty as hell !!!

So mense in glashuise kan nie met klippe gooi nie.

Daarom het ek niks anders as respek vir Paul Watson , die stigter van Sea Shepherd nie. www.seashepherd.org

Jagters van walvisjagters.

Hulle het al ten minste 10 onwettige walvisbote GESINK. Maar nog nooit skuldig bevind in ‘n hof nie.

Hy was ‘n stigterslid van Greenpeace maar het gewaai toe die burokrate oorgeneem het. Hy het geen erg aan organisasies soos WWF en IFAW nie.

Ons eie SAMSA het die skip Farley Mowat in Tafelbaai gearresteer, maar dit was nie moeilik vir die manne om die idiote wat deesdae SAMSA is, te flous nie. Die Farley Mowat het weer diens gedoen in die antarktiese oseaan, en die Japanese hel gegee.

Punt is , Paul Watson walks the talk

Op sy skepe is almal vegan. Geen seekos nie, ook nie vleis, melk, eiers of enige diereproduk nie.

Watson se uitspraak oor seekos:

“ I don’t eat fish because there is no such thing as sustainable fishing in the world right now

There is no industry in the world that is as wasteful, and let me tell you, commercial fisherman are the greediest stupidest people on earth.

I grew up in a fishing community and I don’t like saying that, but these people may, in the end, be the cause of our planet’s demise.”

Hard core !

Fokkit, en ek is so lief vir seekos.

Wat ‘n helse dilemma.

‘n Kreefsoppie ( niks aromat in nie …nooit nie ! )

Die prawns in die piri piri.

Inhambane

Augustus 19, 2008 in Sonder kategorie

Inhambane is die hoofstad van Inhambane provinsie in Mosambiek.

Dit is die gewildse vakansie bestemming in Mosambiek, met bekende strande soos Tofo ( uitgespreek Tôfô en nie Toufoe nie), Barra, Jangamo, Morrungulo, Pomeme en Vilankulos met die Bazaruto argipel alles in hierdie provinsie.
 
Alles binne een dagrit vanaf Johannesburg. OK, soms ‘n lang dagrit as jy vroeg genoeg begin.

Hulle het die EN1 so 5 jaar gelede begin regmaak, en die pad is nie te sleg nie. Behalwe die 80 km of so anderkant Xai Xai ( die X in Portugees is word sj uitgespreek so dis Sjai-Sjai anders as die Xai Xai in Botswana wat Gai- Gai uitgespreeg word of Khorixas in Damaraland wat Korriegas uitgespreek word)

Opvallend is hoe vernuwing deurentyd plaasvind, nuwe verf op ou mure, ‘n straat kafee in die hoofstraat waar daar 38 jaar laas een was, amper presies op dieselfde plek.

ABSA het altyd die Banco Austral besit,  maar nou is dit Barclays bank, in Mosambiek. Ek wonder hoe lank dit gaan vat voor ABSA hier ook Barclays gaan wees.

Eerste Nasionale Bank Mosambiek het intussen ook sy verskyning gemaak. Nog nie in Inhambane nie, wel op ‘n prominente straathoek in Maputo.

Pam Golding se advertensieborde is ook al op, en dit bou dat die rook draai op al wat strandoord is.

Op die kusweg in Inhambane, net daar waar hy draai het vir jare ‘n vervalle ou huis gestaan. Die perfekte plek vir ‘n seefront restaurant of so iets.

Kyk nou hier:

Hier is die ou gebou onder rekonstruksie, maar op die planne hier sal julle sien dat daar ‘n hele hotel met ‘n kaai en alles beoog word.

Hier is nogal ‘n lekker plek.

Castelo do Mar, oorkant die baai op die Linga Linga skiereiland.

Dit raak ook besig by die lughawe .

LAM vlieg direk van JHB na Inhambane toe, en Airmax vanaf Lanseria.

LAM en Transairways vlieg ook tussen Maputo, Inhambane en Vilankulos.

Hier staan ‘n klein privaat jet voor die lughawe.

Die ander vliegtuie kom en gaan.

15 Jaar gelede was Mosambiek beskou as een van die armste lande in die wêreld, saam met Somalië, en ironies genoeg het Zimbabwiërs nog ‘n ekonomie en plase gehad en vakansietyd langs die see kom uitkamp in Mosambiek.

Natuurlik is daar nog ‘n baie lang pad om te loop ….

By die waterpomp…

Maar die strande .. die strande !!

Petrus gaan surf so bietjie.

Augustus 18, 2008 in Sonder kategorie

Regte surf, nie op die net nie.

Branderry is die perfekte oefening.

Die meeste van die tyd roei jy, dikwels moet jy jou asem ophou as die branders oor jou spoel, en dan is dit ook lekker om agter die branders te sit en ontspan.

Die lekkerste gedeelte is natuurlik die ry van die branders self.

Die water in Mosambiek is lekker warm, so mens hoef nie te lol met wetsuits en goed nie.

Ek het ‘n klomp keer gaan surf, en is nogal chuffed met hoe hierdie fotos uitgekom het.

Vissers

Augustus 18, 2008 in Sonder kategorie

‘n Eenvoudige bestaan uit die see.

Die net word uitgeroei , en dan weer ingetrek.

Die nette is handgemaak. Van vislyn. Gewone gut.

Hierdie kan mens seker beskryf as kayak vissers.

Die vis word op die strand verkoop.

“n Manta het verstrengel geraak in ‘n net.

Hulle sien dit as ‘n geskenk van die see.

Tragies.

Gelukkig word elke krieseltjie gebruik.

Dhows kan gebruik word vir visvang.

Die dhow hawe by Morrumbene.

Nie baie toeriste kom hier nie. 

Ponta en die pad.

Augustus 17, 2008 in Sonder kategorie

Om lekker rond te rits het mens ‘n lekker ou karretjie nodig.

Dit is  belangrik om hier ‘n paar faktore in ag te neem vir ‘n lang reis.

Deels omdat die pad van die Kaap tot by Inhambane 2600km lank is, my bakkie effe stukkend is, was dit ‘n beter plan om Johannesburg toe te vlieg en die Nissan karretjie te huur.

Oor die petrol prys wil ek glad nie eers praat nie.

Alhoewel Nissan die X-Trial maak in ‘n 4×4 weergawe, is hierdie ene ‘n gewone 2 wiel aangedrewe karretjie. Hoekom sal mens after all vir aansienlik meer geld ‘n 4×4 gaan huur as 99% van die ryery in elk geval op harde oppervlaktes is.

Om op sand te ry is in elk geval maklik, jy blaas net die wiele af en hou momentum.

Grondvry hoogte BAIE belangrik, maw hoe hoog die aste van die grond af is ( ook ander goeters onder aan die kar soos die uitlaatpyp se boks en die sump en so). Help ook waar daar ‘n hoë middelman is. Noodwendig is mens se wiele dan ook lekker groot en kan slaggate beter hanteer.

Die Nissan X Trial is voorwiel aangedrewe, soos ‘n City Golf, en al die ander klein karretjies waarvan ek weet. In sand is dit beter om agterwiel aandrywing te hê. Die huur maatskappy het nie ander karre gehad met ‘n ordentlike groot wiele nie, behalwe die baie duur 4×4’s.

Al hierdie goed sê ek net vir agtergrond inligting.

Ek het ook glad nie soos ‘n besetene op al wat strand is gaan rondjaag nie. Streng by die reëls gehou.

Die hele Mosambiek is vol mooi strande, maar naby Inhambane is een die beste snorkelrif in Suid Mosambiek nl. Paindane. ( sal netnou by Ponta uitkom)

Hierdie foto wys so stukkie van hoe dit by Paindane is, die rif buite is ‘n breekwater.

Omdat die foto vanaf die beach bar geneem is wys dit nou nie eintlik die hele rif in sy volle glorie nie, en die dames met die bikinis het ook my aandag afgetrek.

Ok, hier is die getroue gehuurde Nissan X Trial voor die beach bar geparkeer.

Kyk hoe lekker het die karretjie op die strand gery. ( Toelaatbaar hier)

Op pad terug, op die teerpad, moet jy natuurlik jou wiele eers weer op pomp.

In ‘n baie on-streetwise oomblik het ek hierdie kêrel gevra om tyres te pomp, hy het my 100 mets, R 33.00 gecharge. Meer as R8.00 per band. Dit kan net die GP nommerplate wees wat dit laat gebeur het.

My pleidooie om redelikheid was ‘n mors van asem. Selfs al het ek aan hom uitgewys dat ek nie in Johannesburg of Pretoria woon nie.

Miskien het iemand dalk sy nefie of iemand uit die RSA verjaag, en sy tarief is ‘n soort wraak.

Of dalk het hy sy trade geleer by ‘n 2dehandse kar verkoper in Germiston of Parow.

Die EN1 is die slagaar van die ekonomie in Mosambiek.

Almal doen besigheid teen die straat, dit gaan woelig.

Piri piri word gemaak van die African Devil chillie.

Hierdie bottels het die ekstra sterk sous in.

Tentoonstelling van jou produk is noodsaaklik vir sukses.

Jy gaan verniet “mayonneso” soek tussen die piri piri.

Dit word in oa. mayonneso bottles verkoop. Van groot na klein.

Die verkoopsman hier het homself ook misgis met die GP nommerplaat.

Eeers nadat ek aan hom uitgewys het dat sy advertensiebord goedkoper pryse adverteer as wat hy mondelings voorhou, het hy teësinnig ingestem tot die geadverteerde pryse op die bord.

Die ouens hier weet ook dat ‘n verbygaande motoris eers besluit om te stop nadat hy ‘n oomblik gedink het oor die piri piri, daarom is daar elke 15 meter of so ‘n rak met bottels.

Reg, nou is ons op pad Ponta toe.

Al die Pontas, dws Ponta Dobela, Millibangalala , Malangane en Ponta D’Ouro , is suid van Maputo op pad Kosi Baai toe.

By Salamanga is daar ‘n brug, ‘n kontrolepunt en ‘n Hindu tempel. Vantevore het ek al een keer binne in gaan loer. Hulle is baie vriendelik en sal jou alles wys, maar hierdie keer was ek haastig so het verby gehou. Die wit torinkie regs behoort aan die tempel.

Nou kom mens by die Maputaland reservaat. Die Olifante is in die bos, hulle is maar sku want hulle was kwaai gejag… en daar word nog steeds van tyd tot tyd gepoach.

Naby Ponta. Maputoland het mooi gras vlaktes.

Die son trek al water.

Soms kan ‘n vurk in die pad verwarrend wees.

Na al die aksie van die vorige aand ( wat aanleiding gegee het tot die seer knie), was dit lekker om koffie te drink op die stoep  ( teetuin ?) van die restaurant by Ponta Malongane.

Lughawe kroeg

Augustus 17, 2008 in Sonder kategorie

Hierdie blog is beslis nie in die lughawe geskryf nie. Veral nie Johannesburg s’n nie.

Die plan van gister om in die lughawe rugby te kyk het amper net so goed gevaar as die bokke teen die All Blacks.

In die vertreksaal is al die besigheide verdomp toe.

McGinty’s  het ‘n mooi kroeg met ‘n TV binne, maar jammer dis toe. Julle kan nie rugby kyk nie.

Al brand jy vir koffie…..

die koffiewinkel is ook toe.

Kan jy gaan blog by die internet hoekie ? O nee , hulle is ook toe.

Raait, gaan koop dan maar ‘n koerant.

O weë, jy kan ook nie ‘n koerant koop nie, die boekwinkel is ook toe.

What the fuck ?

Off the cuff

Augustus 15, 2008 in Sonder kategorie

Om dinge van die mou af te speel het soms, nee, gewoonlik. nagevolge.

Dikwels vang slim sy baas, en ‘n klein oordeelsfoutjie het eegisteraand daarvoor gesorg dat my oefen program ‘n baie interresante wending aangeneem het….soos om kilometers ver oor duine en deur bosse aan te strompel na Ponta Malongane toe.

Na donker … in die nag dus.

Kon verdomp nie mooi sien waar om orals te trap nie, en ek het doodeenvougig kortpad gekies deur die veld na wat vir my na Ponta gelyk het… anyway .. ek blog hier so alles is ok.

Behalwe my knie wat ietwat vaktap is.

Al die vliegtuie is vandag vol bespreek Kaap toe.

Tot more presies net voor die rugby begin…. dood normaal…. ek bevestig dit maar net.

Gaan maar die rugby in Jhb se lughawe kyk.

Gisteraand in Nelspruit was elke hotel, ja elke enkele hotel vol bespreek….

Moenie eers na 10 in die aand daar begin soek vir slaapplek nie, ek het amper saam met daai mense op die sypaadjie onder die bokse en goed gaan slaap.

En in “grand” restuarante in Neslspruit trek hulle die kukprop sommer regdeur die foelie….

Kinkel in die kabel

Augustus 13, 2008 in Sonder kategorie

Eintlik is die kinkel in die reisplanne.

Vandag is ek veronderstel om in Nelspruit bietjie besigheid te doen… maar dit is ‘n heerlike dag in Komatipoort…. en ‘n pêl het gebel … hy is by Ponta… ek is 3 km van die grens af.

Ponta D Ouro is seker maar omtrent 150 km weg.. en die Nelspruit sakies kan ‘n dag of twee wag.

So , dis nou nou terug grens toe… en ek wil anyway gaan kyk hoe lyk dit deesdae by Ponta.

Sal vanaand daaroor blog as ek kan.