‘n Bekertjie se reis.
Maart 30, 2014 in Uncategorized
Spesiaal vir @ladygodiva wat hou van reis en mooi goed.
Iewers in Engeland het iemand agter gekom dat daar ‘n eensame,bruingevlekte,afgeleefde ou Bunnykins-bekertjie ‘n stoksielalleen lewe in ‘n Suid-Afrikaanse vertoonkas slyt.Dadelik is daar planne gesmee om die kraak-oor-outjie se raklewe op te kikker.Na ‘n lang gesoek en baie oorweging,is ‘n splinternuwe jongeling opgespoor.Met vele liefde en versigtigheid,is hy styf toegedraai in ‘n allerfraaie pakkie.Binne in sy magie is daar sommer ook ‘n paar heerlike teesakkies en die lekkerste cappucinokoevertjies weggesteek,met twee sakkies soet kakaopoeiertjies vir ekstra smaak.
Nadat vele hande die pakkie hanteer het,beland hy uiteindelik op die lang vlug na ‘n verre land aan die Suidpunt van Afrika.Weens ‘n tradisionele posstaking,moes hy ‘n week lank in ‘n donker stoorkamer rondlê en wonder of hy ooit weer daglig gaan sien.Gelukkig was dit van korte duur en gretige hande het hom by die toonbank ontvang.
Oopdraai en skeur en nogmaals oopdraai en uiteindelik ‘n geknip met ‘n skêr,ontbloot die fraaiste jongeling, met sy vrolike hasies,nog in een stuk!Die outjie is dadelik ingewy met ‘n heerlike skuimende cappucino,wat sy magie warm laat klop het.Daarna is hy liefderik langs sy horingou nefie,op ‘n ereplekkie weggebêre.
Die tweetjies staan styf teen mekaar en dis asof die ou vergeelde bekertjie sommer weer nuwe lewe gekry het!
Onlangse kommentare