Goeie Herinneringe
September 22, 2013 in Uncategorized
Dit sou vandag my ma se vier-en-negentigste verjaarsdag gewees het.Sy is al tien jaar oorlede en vanoggend het ek met ‘n knop in my keel aan haar teruggedink.
Sy was altyd ‘n doener,nie ‘n tipiese huisvrou- cum-ma nie.Inteendeel,sy het huiswerk,kook,bak en al die “wonderlike” vroulike geite wat van haar era se vroue verwag is,met ‘n passie gehaat.Jy sou haar nooit in ‘n voorskoot agter ‘n stofsuier gesien het nie!
Sy het BSc op Tukkies gaan swot.Dit was nie baie gewoon vir vroue in haar tyd nie.Tuks was toe maar ‘n klein universiteit met min studente.Sy het op Normaalkollege Pretoria se kampus gebly en ook later haar onderwysdiploma daar verwerf.Sy het altyd vertel hoe sy met een klein reistassie,een swart romp en twee wit bloesies en ‘n paar sykouse per trein vanaf Potchefstroom,na Pretoria gereis het.Hulle was bitter arm en sy was ironies die middelkind en enigste dogter van haar ouers,wat gaan studeer het!
Later jare het sy in Bantoe-onderwys beland en lank by Kilnerton Teacher’s Training College in Siverton,onderrig gegee.Dis hier waar sy ‘n deeglike kennis van swart mense opgedoen het en ons ook geleer het dat hulle net sulke mense soos ons is.Dit klink vandag baie vreemd,maar dis hoe dit daardie tyd gegaan het.Sy het soms swart onderwysers na ons huis gebring vir ete,maar ons moes stilbly daaroor,want sy sou maklik in ‘n tronk kon beland.
Dit was in die ontstuimige sestigerjare toe hulle as onderwysers baie keer deur woedende studente in die personeelkamer vasgekeer is.Soms is hul motors bekrap en bande stukkend gesny.Op ‘n stadium moes sy gewapend skool toe gaan.Dit was die broeiplek van die komplot wat later op Rivonia blootgelê is.Dis die tyd waarin Mandela en andere hul planne gesmee het om die regering omver te werp.
Ek onthou hoe hartseer sy was,toe die polisie van haar topstudente uit haar klas kom haal het.Hulle was uitgewys as aanstigters en was deel van ‘n groep wat een oggend al die onderwysers sou inwag en vermoor.Dit was ‘n aaklige tyd in ons lewens.
Daarna het sy Bantoe-onderwys vaarwel toegeroep en by ‘n Hoërskool gaan Engels gee.Sy was jare daar en ‘n baie gewilde onderwysere.Die kinders was mal oor haar.
Daar was nie nog iemand wat ek ken,wat soveel stories kon vertel nie.Haar kleinkinders het aan haar lippe gehang en om tien dik boeke in ‘n week te lees was vir haar kinderspeletjies.
Nouja,soos alles maar gaan,het die ouderdom haar ook ingehaal en vandag is haar opgerolde Onderwysdiploma en Graadsertifikaat en herinneringe al wat oor is,van ‘n eens dinamiese mens!
Die lewe is kort en die merk wat ‘n mens maak is maar klein….
tina10 het gesê op September 22, 2013
Wat ‘n pragtige huldeblyk… dankie vir die deel.
My ma sou ook die jaar 94 gewees het. Ek mis haar ook nog altyd
perdebytjie het gesê op September 22, 2013
@tina10 Ek is maar bly sy het nie 94 geword nie.Dis aaklig om so oud en siek te wees.Sy was tot aan haar einde op 84,by haar volle verstand.
Carol R @ Losbek het gesê op September 22, 2013
Jou ma klink na ‘n besondere mens. Ai, mens het net een ma!
perdebytjie het gesê op September 22, 2013
@losbek Sy was.Sy het ons altyd geleer om respek te hê vir ander mense en hulle te aanvaar,maak nie saak wat en wie hulle is nie.
Twaksak het gesê op September 22, 2013
Jou ma en my oorlede pa moes omtrent tydsgenote gewees het by Tuks. Sy klink na ‘n merkwaardige vrou. Wat sekerlik vertel waar jy vandaan kom.
My moeder word oor presies ‘n week 87. Snaaks hoe my pa moes afsterwe voor ek haar so leer ken het.
perdebytjie het gesê op September 22, 2013
@twaksak Dis heel moontlik.Dalk het hulle mekaar geken.Dit sal nogal snaaks wees en net weer wys hoe klein die wereld is!
Henry @kompethenry het gesê op September 22, 2013
Ag lekker – nice om so te kan terugkyk!
perdebytjie het gesê op September 22, 2013
@kompethenry Jy is mos daar van Centurion se wêreld.Sy was al die jare onderwyseres by Lytteton Hoërskool.Ek was ook daar op skool.
Henry @kompethenry het gesê op September 23, 2013
Ek het in Brakpan grootgeword, so sou haar nie geken het nie…
vega het gesê op September 22, 2013
My Pa (91 ) was hier vandag en al ons kinders, kleinkinders en sy agterkleinkinders. Dan mis ons ook ons ma. My Ma was ook soos jou ma behalwe dat sy nie geswot het nie. Glad nie huisvrou of basaartannie nie, maar was baie betrokke in die gemeenskap,
maryna het gesê op September 23, 2013
Sjoe perdebytjie, is al wat ek nou kan uitkry.