Brief aan iemand spesiaal
Maart 18, 2013 in Uncategorized
Dit voel soos eergister toe jy met jou pienk gesiggie en pikswart haartjes in my arms gelê het.Daardie groen ogies het niks gemis nie en nuuskierig rondgekyk.Omdat jy die jongste is,het ons baie saamtyd gehad terwyl die ander in die skool was.Ek onthou nog hoe jy orals altyd by my was,by plesierige plekke en minder plesierige plekke.
Dit was ‘n hartseer dag toe ons Oubaas,ons ou boerebrak,laat uitsit het.So klein as wat jy was,het jy op jou manier verstaan en my vertroos.Jou kreatiwiteit het al vroeg gewys,met al die goedjies en tekeninge wat jy vir my geskep het.Vandag nog lê dit onder in my kas,vir die dag wanneer ek seker moet opruim en uitgooi,vir trek na ‘n kleiner plek!
Alte gou is jy skool toe en moes ek die wel en wee van die grootword-stoeiproses saam met jou deurmaak.Daar was meer vreugde as smart en alles is heeltemal te gou verby! Die moeilikste was om jou op wiele te kry en jou vlerkies te laat sprei.Daar is niks so angswekkend vir ‘n ma as om te sit en wag vir daardie sms om te sê jy is veilig nie.
Saterdag was jou kombuistee en skielik het dit my tussen die oë geslaan…jy gaan trou en nou is my kleinding lankal nie meer my kleinding nie!Sjoe,ek het Saterdagaand gehuil toe almal weg was,want die besef van dinge wat ewig verby is,kan mens soms soos ‘n skim van agteraf oorval.
My liefste dogter, jy het ‘n wonderlike keuse vir ‘n lewensmaat gemaak en ek gun jou alles wat mooi is op jou lewenspad.Voordat ek totaal uitrafel,onthou net dié goue reël:Liefde ,vergifnis,samewerking,toegewing,verdraagsaamheid,lag en liefhê,is soos klippies wat saam in ‘n sakkie gegooi word en deur die jare blink teenmekaar gaan skuur,totdat hulle glad en kleurvol is!
Van jou tranerige ma.
rosiemetdorings het gesê op Maart 18, 2013
* * * * *
♥
perdebytjie het gesê op Maart 18, 2013
@rosiemetdorings
Dankie dat jy verstaan!
tina10 het gesê op Maart 18, 2013
Ag neeeee… hier sit ek en snik snot en trane saam met jou … ♥♥♥
perdebytjie het gesê op Maart 18, 2013
@tina10
Gelukkig is dit trane van blydskap dat my meisiekind op die lewenspad is.
monicahaddad het gesê op Maart 18, 2013
Nou’s ek tranerig saam met jou……ai wat is dit met die trane wat so vinnig loop deesdae.
perdebytjie het gesê op Maart 18, 2013
@monicahaddad
Dis ‘n ding wat net vrouens sal verstaan…
adage het gesê op Maart 18, 2013
xxx
perdebytjie het gesê op Maart 18, 2013
@adage
Dankie ek waardeer.
vega het gesê op Maart 18, 2013
In die selfde bootjie 🙂 (Het jy al ‘n rok?)
perdebytjie het gesê op Maart 18, 2013
@vega
Ek het darem al ‘n rok.Sommer een wat ek met ‘n vorige geleentheid gedra het.Het gaan rondkyk en sommer besluit al die duur “goedkoop”Sjinese gemors wat in die winkels is,sien my nie weer nie!
Rina Willemse het gesê op Maart 18, 2013
Wat ‘n besonderse boodskap.
perdebytjie het gesê op Maart 19, 2013
@sirpsa
Dankie jong!
Annanina het gesê op Maart 18, 2013
Moet dit nie eens sê nie! Myne is nou drie en die tyd vlieg klaar verby!
perdebytjie het gesê op Maart 19, 2013
@annanina
Geniet elke oomblik..dit vlieg vinnig verby!
maryna het gesê op Maart 19, 2013
@perdebytjie, dit is nou sowaar die mooiste, hartroerendste brief van ‘n ma aan ‘n dogter wat ek nog ooit gelees het.
perdebytjie het gesê op Maart 19, 2013
@marynam
Dankie,dit was so uit my hart uit.Gewoonlik skryf ek dan op my beste!
celia het gesê op Maart 24, 2013
Pragtige inskrywing, uitstekende raad, mooi bly, xxxx
perdebytjie het gesê op Maart 30, 2013
@celia
Baie dankie vir die inloer!
Tannie Frannie het gesê op April 6, 2013
O aarde, nou’s ek ook bewoë – oor die ongelooflike sterk, innige liefde tussen ma en dogter wat jy so goed beskryf. Ons is baie bevoorreg om dit te mag ervaar.
Dina van Wyk het gesê op April 8, 2013
@frandr
Dis werklik die hoogtepunt van ma-wees!