Dis vandag presies ‘n jaar gelede dat Pa siek geword het.Dit was ‘n ellendige tyd en na drie weke se lyding is Pa weg.Vanoggend het ons met Pa se assies gery na een van die plekke wat Pa altyd so geniet het.
Daar by die pragtige Marievalevlei,waar Pa altyd so lekker voels gekyk het,het ons eers stadig deur die vlei gery en stil na die verskeidenheid geveerdes gekyk en die oomblikke saam met Pa in herinnering geroep.Dit was asof daar vandag meer skaars soorte te siene was,soos die skaam Dubbelsnip en die twee Bloubekeende.Daar was geen mens in sig nie en ons het rustig op die bruggie,waar die Blesbokspruit in die vlei inloop,stilgehou.Dis waar Pa gereeld koffie gedrink het en die geel kwikstertjies wat gewoonlik daar rondwip,bewonder het.Dis ook die speelplek van die sku otters wat ons al ‘n paar keer daar blitsig sien verdwyn het in die dieper water.
Waar die stroom lekker sterk onder die bruggie deurkabbel en waar mens deur die helder skoon water tot op die bodem kan sien,het ons die assies ingegooi.Met die pragtige lied van ‘n verskuilde rietsanger en die sagte gekrrk-krrk van die bleshoenders het dit stadig in die stroom afgedryf.Dit het sulke pragtige wolkpatrone gemaak en mettertyd deel geword van die ewigvloeiende waters van hierdie pragtige natuurwonder,tussen die mynhope.
So vloei al die herinneringe van ‘n wonderlike skoonpa,wat vir my soos ‘n eie pa was,vandag weer sterk deur my gedagtes en ek is dankbaar dat ek die voorreg gehad het om hierdie dierbare mens te ken.
Onlangse kommentare