Een van daaardie dae!

September 29, 2012 in Sonder kategorie

Gister was ‘n vreemde dag en het my positiewe self teen laatmiddag in ‘n melankoliese bondeltjie gelaat!

Alles het reeds vroeg begin,toe ek my oefenklas bygewoon het.Eerstens kry ek ‘n geweldige menopousale-vurige-hitte-roosrooi-gesiggie-sweet-aanval en almal lag,skerts en sê ek het ‘n “power surge”gehad..baie gemoedelik en ek spot lekker saam dat ek iewers kan “inplug” en ‘n ketel kan laat kook met al my ekstra krag.

Na die klas wil ek my maandelikse fooi betaal en gee sowaar vir ons afrigter honderd rand te min!Ek betaal al die hele jaar dieselfde bedrag,maar gister was daar ‘n leemte van honderd rand in my kokende brein.Nogal verleë gevoel,maar laggend die situasie beredder.Natuurlik staan almal daarby en ons lag maar weer.Selfvertoue is nou redelik in sy moer in.(Ek vloek nie graag nie,maar ek vergun myself hierdie enetjie!)

Huis toe,gelukkig sonder voorval,stort,koppie tee en ek voel weer dapper muis..ek bedoel mens.Daarna ry ek opgewonde dorp toe om my skildery wat nuut geraam is,by die kunswinkel te gaan haal.Hierdie skildery het sowat twee maande gelede met ‘n dawerende slag van die muur afgeval en die glasskerwe oral laat spat.Omdat ek weet hoe duur ‘n nuwe raam sou kos,het ek maar uitgestel en uitgestel,totdat die tyd (en geld) reg was vir die skidery se nuwe baadjie.

Sjoe,die vrou het dit so mooi geraam en ek was absoluut in my skik,die skokkende prys ten spyt!Tuis,is manlief net so in sy noppies.Ons het jare terug die skildery gekoop by een van daardie uitstallings wat hulle by skole gehou het en waar jy eintlik half verplig gevoel het om iets te koop.Was toe al effe bo ons vuurmaakplek,maar dit was darem vir ‘n goeie saak..en dis ‘n besondere mooi skildery!

Manlief kap ywerig nog ‘n spyker langs die bestaande ene in,hang ons kunswerk op en ons oee en aaa en voel sommer opgewonde soos kinders wat spookasem eet!Gaan toe maar aan met ons dinge. Skielik is daar ‘n harde slag!Nee,nee,neee!Splinternuutgeraamde skildery lê weereens flenters agter die kas,nie eers tien minute van glorie gesmaak nie!

Ag,ek kan nie beskryf watter emosies deur my suwwe kop gewalm het nie.Manlief was verwese en het sommer dadelik die prent terug geneem om te laat oordoen.Toe voel ek meer sleg oor hy so sleg voel,as oor die skildery.

Na my kokende gemoed bietjie ophou prut het,sak die boomsnoeiers wat ek gehuur het hier in.Binne ‘n ommesientjie is my agterplaas vol takke en die bome lyk soos “knit one,slip one”..gruwelik vermink!Ongelukkig is dit maar hoe bome lyk as die takke na jare se groei bietjie weggesny word.Dis nogtans ‘n skok as dit skielik so oop is.

Na ‘n nag se slaap,lyk die wêreld vandag weer anders..het net ‘n effense kopseer!

7 antwoorde op Een van daaardie dae!

  1. TS het gesê op September 29, 2012

    Jy moet liewer na die jou gesondheid laat kyk…

  2. gaan die week dokter toe!

  3. Ons liewe Tina is ‘n wyse vrou.

    Die gloede het ek al vir tien jaar en ek leef gelukkig daarmee saam. Mens raak alles gewoond.

  4. Wat sal ek tog maak sonder jul besorgdheid!Hoop regtig ons vind mekaar anderkant

  5. As ons ons avatars en blogname dieselfde hou, sal dit nie te moeilik wees nis, dis nou as ons regtig hier gaan wegraak

  6. avega het gesê op September 29, 2012

    Dis dalk tyd vir nuwe langer dikker spykers, sommer twee, een aan elke kant. Die ding is seker te swaar. Ai maar weer te laat raam is ‘n pyn! (Probeer Livifem, wondermedisyne)

  7. Daar is klaar ‘n DIK skroef ingeboor.Mens sal selfs ‘n kar daar kan ophang!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.