Ek gaan vanoggend soos gewoonlik op ‘n Vrydagoggend na my oefenklas toe.Ek voel gesond en fiks,kan nie wag om met my vriendinne daar te klets voordat ons begin nie.Alles verloop goed..ons draf agter mekaar in ‘n sirkel,vleg in en uit tussen oranje hoedjies op die vloer,doen later strek oefeninge om die stywe koue spiere te rek en val toe weg met die daaglikse program van een uur.
Ek woel en rek en lig bene en swaai die arms en skop my agterent met my voet,terwyl ek soos ‘n tafelblad teen die reling (“bar”) staan.Nog steeds niksvermoedend,word die bene met groot rekke vasgebind,vir ekstra weerstand,wanneer ons in lêende posisie,eers op een sy die een been vyftig maal lig en dan omdraai vir dieselfde beweging op die ander sy.
Met die omdraaislag,voel dit of die hele aarde draai.Ek steur my nie veel daaraan nie,want dit gebeur soms en ek weet ou middeloor gooi partykeer my balans uit.Ek kom so effe reg,maar toe ek opstaan,moet ek aan die muur klou om regop te bly.Die instruktrise sien teen hierdie tyd my dilemma en ek verseker haar dat ek net in regop posisies moet bly,dan sal ek reg wees.
Nodeloos om te sê,dit voel naderhand of my oge omdop en in my brein ingluur.Koue sweet slaat op my uit en ek ruik skielik vir myself soos ‘n klein hondjie of soos seuntjies wat na pouse in ‘n klas inkom.Ek besef daar is probleme en besluit om liewer huis toe te gaan.Na ‘n gespook om aan te trek,dop ek heeltemal om toe ek buk om by my skoene te kom.Gelukkig het ek gesit en slaan soos ‘n os agteroor en my oë rol en rol en rol..te afgryslik vir woorde!Naar volg toe ook,maar gelukkig kon ek die katte tem,sodat ek nie voor almal ‘n verdere spektakel van myself maak nie!
Twee goeie Samaritane neem my toe huis toe,die een bestuur my karretjie en die ander een volg om nommer een weer terug te neem oefenklas toe.Tuis kruip ek letterlik tot in die stort en hang soos ‘n vlermuis aan die krane.Gelukkig is manlief byderhand en later lê ek soos ‘n zombie op die bed.
Ek het ‘n goeie uur geslaap en voel nou weer perdfris.Die oorsaak van die tydelike swakheid..Vertigo..alles te doen met middeloor,balans,ens.Google dit vir verder inligting.
‘n Mens beplan jou dag en dan gebeur so iets en verander die hele prentjie!
Onlangse kommentare