‘n Nuwe wêreld wag

September 29, 2013 in Uncategorized

Ek is op die oomblik in ‘n baie veilige plek, ek het geen bekommernisse, geen vrese. Ek is beskerm en geborge, maar ek voel tog ek moet hier uit. Ek kan nie vir ewig hier bly nie. Ek het wasdom bereik, en ek moet aanbeweeg–die drang om voort te gaan is alles oorweldigend.  Ek hoor stemme, vreemde stemme wat ek nie voorheen gehoor het nie. Dit voel of iets my vasdruk, ek moet uit!! Die stemme–“Druk Mevroutjie!! Druk!” Die drukking word oorweldigend, ek wil vorentoe beur om dit te ontsnap maar dit kom golf op golf. Dan bars die wêreld voor my oop in ‘n verblindende lig, ek word voortgestu asof deur ‘n tonnel tot by die bron van die lig. Dan weer die stemme: “Hy is uit, hy is uit! dis ‘n seuntjie!! Geluk Mevroutjie!! ‘n Welgeskape seuntjie! Wat gaan julle hom noem?”  ‘n Bekende stem antwoord ” Lewies, sy naam is Lewies.”

Dan weer die ander stem: “Nurse, skryf daar in die kraamregister by 1 Oktober 1949: Lewies gebore om 3:24. “

Om fotos te plaas

September 23, 2013 in Uncategorized

Koud en nat in Hermanus

Koud en nat in Hermanus

Hallelooodja!!  Na ek my gat afgesukkel het om fotos te plaas lyk dit vir my of ek nou uiteindelik sal kan saamspeel en my skryfsels optof met prentjies.

Lewies diy nog ‘n keer

Augustus 30, 2013 in Uncategorized

“Lewies!”\

“Ja Vroukie, wassit?”
“Het jy dit gesien?”

“Nee Vroukie, wassit?”

“Kom kyk bietjie hier in die gang”

Lewies stap met beswaarde tred die gang af. Hy het ‘n spesmaas, en sy spesmase is gewoonlik in die kol.

“Wassit Vroukie? “

“Kyk daar” Vroukie beduie na die plafon. Lewies kyk en getrou aan sy spesmaas sien hy dit: ‘n vlekkerigheid op die plafon, so asof daar water gelek het. Hy oorweeg dit om te sê “Nee Vroukie, ek sien niks nie” maar hy besef dat dit hom mag blootstel aan ‘n ongewenste respons van Vroukie.

Dus erken hy dat hy inderdaad ‘n watervlek op die plafon gewaar. “…maar dis darem nie erg nie, ek dink met verloop van tyd sal dit verflou en verdwyn” merk hy hoopvol op.

“Ag, strooi, Lewies, hoe kan die vlek vanself verdwyn!” (Sy sê nie “Strooi” nie, maar gebruik ‘n ander woord wat onteenseglik bewys dat sy nie geloof het in Lewies se hoopvolle opmerking dat die vlek vanself sal verdwyn nie. ) “Jy sal die plafon moet verf om dit weer netjies te kry”

Lewies besef dat daar geen uitkomkans is nie, die plafon sal geverf moet word. Hy wonder egter stilweg hoekom Vroukie so obsessief – kompulsief oor ‘n watervlek op die plafon kan wees, is daar nie dalk ‘n pil daarvoor nie?

Lewies stap garage toe en neem bestek van die verfvoorraad en toebehore. Daar is ‘n verskeidenheid verfblikke in al die kleure van die reënboog en in al die skakerings daarvan. Hy soek en soek en kom dan op ‘n blik af met’n etiket wat aandui dat die spesifieke verf die ware Jakob is vir plafonne. Hy vat ‘n skroewedraaier en begin om die deksel los te maak. Dis nie ‘n maklike prosedure nie en ontlok verskeie onkiese woorde, veral toe die skroewedraaier glip en ‘n lang bloederige haal oor Lewies se linkervoorarm  raps.  Uiteindelik is die deksel af. Lewies roer die verf in die blik maar besef dadelik dat dit onbruikbaar geword het. Maar gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en daar koop Lewies ‘n blikkie verf met ‘n etiket wat beloof dat verf “Hide all” is, net die ding.

Terug by die huis bedek hy die vloer met koerantpapier en maak die leer staan.  Hy gaan garage toe om ‘n verfpan en roller te kry, maar die enigste roller is kliphard. Gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en gelukkig het hulle ‘n verskeidenheid rollers om van te kies.

 By die huis aangekom roep Vroukie Lewies vir tee. Hy dink vlugtig daaraan dat ‘n bier baie beter sou afgaan maar besef dat tien uur in die oggend dalk nie ‘n betaamlike tyd is om hom aan die drank oor te gee nie. Toe hy die beker tee by Vroukie vat, bemerk hy iets vreemds aan haar gesig. Dit lyk asof sy oornag ‘n snor gekweek het. Hoe meer hy daarna kyk, hoe onverklaarbaarder word die verskynsel. So oor die beker tee sê sy: “Ek het begin om die dreskas te verf. Ek sit eers ‘n donker onderlaag op, dan ‘n ligter laag. Dan gaan ek dit skuur om die kas ‘n distressed look te gee.” Nou word alles vir Lewies duidelik. Die snor is nie ‘n snor nie, maar ‘n verfstreep onder haar neus. “Vroukie, daar is ‘n verfstreep onder jou neus, laat ek dit gou afvee voor die verf droog word” Lewies vryf met sy voorvinger oor die verfstreep. Die verf is natter as wat hy vermoed het en die smeersel kring uit. Hy lek aan sy vinger en probeer weer, maar nou is Vroukie besmeer tot onder haar oë. Sy lyk soos Die Grensvegter. Lewies besef die ys is dun en hy sluk sy lag, maar Vroukie vermoed onraad.

 “Wat kyk jy my so Lewies? Wat is dit?”

“Nee, nee, niks nie!”

“Nou vir wat lag jy?”

“Nee, ek lag nie. Ek dink sommer aan iets”

“Watse iets?”

“Sommer iets. Wag, ek moet die plafon gaan verf”

Met die kom Chopper die werfhond verbygedraf. Oor sy rug is ‘n lang bruin blerts wat nie gewoonlik daar is nie. Vroukie verf, dink Lewies.

 

Die verwery verloop verbasend genoeg sonder verdere insidente, en nadat hy die koerante opgetel het en vloer skoongemaak het, staan Lewies terug en betrag sy handewerk met trots. Hy gaan sit die leer op sy plek. Hy maak die verfblik stewig toe en bêre dit. Hy was die roller en die pan en sit dit ook weg. Hy sien met genoegdoening  dat dit twaalf uur, in enige kultuur ‘n betaamlike tyd om ‘n koue bier te skink.

 Dan hoor hy Vroukie roep.

“Lewies!”

“Ja Vroukie, wassit?”
“Het jy dit gesien?”

“Nee Vroukie, wassit?”
“Kom kyk bietjie hier in die spaarkamer”

 Lewies kry ‘n spesmaas, en sy spemase is gewoonlik in die kol.

 

 

 

 

Taai taaiers

Augustus 24, 2013 in Uncategorized

Daar in 1972 betree ek die arbeidsveld en koop my eerste kar, Fiat 132 S,  uit die boks,so ‘n gele met wit vinyl seats en vyf ratte. Lekker windgat. Kos my so R4 200. Gister sit ek twee nuwe taaiers op my hedendaagse kar, Captiva, en dit kos my meer as R5 000. Die Fiat kon ek oor drie jaar afbetaal, die taaiers drie maande. The times the are a’changing, soos ou Bob profeties verklaar het. Taai swaer, taai.

Lewies do it yourself

Augustus 13, 2013 in Uncategorized

 

Nadat ons so ‘n ruk hier in die nuwe huis is en die uitpakkery vorder, raak dit tyd om die skilderye op te hang.

 “Lewies!!” roep Vroukie.

 “Ja Vroukie, wassit?”

 “Ons moet begin om ons skilderye op te hang. “

 Lewies stem saam en beveel aan dat die grootste skildery eerste opgehang word, deels as’n loodsprojek om die omvang van die hangery te bepaal en ook om ‘n statement te maak: dis nou ons huis dié.

 Nadat ‘n geskikte hangplek geidentifiseer is, moet die posisie van die skildery bepaal word. Lewies hou die skildery teen die muur en Vroukie staan op ‘n afstand. Dan sê sy  “Bietjie links, nog, nog, nee, dis te veel” en dan sê sy “Bietjie regs, nog, nog, nee, dis te veel” Nadat diie links en regs aksis bepaal  is, is dit tyd vir op en af. “Bietjie opper, nog,nog, nee dis te veel” en dan weer” Bietjie affer, nog, nog, nee dis te veel”

 “Vroukie”, sê Lewies, “ons moet die skildery nie so hoog hang nie. Kyk na die muur waarteen dit gaan hang as ‘n negatiewe ruimte waarin die skildery sigself gaan presenteer as fokuspunt in hierdie ruimte en om die beste uit die komposisie  van die skildery versus die ruimte te kry moet mens die optiese eerder as die visuele middelpunt beklemtoon, om sodoende  ‘n faux trompe l’oeil  te bewerkstellig wat dan die komposisie van die skildery teen die muur sal uitlig”

 Vroukie kyk Lewies vreemd aan. Dan sê sy pront: “”Lewies, jy praat kaf”  (Sy sê nie “kaf” nie, maar ter wille van die sensitiewe leser vervang ek die  drie-letter woord wat sy wel gebruik het met ‘n gelykklinkende eufemisme.)  Nou volg hier ‘n geredekawel die kant toe en daai kant toe totdat Lewies sê:  “Nou goed. Dan hang ons die flippen skildery daar bo in die lug”  (Lewies het nie ‘flippen’gesê nie, maar ‘n ander  gelykklinkende woord wat liefs verswyg sal word)

 Met hierdie taak op hande gaan haal Lewies die nodige gereedskap, boor,  betonboorpunt, plastiese muurproppie, skroef, skroewedraaier, hamer,tang, Stanley mes, staalliniaal, waterpas, masking tape, elektriese koord,leer, stofsuier. Ja nee, dis al wat nodig is.

 Lewies het skaars begin boor toe hy besef dat hy geen hond gaan haar-af maak met die stomp boorpunt nie. Gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai. Hulle het ‘n gepaste boorpunt in voorraad en is gewillig om dit aan Lewies te verkwansel, mits hy dit kontant koop aangesien hulle nie kredietkaarte aanvaar nie. Ongelukkig is Lewies se gatsak platsak, gelukkig is die ABSA outomaat net om die draai en gelukkig is Lewies se fondse daar  nog likied.

 Die nuwe boorpunt woerts blitsig in die muur in . Lewies kan dit nie weerstaan nie, hy boor die gat totdat dit nie kan dieper nie. Hy vryf sy hande tevrede saam. Hond se kierie! So moet ‘n boor boor!  Hy sit die groen plastiese muurproppie in die gat en voel effe onrustig dat die proppie so los in die gat pas, maar dink dat dit sal uitsit en vasskop as hy ‘n skroef indraai. Lewies tik die proppie met die hamer, net om die sien hoe dit in die gat in die muur in verdwyn. Maar die gat is diep, en sal seker ‘n tweede, en dikker, proppie kan akkommodeer. In al die blikkies en botteltjies en boksies in die garage is daar egter nie ‘n dikker proppie nie. Gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en daar vind Lewies die regte grootte proppie. Hy koop sommer twee pakkies, net vir die wis en die onwis.  Die nuwe proppie pas lekker styf in die gat en verdra ‘n stewige tik met hamer om diep genoeg ingedryf te word.

Nou net ‘n skroefie indraai en Bingo! Bob is jou oom! Lewies krap en skrop in al wat ‘n botteltjie en blikkie en boksie  in die garage is. Al wat hy kry is ‘n handvol ou geroeste en gebuigde houtskroewe, heeltemal te dik vir die doel. Gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en gelukkig het hulle ‘n verskeidenheid skroewe in voorraad. Lewies koop sommer twee pakke van die regte grootte, vir die wis en die onwis.

 Die skroefie draai maklik in die proppie in en een, twee, drie, daar hang die eerste skildery in die nuwe huis, bevestiging dat Lewies en Vroukie nou hul voete in die nuwe holte het.

 Lewies vat die leer terug garage toe. Hy pak die boor weg en sit die nuwe boorpunt waar hy dit weer behoort te kry as die nodigheid daar is. Hy pak die elektriese koord weg, die skroewe en muurproppies, die hamer, die skroewedraaier, die stofsuier, hamer,tang, Stanley mes, staalliniaal, waterpas, masking tape,leer, stofsuier. 

  Elkeen op sy plek. Lewies vee die sweet van sy gesig af en smag na ‘n koue bier.

 As hy in die huis inkom, sien hy Vroukie staan nabetragtend voor die skildery.Sy kyk stip daarna. Dan tree sy een klein treetjie na regs. Sy kyk weer stip daarna. Dan tree sy twee klein treetjies na links. Sy kyk weer stip na die skildery. Daar is ‘n frons op haat gesig. Dan sê sy : “Lewies” “Ja Vroukie, wassit?”  antwoord Lewies  lugtig.

 “Wat is daai ding wat jy gesê het van optiese something?”

 “Jy bedoel  ‘Kyk na die muur waarteen dit gaan hang as ‘n negatiewe ruimte waarin die skildery sigself gaan presenteer as fokuspunt in hierdie ruimte en om die beste uit die komposisie  van die skildery versus die ruimte te kry moet mens die optiese eerder as die visuele middelpunt beklemtoon, om sodoende ‘n faux trompe l’oeil  te bewerkstellig wat dan die komposisie van die skildery teen die muur sal uitlig?”

 “Ja, netso. Jy het die skildery te hoog gehang. Jy moet hom laer hang”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In ‘n staat van Emeritaat

Junie 5, 2013 in Uncategorized

In ‘n staat van Emeritaat.

Nee kyk, hierdie staat van emeritaat groei op my soos muf op ou brood. My hartklop pols in ritme met Mantovani se Moon River, my bloeddruk is so af ek voel hom skaars. My brein se Alpha ritmes is amnioties kalm. Die psigiater het die dosis Fukitol halveer. Ek kom nou die dag agter dat ek nie meer my horlosie dra nie. Gevoelente is nou my horlosie. As ek voel dis nou tyd vir brekfis dan toast ek vir ons ‘n broodjie, as ek voel dis nou tyd vir ‘n koppie tee dan skink Vroukie hom al in ‘n krullerige koppietjie met pienk rosies, as ek voel dis nou tyd vir ‘n wyntjie dan maak ek so, en as daai ander gevoelente sigselwers presenteer, julle weet mos, daai een, dan worrie ek nie oor ‘n laatkommery by die werk nie. Sedert ons hier in Hermanus bly het ek nog nie ‘n middelvinger teen ‘n mede-padgebruiker gelig nie, en daai woord, wat is dit tog nou weer, nee fokkit, kannie onthou nie, maar daai woord het nog nie weer oor my lippe gekom nie. Ek kyk Pasella en Kwela en her-heruitsendings van Mollie en Wors en Orkney Snork Nie sonder om kort-kort te sê “Wat ‘n pot kak”. As dit so aangaan kyk ek een van die dae heruitsendings van TV 2 nuus met Riaan Cruywagen.  Ek skel nie meer op rugby skeidsregters nie.  Dit gaan so goed met my dat die Cheetahs ewe skielik een game na die ander wen. gen.

Is dit dalk iets in die water?

 

Volspoed op veertig

April 25, 2013 in Uncategorized

Ek en Vroukie het verlede Sondag ons veertigste troudag herdenk, ja, liewe leser, veertig jaar, net so lank as wat Moses en sy troepe in die woestyn geswerf het. Maar anders as daai ongelukkige siele het ons nie ons Kanaan eers na veertig jaar bereik nie. Dit was uit die staanspoor duidelik dat ons vir die heilige eg, met mekaar, bestem is. Hulle sê die eerste veertig jaar is die moeilikste, daarna is dit maklik. Maar sê nou net een van die twee partye verwissel die tydelike met die ewige na een en veertig jaar, dan het hulle mos net een jaar van huweliksgeluk beleef! Nee wat, ‘n mens moet maar werk aan die huwelik, en nie so ‘n Gods-water -oor-Gods-akker benadering openbaar en dan hoop alles sal uitwerk nie. So is die ou lewe mos, wat jy saai sal jy maai, wat jy insit sal uitkry. Dankie Vroukie, vir veertig jaar se maatwees, liefwees, sterkwees. Met jou aan my sy sien ek kans vir die lewensmylpale wat verskuil in die pad vorentoe lê.

So is die lewe in Hermanus

Maart 25, 2013 in Uncategorized

Ek was bitter lank laas op die blogs bedrywig, ek sou nooit kon glo dat  die intrekkery in ‘n nuwe huis mens so besig kan hou nie. Hier is gedurig een of ander gewerskaf aan die gang. Op die oomblik is ons besig om die tuinmuur te herstel en hoër te maak sodat die die twee honde, Pamela en Chopper vrylik in die hele erf kan beweeg. Van stap met die honde is daar nie sprake nie, Pamela het as ‘n uiters getraumatiseerde hond by ons aangekom, omtrent vyf, ses jaar gelede, en ten spyte van herhaalde pogings kon ek haar nooit aan ‘n leiband gewoond maak nie. Ek het ‘n paar keer met die twee in die parkie oorkant ons huis gaan stap sonder leibande, maar die laaste keer kies Pamela al snuffelend koers na Main Road met sy hewige verkeer, horende doof. Op die nippertjie, op die randsteen van Main Road, draai sy terug. Toe besluit ek nooit weer nie, dan maar liewer beperk tot die erf.

Ons bure aan beide kante het baie moeite gedoen om ons te laat tuis voel. Hulle is ook afgetredenes en woon al lank in Hermanus. Die een klomp het ons saamgenooi na die Hermanus Afrikaanse Kultuur en Ontspanningsklub, waar Wilna Snyman oor haar lewe gesels het. By die geleenteheid is daar ‘n beroep op die jonger garde gedoen om by die vereniging aan te sluit, “mens van so sestig jaar “! By daardie byeenkoms word ons voorgestel aan ‘n klomp mense, almal afgetree, die een was ‘n proffie, daai een hoog op in die Reserwebank, die een dit en daai een dat. Voorwaar ‘n uitgelese klomp mense.

Die tuinmakery lol, die tuin het vir ongeveer twee jaar braak gelê. Ons begin stadigaan leer van die verskillende plante wat hier aard. Nou dat die tuin nategelei word peul daar allerhande lelies uit. Hoewel tuinmaak nie ‘n dringende prioriteit is nie, wil ons darem ‘n area hê waar ons buite kan ontspan.

Gaandeweg kom alles bymekaar, en word ons huis al hoe meer ‘n haard. Tussen al die gewoel deur maak ons tyd om natuurskoonh van die omgewing te geniet en om al die lekker kuierplekkies te ontdek. Vroukie het ‘n stresfaktuur in een voet opgedoen wat verhinder dat ons lank en ver kan stap soos wat ons van gedroom het. Dis ‘n hardnekkige besering wat nie wil bes gee nie, ondanks fisioterapie en twee besoeke aan’n ortopeed. Hulle skryf rus voor, maar hoe rus mens nou ‘n voet as daar so baie dinge is wat gedoen moet word?

 

 

Hakuna Matata

Februarie 4, 2013 in Uncategorized

“Vroukie!!!”

“Ja Lewies?”

“Watse dag is dit vandag?”

“Nee, kwit, Maandag of Dinsdag”

“Kan nie Dinsdag wees nie, was mos nou-die-dag Dinsdag”

“Dit was laas week”

“Kan dit al Woensdag wees?”

“Nee, ek dink dis eers volgende week”

“Is ons al in Februarie?”

“Moet wees, ek sien Checkers is die ene Valentine”

“Vroukie…”

“Ja Lewies?”

“Ons moet ‘n dagboek koop. Een van 2013”

 

In vino veritas, oftewel, wynstories word waar

Februarie 2, 2013 in Uncategorized

En hier is ons in Hermanus, ‘n droom wat begin het  met ‘n glasie rooiwyn in die hand langs die braaivleisvuurtjie het waar geword. Die trek het goed afgeloop, die honde was aanvanklik erg getraumatiseer na ‘n rit van amper 16 uur, amper uitgepaas agv die veearts se kalmeerstroop. Hier het ons te hore gekom van ‘n feromoon-halsband wat die ma-hond se feromone namaak en die honde dan laat rustiger voel–klink vergesog maar dit werk. Die een honderd bokse is so te sê uitgepak, die huis is so te sê ingeruim met ‘n holte vir elke voet. Die voortuin is aan die kant gemaak deur ene Lucky, ‘n man wat hier in die omgewing as tuinman werk. Te oordeel na die wasem op sy asem kort Lucky quickstart vroeg in die oggend, maar dan hou hy aan totdat sy petrol opraak. Die bure aan albei kante het kom kennis maak, aangename mense wat ons laat tuis voel in die omgewing.  Kara en Mia het reeds een middag na skool hier kom kuier terwyl hul ma ander sake op haar agenda gehad het. Gister het ons die dag afgevat en gaan rondry, opgeeindig in Struisbaai en vis en tjips by die hawe ge-eet. Dinsdag is dit Kaapstad toe om Mira en Liam te baby sit as hul ouers red Hot Chilli Peppers se konsert gaan bywoon. Nee wat, hierdie emeritusstaat pas my soos ‘n handskoen!