Die laaste Sondag…

Januarie 20, 2013 in Uncategorized

…in die Wes-Transvaal. Vanoggend pak ons nog ‘n boks of twee met gebruiksgoed waarsonder ons nie kon nie, daar is nog enkeles oor wat more gepak sal word. Net die bitter nodige word uitgehou. Die treklorrie kom Dinsdag, en volgens beplanning ry ons Woensdag Hermanus toe en sal die lorrie Donderdag daar aankom. Met die moleste in De Doorns en Villiersdorp besluit ons om Oudtshoorn om te ry, die R62, maar die keer ry ons om die bestemming te bereik, en tyd om te vergaap aan die natuurskoon van die roete sal daar nie wees nie. Die twee brakke is ook ‘n kwessie, Ons sal hulle kalmeerstroop voer en hoop hulle is rustig vir die duur van die rit–hulle is nie karry gewoond nie en veral die sensitiewe Pamela gaan ‘n moeilike reisgenoot wees. Dinsdagaand slaap ons op uitnodiging van die bure langsaan by hulle, Ons was aanvanklik baie braaf en het gedink ons slaap sommer op ‘n opblaasmatras in ons eie huis, maar die vriendelike uitnodiging is ‘n baie beter opsie. Dan is dit Woensdag dou voor dag in die pad val, die laaste skof van die verwesenliking van ‘n droom. Ek sal seker ‘n tyd lank van die lug af wees totdat ‘n internetkonneksie in Hermanus gevestig is. Hoop die blog-ding werk ongestoord, ek weet nie wat die impak van verandering van e-pos adres sal wees nie. Dus liewe blogvriende–wederom totdat ek my voete gevind het in Hermanus.

Lewies signing off, vir eers!

 

 

19 antwoorde op Die laaste Sondag…

  1. Eerste wat ek wil sê is, moenie dat jou treklorrie op Richmond oorslaap nie. Tweede is Fanus Rauternbach se sêding wat ek so gek is na. Dinsdag is die eerste dag van die res van jou lewe. Maak maar die internetkonneksie ‘n prioriteit. Thumbs up!

    • O gaats, ek weet nie watter roete die treklorrie ry nie! Ek vertrou maar alles sal goed uitwerk. Ek dink nogal baie aan jou en jou trek uit hierdie geweste na daardie geweste.

  2. tina10 het gesê op Januarie 20, 2013

    Baie sterkte Ek raai aan dat julle al die honde teen Maandag begin verdoof …hulle liggame raak gewoond en hulle maklik hanteerbaar. Dit het ek van ‘n veearts gehoor met die vuurwerke

    Geniet elke oomblik en ek sê ook die internet is prioriteit!

    • Ons het ‘n stroop by die vee-arts gekry, dit werk glo binne vyftien minute. Sal hulle ook nie kos gee die aand voor ons ry nie. Hoop hulle herstel van die mishandeling!

  3. Ons het al ‘n paar maal verhuis – ek was telkens baie nostalgies oor die tuiste wat net ‘n dop geword het en ons wat aanbeweeg

    • Hierdie is ons eerste trek in 34 jaar–ons verlaat ‘n baie lekker huis met ‘n mooi versorgde tuin in ‘n aangename gedeelte van die woonbuurt, maar ons is bereid om dit te verruil vir ‘n nuwe lewe in Hermanus, naby ons kinders.

  4. Aha! Die Lewiesse word Capies!
    Geniet die opwinding van die pak en die trek.

  5. vega het gesê op Januarie 20, 2013

    Alles van die beste, mag dit goed verloop en julle sommer gou tuis wees daar.

  6. Om na 34 jaar nuwe huis op te sit,is seker nie maklik nie.Dis egter ‘n nuwe fase en julle het seker ontslae geraak van al die jare se opgegaarde “robbies”!Geniet dit.

  7. Lewies voorspoed met die trek en getrekkery…

    as julle tuis is en alles ingetrek het…kom loer in sodat ons kan nuus kry.

  8. Eish!

    Sterkte daar – trek issie vir sissies nie!

  9. Sterkte en voorspoed! Sien saam julle uit na die nuwe hoofstuk in julle lewe! Veilig ry! Dis darem vriendelik van die bure – klink my julle gaan lekker lang mekaar bly.
    Laat dit goed gaan!

  10. Baie sterkte met die trekkery, Lewies 🙂

  11. Latino het gesê op Januarie 22, 2013

    Hoop alles verloop goed. Het ´n suster in Vermont en hulle sal julle besoek, maar gelukkig het julle al vriende gemaak met die bure. Hulle was maar eensaam toe hulle daar ingetrek het en sal julle graag wil betrek by die gemeenskap. As jy so sou voel, stuur vir my ´n briefie na [email protected] dan kan ek jou hulle adres stuur, maar hulle woon in Malmokstraat. Groetnis

  12. Jis. Sterkte vir julle trek! Ek trek moontlik alweer, afhangende van hoe die mes sny en sien niks daarna uit nie. Is sommer hartseer! Maar julle gaan na n koel plek waar n koel vriendin van my bly. All the best till the rest.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.