Nog mensionaris

Desember 22, 2012 in Uncategorized

Liewe lesers, nog twee dae se aanmeld by die instelling waar ek die sweet van my aanskyn om den brode verkwansel, dan transformeer ek van mensionaris na pensioenaris. Maar met daai betiteling is ek selfs na veertig jaar in die tuig nie gediend nie–dus sal ek myselwers in die sosiale en finansiële handel en wandel as Emeritus, met die klem op die tweede lettergreep, let wel, a la die voorbeeld van ‘n ander pasgeworde pensionaris, naamlik die Koning van Afrikaanse Uitspraak, die einste, die enigste, die nimlike, of jy hom laaik of nie (hier volg ‘n  dawerende dromrol en ‘n uitspattige trompetgeskal): Riaaaaan Cruywagen!!!! bekendstel (Bliksis, hier skort grammatikale geometrie!–Sal as Emeritus genoeg tyd hê om die sin te analiseer, korrigeer en herpresenteer).

Deel van my onverdrote argwaan teen die roekelose gebruik van “pensionaris” spruit uit die volgende vignette wat hom afspeel in Roosheuwel Slaghuis hier in Klerksdorp, waar die Christelike slagter  al amper die ganse psalm 119 versie vir versie op ‘n uitstalbord in die slaghuis in kreatiewe dog haas leesbare kalligrafie geskryf het. Om sy belydenis van sy  Christelike oortuiging uit te leef bied hy aan pensionarisse afslag: R2 vir elke kilo vleis wat jy koop. (Ek het al vertel hoe hierdie gulhartigheid my eenkeer onthuts het, toe was die afslag slegs R1 per kilo maar is nou met 100% aangepas.) So staan ek en Vroukie voor die glastoonbank met die waarskuwing, die keer nie kalligrafies aangebied nie, dat mens nie eens moet dink om skuld te vra nie, want as jy nie betaal nie is daar kwaai vriendskap met die slagter. Ons mik so tussen die speserybottels wat op die toonbank uitgestal om die assistent te sien en ons bestelling te plaas. Vra sy weer, soos daai keer waarvan ek hierbo melding gemaak het, of ek ‘n pensionaris is en dus geregtig op die karmenaadjie-afslag. Nee, bely ek ewe eerlik, maar ek is op die punt om een te word. Waarop sy toe luid aan haar kollegas oordra, en aan al aan die ander klante binne ‘n benoude hoorafstand, “Julle, die oom is ‘n pensionaris, maar die antie lyk nog oukei.” Slaat my met ‘n nat T bone steak. Net daar besluit ek dat hierdie geriatriese term my nie aanstaan nie, emeritus sal dit wees.

Vroukie het gister haar laaste dag by die werk beleef aangesien daai instelling gesluit het tot na Nuwe Jaar. Nou loop sy hier in die huis rond, met ‘n glas wyn in die hand op onbehoorlike ure, terwyl sy allerhande vryheidsliedere sing: Born free, Free my heart, Heft burghers lied der vrijheid aan, Wil jy vry Kariena en diesulkes.

Een van die dae is ek Liberlewies!!

Op meer sober noot, ek en Vroukie gaan Kersfees in Bethlehem vier, nee, nie daai een onder die ster nie, die ander een langs die Jordaanrivier, aan huis van haar suster en die se famile. Dus bid ek al die bloggers ‘n geseënde Kerstyd en vrede, ja vrede, vir die nuwe jaar,

 

 

18 antwoorde op Nog mensionaris

  1. tina10 het gesê op Desember 22, 2012

    hehehehe… hoe lekker lag ek vir jou … Ek skrik ook nog elke keer vir die afslag. Weet jy hoe lekker skrik daai naam die televerkopers af?

    Terwyl jy nou die klem op die tweede lettergreep wil plaas sal ek jou aanspreek as ME Lewies- hoe’s daai?

    Geniet elke oomblik van julle kuier en reis versigtig. Moenie die kamera en laaier vergeet nie!

  2. Latino het gesê op Desember 22, 2012

    @pasella Ook al langer as ´n jaar wat ek nie meer my beroep van boer beoefen nie, maar ek weet nie van ´n boer wat op pensioen gaan nie. Geniet julle Kersfees daar in Bethlehem en die aftrede in Hermanus of is dit Onrus?

  3. Hi @Lewies Mymer,

    Wat ‘n aangename blog om te lees! Pensioenaris-land is ‘n land waar ek ook nie eintlik wil bly nie, maar hier sit ek of ek dit like of nie. Gelukkig is ons mense so gebou dat ons wel gou-gou nuwe sin aan ons bestaan gee.

    Mooie kersfees vir jou en jou spesiale mense.

  4. Vrede vir julle en kuier lekker saam met die familie. Trek julle nie een of ander tyd Kaap toe nie?

  5. Geseënde kersfees, waarde Emeritus! En moenie bekommer nie, ek word ook reeds sulke p-afslae aangebied en jy sien mos my foto!

  6. ‘n Nuwe era word betree.
    nou die dag op oorvol bus merk ek teenoor Doring op dat ek baie bly is dat ek daar is waar ek maar kan bly sit as daar nog mense op die bus klim. 🙂

  7. Ook saam afgetree. Hier is mos nie Malls waar mens afslag vir hoe ouderdom kry nie, so geen voordeel vir die werkloses nie.

    Geniet die opwinding van oppak en afpak en die nuwe lewe wat voorle.

    x

  8. adage het gesê op Desember 26, 2012

    Dis klink baie goed – Leberieswies
    🙂

  9. hallelujah!! I am a free man!

  10. Ligvoets weer terug oor die Drakensberge……Vreugdevolle feesgety vir julle ook.

Los ’n antwoord vir Latino. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.