So vlieg ons toe in see toe, King Shaka International, all expenses paid, kry ‘n slinternuwe Hyundai i 20, slegs 70 km op die klok. Hy ruik onbetaamlik na ‘n welvaart wat die uwe nie kan bekostig nie, maar dis all in the game, die noveau riche status pas Lewies soos ‘n handskoen. Ons verblyf is in ‘n grand hotel in Umhlanga, Garden Court, maar toe ons die kamertjie sien daal teleurstelling soos ‘n floers oor ons neer. Klein. Piepklein. Maar dis verniet, ons gaan nie dat dit die vakansie bederf nie. En ook nie juis netjies aan die kant gemaak nie, daar lê Nandos-reste op die spieëlkas, halfgebruikte seep, ‘n nat shower cap. So a la ‘n ontugspeurder uit die sewentigs slaan ek die lakens oop, en ja, daar is die bewys, swart op wit. Twee pikswart crinkle cut hare. “Die kamer is nie aan die kant gemaak nie” sê ek vir Vroukie en ek bel room service. Die mama wat aanvanklik ‘n ietwat harregat houding inslaan erken toe later, die kamer is wel aan die kant gemaak, maar nie gestrip nie, volgens haar register is hier nog mense wat hier bly, ze rhum izz occupied. Met baie verskoning van bestuur se kant kry ons toe ‘n ander kamer, en as troosprys, ‘n suite!! Noal met ‘n see-uitsig, weliswaar ver maar nietemin, en ‘n balkon, weliswaar sonder meubels maar nietemin. Nou het ons ge-arrive. Oorweldig deur ‘n gevoel van mildadige tevredenheid sê ek vir Vroukie so teen skemer tyd; “Vroukie”, sê ek, :” hoe lyk dit met ‘n jenewer en tonikumwater drienk?” Vroukie sê dit sal lekker wees. ‘n Indrukwekkende kroeg begroet ons. Die kroegman beken verleë, nee hulle het ongelukkig nie jenewer en tonikum water nie, maar sal gin en tonic doen? Inderdaad. ‘n Dubbel vir Lewies en ‘n skinny vir Vroukie. Behaaglik teug ons aan die ontspanwater, raak so effe loom en lui van die alkohol, ‘n gevoel van wedadigheid klots sagkens oor ons soos brandertjies op ‘n maanligaand.
“Another one sir?”
“Maybe later, thank you. Let me settle our bill”
Tjikke tjik tik-tik slaat hy die computer.
“That will be R83 sir”
Lewies skrik daai aangename gevoel van alkohol beswyming skoon weg. Hy wil iets sê maar dink dat ‘n jet setter die punch met grasie moet vat. Hy skrop diep in sy beursie vir R83.
“Vroukie, ons sal ons op ‘n ander manier moet vermaak as met drank”
Ja wat, en toe het ons.
Onlangse kommentare