O die pyngedagte

Oktober 25, 2011 in Sonder kategorie

Wrang, o wrang die vrugte van die wingerd, en bitter, ja bitterder as gal die wroeging van spyt en selfverwyt, en beskamend die verleentheid van roekelose oordaad. O! Dat ek my stem verhef het teen Vroukie! ‘n Skandelike smetvlek! O! Wou dat Zeus my eerder bliksem met ‘n skitterskig vanaf Olympus, of dat ek weggeraap word na die droewige Hades van  die weggeraaptes, of dat ek die swart buitenste duisternis ingewerp word, om vir ewig eensaam deur die Ewige te wentel saam met Sojoesj Ses,  eer ek my stem verhef het teen Vroukie!


En toe doen ek wat ek dink ‘n man moet doen as hy in die kak is. Ek sit my beste voet voor. Ek vra hartlik en inniglik ekskuus. Ek maak oggendkoffie en lewer dit af. Ek maak brekfis, weliswaar net muesli en jogurt en melk, maar darem. Ek haal ewe farmaseuties haar vitamiene tablette vir die dag uit, sommer ‘n dubbeldosis, en ook allerhande profilaktiese medikasies. Ek sit ‘n skoon glas met water daar neer vir die drinkslag. Ek maak die bed op, alleen. Ek vou haar pajamas netjies op en bêre dit onder haar kopkussing. Ek sit tandepasta op haar tandeborsel. Ek borsel nie my tande met haar borsel nie. Ek tel die tydskrifte in die toilet op. Ek vee die toiletbak se rand af en laat die deksel sak. Ek haal die leë toiletrolletjie af en sit ‘n nuwe een in. Ek maak die garage se deur oop. Ek sit haar laptop in die kattebak. Ek probeer haar koebaai soen. Die aand skink ek vir haar ‘n glasie van my ses jaar en ‘n maand oue KWV, daai wat ek verlede jaar as 5 jaar oue KWV vir my verjaarsdag gekry het. Met vier stukkies ys en ‘n katspoegie water. Ek weerstaan wyslik die versoeking om vir my ‘n dubbel te gooi.


Sy sit in die woonkamer voor die TV toe ek dit afgee. Sy sit op my plek. Sy swaai die remote soos ‘n septer. ”Bring vir my ‘n stukkie sjokolade, “ sê sy. “Twee blokkies”. Sy kyk vir my. “Tjik Tjik” tjik sy soos daai merrie in die Toyota advertensie. Chopper kyk op van waar hy op die matjie voor die TV lê. Hy trek sy stert, wat gewoonlik soos ‘n Karoo windpomp waai in die noordewind, tussen sy bene in. Sy ore hang soos verlepte pampoenblare in ‘n hittegolf. Hy sluip soos ‘n amoeba by die deur uit. Pamela spring regop, haar ore gespits. Sy kyk my reg in die oë. Ek sweer daar is ‘n smaail op haar brakgesig. Chicks stick together.  “En dan kom sit jy hier by my en kyk TV, “ vervolg Vroukie. “Maar Vroukie, dis dan Pasella. Jy weet ek kan nie daai idiotiese gegrinnik van die aanbieders hanteer nie”


“Ek weet,” sê sy. “Kom sit” Ek gaan sit. Op haar plek. Pamela slaan met ‘n tevrede plof neer. Chopper loer versigteig om die kosyn.


Slapenstyd vra ek, “Vroukie, is jy nog kwaad vir my? Ek weet ek het my soos ‘n otter gedra maar jy kan seker nie altyd vir my kwaad bly nie.”

“Nee Lewies, ek is nie meer vir jou kwaad nie .”

“Nou waarom martel jy my met Pasella?”

“Want ek kan.”

 

44 antwoorde op O die pyngedagte

  1. TS het gesê op Oktober 25, 2011

    Grinnik… eish my vriend ek kry jou amper jammer… sug… dat jy nou so die voorposisie op ‘n rugbynaweek kan verloor..

    Doen maar voort die week dalk kry jy ‘n paar voordele terug!

  2. Jip sy ken jou te goed, hier is 5 sterre maar dis nie vir jou nie, dis vir Vroukie!

  3. Aaaah Lewies, jou arme man. Die pyn was goed vir jou kunstenaarsgees – meesterlik vertel!

  4. Van nou af ek ook.

  5. abrham het gesê op Oktober 25, 2011

    soms is liefde – pasella

  6. katrina het gesê op Oktober 25, 2011

    Hahaha, jy WOU mos!

  7. Toemaar, een van die dae is jy weer laat vir werk.

    😀

    Heerlike skrywe, Lewies.

  8. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    hallo Bruggie, gaaf om jou hier te sien!

  9. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Dankie Vliegie, is lekker as iemand hierdie skryfsels geniet!

  10. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Werp jou brood op die water!

  11. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Mmm, maar elke hond kry sy dag!

  12. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Vroukie sê dankie!

  13. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Kunstenaarsiele word gelouter deur suffering!

  14. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    is so, maar Pasella is nie liefde nie!

  15. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Agter elke man…!

  16. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Eintlik wou ek nie!

  17. pasella het gesê op Oktober 25, 2011

    Dis nou waar die groot opmaak inkom!

  18. Geitjie1 het gesê op Oktober 25, 2011

    He he he Lewies……….klink of jy nogal in jou spoor kan trap as dit moet, en………….jy’t nogal ontsag vir Vroukie! Dit hoort so!

  19. vuurklip het gesê op Oktober 25, 2011

    110 uit 100.

    Die 100 vir Vroukie. 10 vir Tjopper.

    Jy tjop af, vir eers …

  20. Want sy kàn. Gie-gie-gie!

  21. Een ding weet ek, aan die einde van die alles sal sy net so lus wees vir opmaak soos jy,…so wag hierkom GROOT dinge.

  22. Hahaha! Siestog, ek is seker as sy hier gelees het, sou sy jou onvoorwaardelik en op die plek vergewe het. Enige een kan fouteer, maar dit vat ‘n ware man om ekskuus te sê!

  23. Freddy67 het gesê op Oktober 26, 2011

    Dit was nou wragtag pret. Daai eerste paragraaf is FANTASIES geskryf. Raam dit!

  24. Ha ha ha ha!!! Vat so! Wat is daai ding van ‘n woman scorned. Ai, shame. Pragtig en kostelik!

    (ek is bly dat jou aksies jou bas gered het!)

  25. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Vroukie is awesome!

  26. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Net so Vuurklip–in die storie is ek die groot aftjopper!

  27. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    …en sy het!

  28. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Ek was ge-inspireer, Charlinkie!

  29. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Die Groot Opmaak, ek sien reikhalsend uit daarna!

  30. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Hi Chocbekkie, a man’s gotta do what a man’s gotta do!

  31. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Dankie Drualcose.
    (Interessant hoe jy jou blognaam uitgewerk het!)

  32. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Maar sy is slinks né, g’n geweld, g’n stilstuipe, maar sy sit my op my plek!

  33. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Lekker dag vir jou!

  34. pasella het gesê op Oktober 27, 2011

    Nee, ek hoef nie meer nie! Nee, jis daai skaapkop smileys maak my mal.

  35. Trakie het gesê op Oktober 28, 2011

    Sit ek nou hier en idioties grinnik vir jou skrywe.

  36. pasella het gesê op Oktober 28, 2011

    Het ek jou dalk al op Pasella gesien? ))?

  37. Trakie het gesê op Oktober 28, 2011

    Ja, ek’s daai lieflike enetjie met die heel grootste grinnink.

    :-}

  38. pasella het gesê op Oktober 28, 2011

    Nou sal ek moet kyk!

  39. vygie het gesê op Oktober 28, 2011

    Jy moet pasop laat vroutjie nie aspris skoor soek, oor die op maak so lekker is nie.

  40. pasella het gesê op Oktober 28, 2011

    The wicked ways of the female of the species!

  41. eros01 het gesê op November 1, 2011

    So lekker om ‘n pos te lees van iemand wat taalvaardig is.xR

  42. pasella het gesê op November 3, 2011

    Dankie Roosmaryn–komende van jou beskou ek dit as ‘n groot kompliment.

  43. Wel gedaan… lekker geglimlag in die hart gedeelte van my lyf …

  44. pasella het gesê op Desember 11, 2011

    Hi Ludwig, altyd lekker om jou hier te sien!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.