Injury on duty: rondte nommer drie
Augustus 28, 2011 in Sonder kategorie
Nou ja, daar is die derde katastrofe nou ontbloot. Gisteraand kom vriende by ons kuier, vanoggend staan die skottelgoed stapelhoog. Hmmm, dag die uwe, hier is ‘n geleentheid om die aandele te laat styg. “Moenie worry nie Vroukie, ek fieks die skottelgoed een, twee, drie.” Ek is mos ‘n boffin met die ding. En wie weet, dalk is daar payback in die vorm van SMS,(of is dit nou SMK?) Gits, dat daai klein maar besondere detail nou moet verlore gaan in die macula van ‘n senior wordende geheue. Terwyl ek nog so ywerig aan Mr Price se wynglas afdroog, breek die glas in my hand. Nog voordat die skerwe op die vloer spat, drup die vet bloeddruppels soos lentereën op die vloer. Nog ek nog Vroukie is behendig met die soort ding, maar op haar aanbeveling ontsmet ek die wond in ‘n sterk Savlon oplossing. Die bloed bly egter vloei en Vroukie sê ” Drup staaldruppels op om die bloeding te stop”.
“Jinne Vroukie, daai goed brand soos vuur op ‘n oop wond!”
“Kan nie erger wees as geboortepyne nie. Ek is al twee keer daardeur. Moenie ‘n sissie wees nie”
Ja maar jy het nog nie ‘n skop in die knaters gehad nie, wil ek sê, maar ek swyg en drup die staaldruppels op. Bliksament!! As geboortepyne erger is as dit is dit ‘n wonder dat die mensdom nog bestaan.
Maar hier sit ek nou, met ‘n pleister op die vinger en lus om ‘n glasie te skink terwyl die lenteson in die weste taan. Glasie? Nottendem! Skink hom in ‘n blikbeker!
Onlangse kommentare