Oor ditjies en datjies, van die os op die jas en die tiet op die tepel.

April 10, 2011 in Sonder kategorie

My langerige afwesigheid hier op die blogs is te danke aan ‘n week vakansie wat ek en Vroukie daar by die see in Umhlanga deurgebring het. Lekker weer gehad, lekker gesee en geswem, gemall en gefliek (Black Swan en True Grit), geëet en gedrink (matig!)en gelees (Landskap met Diere en Willem Poprok).

Gewoonlik vat ons die pad deur die Vrystaat, oor Kroonstad om gou dag te sê vir Skoonpa en dan oor Bethlehem en die Oliviershoekpas. Daai pad was gewees. Dus besluit ons om oor Parys, Sasol, Heilbron en Frankfort te ry en dan by Villiers by die N3 aan te sluit. Ons dag ons ry vroegoggend deur die kosmoslandskappe, stop êrens om brandstof in te neem en te piepie en eet dan ons padkosbroodjies, vars kaasrolletjies met ham, mozzarella, dun skyfies komkommer en ‘n smeersel mosterd. Twee onvoorsiene en onverwagte gebeure versuur egter die idilliese vooruitsig. Ten eerste is die pad netso faktap soos die een wat ons wil vermy, met baie en lang ry en stoppe, en g’n aanvaarbare plek om die broodjie te eet nie. Gevolglik, toe ons nou begin hongerig uitsien na ‘n snack, knibbel ons die broodjie so in die ry, en hier spring ontnugtering nommer twee soos ‘n plattelandse spietkop met ‘n wit handskoen voor ons op: Vroukie het skaars die eerste hap gevat of sy voel iets in haar mond, wat by nadere ondersoek ‘n moerse groot stuk glas blyk te wees. Nou ja, die ontdekking het ons aptyt nogal gedemp en die ander broodjies is baie versigtig geëet. (Checkers broodjies).

Een dag ry ons Durban toe om te sien hoe lyk die stomping ground van ons jong jare se kuiers daar. Ek kon nie glo daai eens vibrant plek lyk nou so nie. Op die strandfront is daar wel pogings tot instandhouding en opgradering, maar net om die hoek in Weststraat is die verval en agteruitgang baie duidelik. Teen ‘n muur lê ‘n swart man, slapend of uitgepass (of sterwend dalk?) ‘n Polisieman wat daar verby loop gee die ou ‘n stewige skop in die ribbes, en toe hy swetsend omrol, stap die polisieman tevrede verder, ten minste is die ou nie dood nie en spring hy ‘n helse lot admin vry.

Op pad terug na die kar stop ‘n ander ou ‘n traktaatjie/pamfletterige papier in my hand. Die kruks van die ellelange stuk is dat die wêreld op 21 Mei 2011 sal vergaan. Repent, the end is naai!

Terug by die huis vind ons met dankkbaarheid huis, haard en honde behoue, danksy buurman Nic se pligsgetroue toesig en opsig, en Abel die tuinman se handewerk.

En nou is dit alles net ‘n aangename herinnering, wat veral teen die einde van die maand as die kredietkaartrekening kom, weer in die gedagtes herleef sal word: Angelo’s Restaurant, Cinema Nouveau, Exclusive Books, Woolies, Spar, Umhlanga Liquors (O gaats!).

 

 

22 antwoorde op Oor ditjies en datjies, van die os op die jas en die tiet op die tepel.

  1. TS het gesê op April 10, 2011

    Welkom tuis.
    ‘n Vriendin het ook sulke vertragings gehad en seker 3 ure later eers in Pta aangekom

  2. HeavyHenry het gesê op April 10, 2011

    Klink of dit darem nie ‘n te kak wegbreek was nie!

  3. Ek is bly jy’s veilig terug! Ek is nie mal oor Durban nie. Is beter om die hoofweg te ry soontoe.

  4. loudavisi het gesê op April 10, 2011

    Welkom terug, Lewies….so ‘n vakansietjie kan ‘n regte eye-opener wees.

  5. Het self goeie jeugherinneringe van Durban en Suidkus.

  6. DallaSePa het gesê op April 10, 2011

    Van toeka tot nou … alles verander.

  7. Waarom trek mense àlles wat hulle op ‘n ski nkbord gekry het so deur hulle gatte? Skande.

  8. Geitjie1 het gesê op April 10, 2011

    Seker vernuwe, en met nuwe moed vir wat voorlê. Wens ek kon jou gewaarsku het oor die plattelandse paaie, sommige lewensgevaarlik, hou liewer ver weg en bly eerder op die hoof roetes.

  9. Geitjie1 het gesê op April 10, 2011

    Seker vernuwe, en met nuwe moed vir wat voorlê. Wens ek kon jou gewaarsku het oor die plattelandse paaie, sommige lewensgevaarlik, hou liewer ver weg en bly eerder op die hoof roetes.

  10. pasella het gesê op April 11, 2011

    Prima, Henry, prima!

  11. pasella het gesê op April 11, 2011

    Dis ‘n nuwe onding waarmee ons moet leer om saam te leef.

  12. pasella het gesê op April 11, 2011

    En eintlik wil mens die oë dan juis bietjie toemaak!

  13. pasella het gesê op April 11, 2011

    In ons jong jare het ons darem lekker gekuier in Durbs!

  14. pasella het gesê op April 11, 2011

    Ai ja, Margate, Uvongo, lekker gewees!

  15. pasella het gesê op April 11, 2011

    Niks is meer dieselle nie

  16. pasella het gesê op April 11, 2011

    Vra jy.

  17. pasella het gesê op April 11, 2011

    Ek het my les geleer oor country roads.

  18. bloukaap het gesê op April 12, 2011

    dagsê Lewies!

  19. Hoe herken jy ‘n dronk bestuurder in Noord-Wes?

    Hy ry reguit.

  20. pasella het gesê op April 12, 2011

    Hoezit Pruim!

  21. pasella het gesê op April 12, 2011

    ons speel dodgems.

  22. pasella het gesê op April 14, 2011

    Bleddie grillerig!

Los ’n antwoord vir HeavyHenry. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.