Van ‘n begrafnis, hemelse hoenderpastei en ‘n besoek aan ‘n museum.

Februarie 21, 2011 in Sonder kategorie


 Vrydagmiddag woon ek en Vroukie die begrafnis van die skoonma van ‘n kollega van my by. Die pastoor doen moeite om ‘n bietjie humor in die diens in te werk. Teen die einde van die diens vertel hy dat die oorledene, Tannie Grietjie, alombekend was vir die lekker hoenderpastei en appeltert wat sy gemaak het. Sy vroutjie het eendag uitgevra na die resep, maar die tante het laggend gesê dit sal eers na haar dood bekend word. Hy vra toe die skoondogters of hulle darem die resep het, en toe hulle hartseer maar instemmend knik, gooi hy sy hande in die lug en roep in ekstase uit, soos ‘n NG predikant wat sy eerste duiwel suksesvol uitdryf “Prys die koning—die resep is gered! Ek het gevrees Tannie Grietjie is vort die ewigheid in met die resep!” So hier en daar het iemand gelag en apostolies hande geklap, maar selwers het ek gedink die pastoortjie verkrag die somber en gewyde atmosfeer.


Op pad huis toe sê Vroukie sy het nou al baie gehoor van die museumwinkel wat opgetert is, ek moet bietjie daar stilhou. So snuffel ons deur al die parafernalieë toe een van die personeel daar aankom, iemand wat ek so verlangs ken. Saam stap ons deur die gebou terwyl hy nou te vertelle het van planne om die plek op te kikker. “Hou julle van oudhede?”vra hy en vertel hoe hy ou meubels opkoop en wat hy alles reeds bymekaar gemaak het. “Nee wat,” sê ek gevat, “die oudste voorwerp wat ek het is my vrou” Toe hy nou so lekker lag oor die spitsvondigheid, kyk ek na Vroukie om te sien of sy ook die grappie waardeer. Haar oë blits vuur, maar haar kyk is kil en yskoud, en ek weet: Hierdie gaan ‘n laaang naweek wees.

En dit was.

13 antwoorde op Van ‘n begrafnis, hemelse hoenderpastei en ‘n besoek aan ‘n museum.

  1. TS het gesê op Februarie 21, 2011

    Jy sal moet opmaak vir hierdie een. Die stomme vrou moet ook heeldag hoor sy is oud!

  2. Ai lewies, wanneer gaan jy leer ‘n stilbek is ‘n heelbek?

  3. Maar jy sien dan nou oudhede se waarde groei en groei en groei – jy moes haar net daarop gewys het!

  4. eros01 het gesê op Februarie 21, 2011

    Het nou die storie oor die pastei verskriklik geniet. Het laasweek ook weer teruggelees aan jou blog en gelag dat die trane rol.Dankie vir die ligte oomblikke!xR

  5. Ai jai jai. Dit is mos nou moeilikheid soek 😉

  6. dagsê Lewies

  7. Jip – daai opmerking sorg dat jy die twee disse kry- “Cold shoulder and hot tongue”…

  8. Ek sal nooit vergeet toe ‘n pastoor op ‘n vriendin se ma se begrafnis, vir die oom sê hy hoef nie lank te treur oor sy vrou se afsterwe nie. Hy sal hom sommer nog in die week aan ‘n paar ou tannies voorstel, solank hy hulle dan net kan trou ook.
    ‘n Grap het altyd sy plek, maar ek dink nie daai pastoor se grappie was baie snaaks nie. Seker maar soos die tannie nie gedink het oom se grappie is baie snaaks nie(Alhoewel ek dink dis skreeusnaaks) hehehe

  9. 🙂
    Gelukkig is hier erfgoed in onse huis wat my in jaarringe oortref.

  10. Jy moet vir ons kom kuier in Parys. Sal graag jou liefde vir oudhede aanwakker…

  11. Die pastoor wou net die arme man laat weet daar is nog hoop en plesier in die lewe vorentoe.

  12. Feite is soms net dit: FEITE

  13. katrina het gesê op Maart 1, 2011

    Haha, jou onsensitiewe mansmens!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.