Uit en tuis

Augustus 15, 2010 in Sonder kategorie

 

 Alle goeie dinge kom tot ‘n einde, en ‘n lekker vakansiekuier by die kinders en kleinkiddies in die Kaap heeltemal te gou. Na ‘n oorslaap in Victoria – Wes kom ons gistermiddag hier by die huis aan, dankbaar dat ons veilig gery het en dat huis, haard en hond bewaar gebly het. Tussen die posstukke is die eerste herinnering aan ons vakansie, vanaf Maquassi Hills Municipality, Wolmaransstad, hier skaars aan die begin van ons reis, R350, 00 spoedoortreding. Ag fokkitie tog, en ek, ons, het heelpad die spoedbeperking dopgehou en probeer gehoorsaam. Ek suip eerder R350, 00 uit as wat ek dit aan Maquassi Hills Municipality skenk. Droogte vorentoe, swaer. Watter ander onaangename verrassings is op pad?

 

Juis hier vroeg-oggend gister dryf Vroukie op pad na Britstown.

 

“Jinne, Vroukie, jy is 30 km per uur oor die spoedbeperking.”

 

“Kan nie wees nie. Ons is lankal uit die 80 km sone”

 

“Nog steeds. Jy ry teen 150 km!”

 

“Oepsie!”

 

Naby Hopetown is ek aan die stuur. Daar in die veld neffens die pad sien ek ‘n vrou in ‘n blou uniform sit. Sy hurk onbetaamlik, oopketel. Skud seker die dou van die lelie af, dink ek. Dan blink iets tussen haar bene. Sjoe, die nood was hoog, kon sy nie maar weg van die toeskouers gemik het nie? So met die verbygaan sien ek dis ‘n kamera wat sy so tussen haar bene troetel. Ag ja. Nog ‘n aandenking uit die haai Karoo.

 

Die pad was mooi, verskeie verleggings en stop- en ry- beurte ten spyt, 13 van hulle. By sommige was ons darem in die rystroom en was daar nie ‘n gewaggery nie. Mens sien die positiewe sy daarvan in, ten minste word die pad in stand gehou. Verdra die ongerief maar geduldig.

 

Maar nou sit ek hier, hewig ontstem, met ander woorde de bliksem in. Vroukie en ‘n kollega is so teen vier uur hier weg Sandton toe waar sy vir die volgende drie dae ‘n workshop oor risk management moet bywoon. Wie is so bedonnerd in sy kop dat hy so-iets reël dat die afgevaardigdes op ‘n Sondagmiddag moet inklok? Het daai fokker dan geen persoonlike of gesinslewe nie? Om die moerigheid te koester sal nie help nie, en ek en ou Pamela die werfhond sal maar die Sabbatseensaamheid saam trotseer. Dalk gaan ek êrens kuier, sal maar sien wie my wil akkommodeer.

 

En more is dit terug in die tuig, en die tuig gaan skawe, dit weet ek. Die klein kakkertjies wat ek agtergelaat het is nou seker groot kak, saam met die wat intussen aangewas het.

 

In die sweet van jou aanskyn…

20 antwoorde op Uit en tuis

  1. Oor die veilig by die huis kom, is mens die dankbaarste. As alles dan ook nog daar is, ‘n bonus. boetes: Kan hulle nie verstaan dat ‘n pad lank kan word nie

  2. Ek is dankbaar dat julle veilig tuis is, Lewies.
    Hoop julle het die heerlike weer in die Kaapomgewing waardeer.

    Jy’s welkom om bietjie in blogville te kuier.

  3. eros01 het gesê op Augustus 15, 2010

    welkom terug x R

  4. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    ‘n Ware Ghaapiaanse opmerking!

  5. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Die veilig tuiskom en ongeskonde huis en haard is die belangrikste. Die blerrie boetes is net ‘n irriterende en gatsakskuddende insident.

  6. ek het ook ‘n paar kameraflitse gesien met al my kaap toe ryery, so nou gaan haal ek doodgewoon nie pos uit nie 😉
    Jy weet mos, wat die oog nie sien nie maak die hart nie seer nie…..

  7. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Dit was maar koud en reënerig daar in die kaap, Lou. Die laaste twee of drie dae was die weer eksie-perfeksie. Maar ten spyte daarvan het ons lekker gekuier met die kinders en die kleinkinders–pure plesierigheid gewees! (Jy weet mos)

  8. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Dankie Roosmaryn!

  9. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Daar is so baie dreigemente oor wat met jou gedoen sal word as jy nie daai boetes betaal nie–om al die ergernis te vermy rig ek beleefd en nederig vertoë en vra afslag. Dan betaal ek maar.

  10. Trakie het gesê op Augustus 15, 2010

    Ai, hoekom moet ‘n onwilligaard altyd met so ‘n moerse slag terug aarde toe kom?

  11. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Dan is ek darem nie die enigste sondaar nie! Ek het al gedink mens moet deur Kimberley reverse, dan kom jy dalk skotvry daar deur.

    (Ek het heelwat pret met jou lysie Afrikaanse boeke–ek neem aan jy het dit vir Kleinmond bib opgestel?)

  12. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Ja, dis met redelike onwilligheid dat ek hier inklok om weer more te gaan werk, maar lyk my ek moet werk om die flippen spoedboetes te kan betaal!

  13. pasella het gesê op Augustus 15, 2010

    Hi Therina, ten spyte van al die lekker kuier is dit goed om weer by die huis te wees. Ek en ou Pammy knor so effe vir mekaar, sy is seker vies omdat ons haar so lank alleen gelos het!

  14. Berwick het gesê op Augustus 16, 2010

    Groetnis, Lewies.

  15. bly julle is veilig ou vrind, en dat die oop vlates en breek dese siele gevoed het. maar het ‘n vraag, is die Kaap, die hele KAAP maar net nie beter as enige plek op aaaarde nie?

  16. pasella het gesê op Augustus 16, 2010

    Dagsê Berwick!

  17. pasella het gesê op Augustus 16, 2010

    Daar is nie ‘n plek op hierie ondermaanse waar my gees tydens ‘n breek beter gevoed word as in die Kaap nie! Maar ter wille van die voeding van die vlees moet ek hier vertoef.

  18. pasella het gesê op Augustus 19, 2010

    Daai plek is berug vir ongevraagde eenrigting korrespondensdie!

  19. Jellow OOm!

Los ’n antwoord vir loudavisi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.