Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Abel leer die triek van die lektriek

April 2, 2010 in Sonder kategorie

‘n Tydjie gelede kuier Skoonpa vir ‘n paar dae hier by ons om Vroukie se verjaarsdag saam met ons te vier. Ten spyte van die somers agter sy rug, agt en tagtig van hulle, is hy nie iemand vir stilsit nie. Ek gee hom dus ‘n ekstensietol waarvan die konneksies binne in die plug los is en vra hom om dit reg te maak. Dis nou juis Dinsdag, die dag wat Abel die tuinman die tuin kom diens. Abel is egter iemand wat meer weet as wat mens hom sou toereken, of so glo hy, altans. As ek in die garage doenig is, staan Abel nader met raad en daad, meer van eersgenoemde as laasgenoemde. Soms trek hy my nerwe dun, maar ter wille van  ubuntu, simunye,  Vukuzenzele en *ke ?kerre !Ka hou ek my in. Toe Skoonpa nou so vooroorgeboë sit en met eindelose geduld die skroefies een vir een uitdraai en versigtig in die omgekeerde Toyota rubbermatjie se holtes bêre, swiep Abel soos ‘n arend op hom af.

 

 

Hier is die twee doenig. Steelfoto van Vroukie. (Ons het stout binnepret: hulle altwee het net sig in een oog, Abel kry ons so, Skoonpa se gesgisverlies is te wyte aan gloukoom, die een eenoog leer die ander een!)

 

Skoonpa se geduldsdrempel is baie hoog, êrens in die stratosfeer, en hy beduie vir Abel hoe om die plug te bedraad. Die groen draad is soos ‘n groen boom, hy is hoog en gaan by die verste gaatjie. Die rooi draad is die kragdraad, hy is sterk en gaan by die gaatjie van jou sterk hand. Die draad wat oorbly gaan in die gaatjie wat oorbly. Maklik. Abel knik instemmend. Maklik.

 

Toe Abel weer kom werk, vra ek hom uit oor sy saamwerkery aan die regmaakaksie. Die oubaas het hom mooi geleer, sê hy, en vertel my die bedradingspatroon.

 

“Dis nou maklik om te onthou, Abel. Watter een is jou sterk hand?”

 

Abel se oog verfloers. ‘n Peisende frons trek sooie oor sy voorkop. Hy loer na die regterhand, dan na die linkerhand. Dan daag begrip verhelderend oor sy gelaat, soos die sonsopkoms oor die Langeberge. Het daghet overal.

 

 

“Hier is my sterk hand” sê hy vas en seker en hou sy linkerhand uit.

 

O fok.

 

Mea culpa, mea maxima culpa

April 2, 2010 in Sonder kategorie

Nee, dis nie ‘n kentering in my geloofslewe hier oor die Pase nie. Dis die gevoel van verslaentheid wat oor my kom as ek die flentergat swembad so bekyk en onteenseglik besef: Hierdie vanjaar moet hy herstel word, geskatte koste R20 000, 00. Dis skuld, moerse groot skuld.

 

Vae victis.

 

(Woe to the conquered, of in mooi Afrikaans, skop die bliksem terwyl hy lê)