Back in the saddle again
November 23, 2009 in Sonder kategorie
So ‘n maand of wat gelede sit ek daar in Mafifikokkenkeng in ‘n kursus oor projekbestuur. Die was nogal ‘n ernstige poging, aangebied deur UP, nie die hierjy goete wat so dikwels oor my pad kom nie. Deel daarvan was om ‘n werkstuk na afloop van die kursus in te handig om ‘n sertifikaat van UP te verwerf. Nou ja, ek het ‘n lewwetrie vol sertifikate, beginnende met die geboorte een, toe dag ek voor ek nou by die sterfte een uitkom, laat ek die een traai, hy sal darem mooi lyk so op die mantel piece, in ‘n Clicks raam, so skuins gedraai neffens my en Vroukie se trou portret. Kan dit ook saamneem eendag na Huis Westergloor, om my te herinner aan vervloë glorie. In oormoed pak ek toe die uitdaging aan, maar sommer gou voel ek soos ‘n tweedehandse Griek wat sy eerste Marathon doen–my akademiese fiksheid was laas in Sub A onder Juffrou Langie so tien bo gemiddeld, nou is dit gone with the wind. Ek sukkel, al my trieks uit die studente jare is nou so deursigtig soos ‘n neglige in die maanlig, vol beloftes maar sonder resultate. So op die nipertjie wil-wil ek besluit: te moer met die sertifikaat, maar glorie en eer laat my vasbyt. Eindelik–daar is die gewraakte opdrag signed, sealed and delivered. Nou sit ek hortend en wag op die uitslag. Darem kan ek nou weer hier op die blogs dwaal en probeer inhaal op wat ek misgeloop het!
Onlangse kommentare