Askies Boikie

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Klein Liam Enso, oor wie se aankoms ek so breëbors geblog het, het verlede week op die ouderdom van skaars vyf maande met die binnekant van ‘n hospitaal kennisgemaak toe hy met bronchelitis opgeneem is. Sy pa en ma het onverdrote om die beurt by hom gebly, dag en nag. Intussen moes pa Boikie bedags werk en kleinsus Mira moes ook nie afgeskeep word nie. Daarby was die hospitaal ook nie juis net om die draai nie. Nogal ‘n dramatiese ingreep in ‘n gevestigde roetine.

Nou is Liam gesond en ontslaan en die normale patroon van leef en werk is herstel.

Tydens die harwar en die heen en weer bellery, smse en e posse, wonder ek teenoor Boikie of dit werklik nodig is om voltyds by die outjie te bly, hy is immers in goeie hande. Nee, kom die antwoord met min verbloemde verotwaardiging, een van die ouers moet daar wees om gerus te laat voel, al ervaar hy die ouer teenwoordigheid ook net subliminaal.

Nou ja Boikie, nou moet ek bieg en bely. Toe jy so drie maande oud was het ons in Bethlehem gebly. Jy was siek en die plaaslike GP het jou so a la mediese netwerkbemarking na ‘n kollega (of dalk studente drinkebroer) in Pretoria verwys wat urienweginfeksie gediagnoseer het en jou vir ‘n week in ‘n hospitaal daar laat opneem het. Ek en Ma het jou met hartseer maar met vertroue in die mediese sorg daar gelos (ai, dit wil klink soos verlaat!), so op jou eie alleen.

Askies Boikie, ek moet boete doen om die skuldgevoel te besweer wat nou soos ‘n aasvoël op my skouer sit. Ek gaan nou na daai knorrige Des Fontaine se sportwinkel om daai Powell and Peralta skateboard wat jy toentertyd so begeer het maar wat ek gedink het is hopeloos te duur teen R450, 00, vir jou te koop vir Krismis! Sommer ook daai Spiderman suit!

11 antwoorde op Askies Boikie

  1. Dit was vir my weer lekker om alleen agter te bly in die hospitaal.
    Maar dan ook weer. Ek en Ouboet was 90% van die kere saam opgeneem vir dieselfde siektes en het dan sommer ‘n kamer gedeel. As my ouers pal daar sou wees, sou dit slegs wees om seker te maak ons keer nie die hospitaal op sy dak om nie.
    Mooi naweek oom Lewis

  2. katrina het gesê op Oktober 31, 2009

    Min dinge so uitmergelend soos ‘n agterna-skuldgevoel. Maar ek sou graag Boikie se gesig wou sien as jy wel daar aankom met die Spiderman suit!

  3. Die goeie ou dae..dis duidelik nou ‘n perd van ‘n ander kleur…ons huisbediende vertel dat in hierdie provinsiale hospitale los geen vrou haar kind ‘n oomblik alleen nie..Jy kry hom in die lykshuis as jy dit waag..en geen haan kraai ooit weer daarna nie..

  4. So mooi vertel. Bly die kleinman is weer gesond!

  5. jannel1 het gesê op Oktober 31, 2009

    Klein Twakkies het presies dieselfde oorgekom – ook op 5 maande. Hy het dit amper nie gemaak nie en was kritiek met sy aankoms by die hospitaal. As ongevalle personeel rond hardloop met suurstof en dinge vir jou kind, kry die lewe ‘n totaal ‘n ander perspektief. Noodsaaklik en belangrike dinge word skielik onbenullig klein in ‘n groter geheel.

  6. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    Kerneels, my simpatie lê by jou ouers!

  7. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    Hi Katrina! Ja nee, nou het mens tyd om aan dinge te dink wat hoeka nie meer saak maak nie!

  8. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    En ons het gedink die goeie ou dae sal nooit ophou nie.

  9. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    Stemmig Therina, ek is ‘n stemmige outjie!

  10. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    Dankie Moeder! Hy is nou so reg soos reën!

  11. pasella het gesê op Oktober 31, 2009

    Dis mens se ergste bekommernis Jan–die welsyn van jou kiddies.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.