Lewies is in die wolke

Oktober 14, 2009 in Sonder kategorie

 

3:47

Dis wat die wekradio se rooi liggies my vertel.

 

“Jissie, Vroukie, skuif bietjie op! Ek het nie meer plek om te lê nie!” sê ek so half fluisterend. Sy moet hoor en reageer, maar ek wil haar darem nou nie wakker maak nie.

 

Sy reageer onmiddellik. “Mmmprprmm!”murmel sy en du stywer teen my aan. Sy wen so 1cm veld. Ek druk versigtig terug maar in ‘n verrassingskuif draai sy halfpad om na my en wen nog ‘n sentimeter.

 

“Fokkit Vroukie” my fluistering is nie meer heeltemal fluisterend nie. “Lê soontoe! Ek het nie plek nie!”

 

Vroukie haal diep asem en sug behaaglik.

 

So gaan ek nie my verlore lêplek herwin nie. Ek trap vas en druk ferm teen haar. My toonaels grou grrts grrts in die laken in. Sy rol effens weg en ek wen veld. Net toe ekontspan kom sy met ‘n hernieude aanslag en skuif half onder my in. Ek hang nou soos ‘n vlermuis aan die kant van die bed.

 

Voor jy kan sê “Touch, pause, engage” slaan ek terug met ‘n stewige regterskouer, maar in ‘n klassieke Os du Randt skuif swaai sy die skrum en sit ‘n  onverwagse romaalbeweging aan die gang. Voordat ek my kan posisioneer teen die aanslag  is ons terug in my doelgebied. “Beassst!!!” sing die tinnitus in my ore.

 

Dan sê sy, “ More Skapie! Maar jy slaap te lekker vanoggend! Rustige nag gehad?”

Ek kyk op en sien haar waar sy hier by die bed staan met koffie in die hand. “Jy sal moet roer, die kallers suip uit!”

 

Dan het ek tog uiteindelik aan die slaap geraak.

 

“Nee, Vroukie, ek het nie ‘n rustige nag gehad nie. Jy het heel nag hier half bo-op my gelê. Ek het g’n plek gehad nie”

 

“En ‘n goeie more vir jou ook, Lewies”

 

“More Vroukie. Vir wat druk jy my die heel nag so van die bed af?”

 

“Ek het jou al lankal gesê die matras is hol gelê. Ons rol in die nag na mekaar toe”

 

“Die matras is so te sê splinternuut. Van wat sal hy nou al hol gelê wees?”

 

“Sê jy vir my! En die matras is nie so te sê splinternuut nie. Ek het die faktuur gaan uitgrawe. Ons het hom in 1995 gekoop. Dis hoog tyd dat hy vervang word”

 

“Hulle maak ook nie meer die goed soos in die ou dae nie, “ brom ek. “Dis vandat daar inner springs en coil springs en sulke goed in die matrasse gesit word dat dit nie meer hou nie. Daai outydse klaaperhaar matrasse waarmee ek grootgeword het was die beste.”

 

“ Jaaa, Skapie. Is net so”

 

So dwaal ons van winkel tot winkel en swerf op die internet rond. Die een is beter as die ander, die een het ‘n 2 jaar vervangingswaarborg, die ander 5 jaar. Die een kos dit die ander dat. Maar dan neem ons die gewigtige besluit.

 

Die volgende middag word die matras afgelewer, sommer met ‘n nuwe basis ook.  Vroukie maak flink bed op.

 

 “Ek het ook vir ons nuwe kussings gekoop, die ander was al so uit fatsoen uit”

 

Slapenstyd lê Vroukie al in die bed en lees toe ek uit die badkamer kom.

 

“En toe, “vra ek, “hoe’s die nuwe matras?”

 

“Kom probeer self,” nooi sy. Hoor ek iets in haar stem, dalk ‘n vaag bedekte uitnodigning?

 

“Kom sweef saam met my op cloud nine,” sê sy en klap-klap op die bed, “maar versigtig nê, onthou, die matras moet nog lank hou!”

 

 

 

 

18 antwoorde op Lewies is in die wolke

  1. Dankie vir die waarheid!
    Goeie keuse – dis al wat ons op slaap. Reg deur die huis.
    Lekker bedinwy

  2. Berwick het gesê op Oktober 14, 2009

    Puik, Lewies!

  3. gidivet het gesê op Oktober 14, 2009

    ‘n Goeie matras is ‘n belegging. In meer as een opsig…

  4. icysparx het gesê op Oktober 14, 2009

    Oulik verby!

  5. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    So vir in geval!

  6. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Hallo Lou!

  7. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Dankie Berwick, ook vir die sterretjies!

  8. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Dankie Maankind!

  9. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Matigheid voor oë, Annemari, soos my pa altyd gesê het!

  10. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Net so , Gidi! Dankie vir die shiners!

  11. pasella het gesê op Oktober 14, 2009

    Dankie Liekie!

  12. pasella het gesê op Oktober 15, 2009

    Sterkte met die aankoop, Murphy!

  13. He,he Lewies jou vertelling is skreeusnaaks!!!

  14. pasella het gesê op Oktober 15, 2009

    Ek maak so Annemari!

  15. pasella het gesê op Oktober 15, 2009

    Hallo Tweeling!

  16. pasella het gesê op Oktober 15, 2009

    By geleentheid, Makkie!

  17. weet oom of daar nog van daai matrasse oor is. my helfte slaap links as jy van voete boontoe kyk en ek regs. ons matras loop afdraand links. cloud nine nogal!

  18. pasella het gesê op Oktober 17, 2009

    Sjiet Abrham, ek het nie raad nie, ek sou sê kry ‘n ander vrou!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.