Jy blaai in die argief vir 2009 Maart.

Pasop pasop

Maart 15, 2009 in Sonder kategorie

Gevaarlike naweek die, begin met Vrydag 13 en eindig met die Ides van Mars. Pasop vir swart katte en rugstekers!

Toe toe Tutu

Maart 8, 2009 in Sonder kategorie

Is maar kakkerig om so alleen te wees op die Sabbatsavond. Ek sit hier voor die rekenaar met ‘n glasie rooiwyn, (nie te veel nie , Lewies, more is Maandag!) en die werfhond wat hier by my voete lê.

So ‘n paar blokke van ons huis af is ‘n groot oop veld, waar die fondasie van Desmond Tutu se geboortehuis onder ‘n ewe eensame bloekomboom uitgewys is. Die plan is om hier ‘n moerske community centre te bou, van creches tot ouetehuise, maar noudat Tutu hom uitspreek teen elemente in die ANC sal dit seker voorlopig net ‘n lugkasteel bly.

‘n Paar jaar gelede had ons ‘n Staffie , die oulikste hond op vier voete, wat teen laatmiddag kens geraak het vir haar stappie. Elke dag. As haar baas nie ontsag gehad het vir donderweer nie was dit come hell or high water. Ter afwisseling het ons verskillende staproetes gehad, en een het nou juis neffens daardie heilige akker verbygesny. Dit het vir Mary Lou perverse plesier verkaf om juis daardie gewyde grond te desekreer deur hurkend daarop te eksekreer. Die van julle wat Staffies ken sal weet van die kenmerkende Staffie smaail. Haar smaail was nie een van verligting nie, maar van onnutsigheid. Ek het op daardie stadium nie mooi geweet van politieke korrektheid nie en het Mary Lou aangejaag: “Toe toe, Mary Lou, roer jou gat en skyt klaar”

Nou lê Pamela hier by my voete, ook ‘n hond met ‘n storie, maar dit vertel ek later.

Stoksielsaligalleen op die Sabbatsmiddag

Maart 8, 2009 in Sonder kategorie

Vroukie het so pas die pad gevat Pretoria toe–sy het more van vroeg af ‘n workshop daar. Die feit dat sy more verjaar vererger die situasie, maar as jy in diens is moet jy maar maak soos Baas sê. Ek sal more iets spesiaals doen om haar te treat. Ek het ‘n paar idees gesteel by Thomas en sal my daardeur laat lei.

My lewensmaat
My hart se maat
My sonskynvrou
Ek is lief vir jou

Koshuiskamers en kletskamers

Maart 7, 2009 in Sonder kategorie

Om die blogs te lees laat my terugdink aan die jare toet toe ek ‘n inwoner van Vishuis op die Kovsiekampus was. Dis soos om in die koshuisgange te stap en by die kamers in te loer. In elke kamer is die ouens aan die gesels oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe, elkeen wat inloer gesels saam en stap dan verder, en oor dit alles hang ‘n rustige atmosfeer van gemeensaamheid.

Papperye

Maart 6, 2009 in Sonder kategorie

 
Vanoggend toe ek wil skeer sal ek uitvind die skeermes se battery is pap . hoe dit gebeur het sonder dat ek agterkom die ding is aan die afloop weet nugter, maar nou ja, hier op die heilige Vrydag is dit so. Daar is nog skeergel vir ‘n nat skeer, maar toe ek dit spuit prrrrt ‘n banale geluid daaruit wat mens sal laat bloos as dit jou liggaam sou ontsnap.. Daar blerts so ‘n slapskyt slymerige slikkerigheid uit wat enige moeder vervaard na die kroepdruppels sal laat gryp as sy dit in haar baba se doek sou ontdek. Toe ek die skeermes deur die gedoente trek klink dit so rasperig asof die Dalai Lama in ‘n bemoerde bui sy Zen tuin hark. So stomp soos ‘n bleddie buskaartjie. Bloeddruppels spring op soos poppies in Vlaandere veld. Ek plak die wonde toe met stukkies toiletpapier om die bloedvloei te stop. Dit help darem, maar as ek my gesig so in die spieël betrag, lyk dit soos Ramses die Derde se mummie nadat die vismotte hom beetgehad het.

Vroukie kom die badkamer binne en roep verbaas “My kwit Skapie (!), probeer jy selfmoord pleeg? Kyk hoe lyk jou gesig! wat op aarde gaan aan?”

“Die bleddie (aan die leser: voeg self meer gepaste byvoeglike naamwoorde uit die F register in, sommer ‘n paar) skeermes se battery is pap, die (voeg weer byvoeglike naamwoorde in) skeergel se viskositeit is soos die van katpis en die (en weer) skeermes is in sy moer in stomp. Ek bloei my vrek en dit alles oor ‘n (en weer, maar nou met mening, en sommer baie) pap battery !” Ek kom agter daar is onverbloemde ongeduld in my stem.

“ Ai Skapie, moenie so ongeduldig wees nie. Dis Vrydag, en die naweek lê voor. En ek is seker jou batterye is nie pap nie, hmm?” Subtiele beklemtoning op “jou”, haar stem is soel soos ‘n somersnag langs die see, warm soos swart fluweel.

En toe kom ek alweer laat by die werk.

Nylon

Maart 5, 2009 in Sonder kategorie

Ek en Buurman staan so en gesels oor dit en dat en die tuin. Ek kla dat die kweek die kikoejoe inneem en dat die lawn  so verwaarloos lyk. Hy sê hy het nou nylon, want dis wat al die buurt se honde op sy lawn kom doen!

Brak op straat

Maart 2, 2009 in Sonder kategorie

 Ek en Vroukie stap nou die aand flink deur die woonbuurt waar ons bly om lug te skep na die gevangeskap in ons onderskeie kantore. Skielik storm ‘n moerse  belseboel uit ‘n erf op ons af, erg aggresief, dis net tande en kwyl. Die hek staan oop en ek hoor mense agter in die erf, en om hulle aandag te trek skreeu ek “Voetsek” en allerhande ander gepaste dinge, wat ek weet mens nie moet doen nie want dan hits jy die brak net verder aan. Toe ek dink die hond vat my nou, sluip sy baas soos ‘n nat poep by die hek uit, so asof hy wil vra “Kan ek jou help?” Gelukkig word die situasie ontlont en die hond word agter die hek toegemaak, waar hy in die eerste instansie hoort. Ek en Vroukie had ‘n stewige skoot van die amber vloeistof nodig om tot bedaring te kom. Ek gaan verseker een van daai skokstokke koop om die brakke op ‘n afstand te hou, dit help nie om hulle te looi met ‘n sambok of ‘n kierie nie, hulle word net meer aggresief.