Ek het Vrydag so ‘n half uitsonderlike belewenis gehad. Vroegoggend, oppad werk toe. Dis elke oggend se ding…ons sit almal vas in Zambezirylaan, daar by die Zambezi Mall en wag om regs te draai, in die Molotto-pad in. Partykeer dam die verkeer tot so ‘n halfkilometer ver op en mens moet maar geduldig wees. Ek geniet daardie tydjie eintlik baie, want dis een van die dele van Pretoria waar voorstedelike uitbreiding en die wildernis mekaar nog met groot simpatie omhels. Links van my is ‘n lusernland, heerlik groen, so met wilde afrika grasse op die sypaadjie. Ek raak altyd heerlik verdiep as die grasse so lui rondwaai in die wind…allerhande verskillende soorte. voorlangs, is daar die met so ‘n klein, blinkswart pluimpie. En agterlangs die hogere soorte wat so met die draai van die seisoen na die lieflikste pienk verkleur. Dan, as ekstra bonus vir die retina, is daar ook die tyd van die jaar die wilde opslag Jacob-regops. Mal-oranje! En saam met hulle die moring glory met sy middernagblou blomme.
So sit ek toe vrydag met hierdie meesleurende herfs display om my, toe ‘n blouvalkie skielik neerswiep en hier reg langs my, op die middelmannetjie vir ‘hom ‘n vet rot vang. Hy tik die aarde net so liggies en toe klap hy weer sy vlerke om hoogte te kry, die rot wriemelend in sy heldergeel kloutjies. Ongelukkig swiep hy voor die aankomende verkeer in en ‘n Jeep kom reg op hom afgepeil! Ek bid hom behoorlik bokant die Jeep uit en die mis hom gelukkig met ‘n haarbreedte. Toe maak hy ‘n swierige draai bo-oor my kar en verdwyn iewers in die lusernland om sy brekfis te gaan nuttig.
Die res van die oggend was als net soveel helderder en mooier, selfs die manier hoe die son van die karwrakke by die scrapyard in silverton af reflekteer, het my hart laat sing.
Dis verblydend ook vir my om te sien hoe wildlewe by ‘n veranderende omgewing kan aanpas!
Ek sit toe nog lank en peins oor die feit dat hierdie miniskule klein drama, met tragiese gevolge vir die rot, my weer op so ‘n diep vlak met die lewe kan laat connect. En terug by die huis het ek vergeefs probeer om Blouvalk-blou met my verf te meng. Vir iemand met so ‘n kitsch siel soos ek is dit eenvoudig net te subtiel. julle sal moet settle vir so ‘n “lectric blue disco valk ongedierte…
(of miskien moet ek eerder gaan vir Speursersant se “bonker” blou)
Onlangse kommentare