by

Ek het altyd gedink n enigste kind het Hemel op aarde……

Mei 26, 2012 in Sonder kategorie

Ou Martiens was die enigste kind van ons buurplaas. Ons was vyf en Pa se plaas was te klein toe ons erf, ons moes of verkoop of n sukkelbestaan voer. Martiens het sy eerste fiets in standerd twee gekry, ons eers in Standerd sewe, want Pa het in sy wysheid en armoede besluit almal moet gelyk fietse kry. Martiens het ook beter en nuwer klere as ons gedra, het gou sy eerste horlosie gekry, sy eerste eie saal en toom en ook later lank voor ons, sy eerste kar. Dis net goedkoper om een kind groot te maak as vyf. Ja, soms was ons wel n bietjie jaloers op hierdie enigste kind wat dit so lekker het op aarde.

 

Ek kuier nou die dag by hom waar hy steeds op die plaas in die bywonershuisie woon. Sy seun boer nou, Martiens is afgetree, hy boer met n paar skaap en n paar beeste op die kamp wat hy vir hom uitgehou het. Sommer hier naby langs sy huis af tot by die rivier. Sy jaart is baie veilig omhein en hy het n Boerboel en n steekbaard Jack Russel. Hy vertel dat hy na sy vrou se dood n jaar in die netjiese losstaande woonstelle van die ouetehuis op die dorp gebly het. Daar het hy amper dood gegaan se hy. Toe trek hy onder hewige teenkanting van sy vier kinders terug plaas toe. Beste ding wat hy kon doen, se hy.

 

Hy wys my sy woonplek aan die binnekant. Die slaapkamer, badkamer en studeerkamer is amper een oopplan eenheid. Die groot ou sitkamer en die eetkamer staan soos wit olifante in onbruik. Die sonstoep het hy toegebou en n Jetmaster braai eenheid teen n muur ingebou. Daar is varings in potte en nog ander plante. Op die vloer is n uitgetrapte bosbokvel, ek was by toe hy die bok lank gelede daar in die Oos Kaap geskiet het. Ons gesels oor daardie jagtrip.

 

Jy kan sien soos enige ou mens maak hy sy wereld al kleiner om hom, in  die studeerkamer sien ek n ou karavaan yskassie en n tafeltjie met n ketel en n paar koffie bekers. Alles is byna binne reikafstand van jou hand.

 

Ons sit tussen die varings op rottangmeubels en Martiens gesels land en sand aanmekaar.

 

” Jy weet Toppie, kinders en ander vreemde ou mense kan nie lekker gesels nie, hulle weet nie van dinge wat ek en jy van weet nie, man.” se hy.

 

” Onthou jy nog daai perd wat Pa verkoop het aan oom Stoffel, die oom het mos toe n paar jaar later met sy bakkie verongeluk. Toe koop Pa vir Fleur terug. En terug hier by ons het hy koppig vir dae probeer om deur die hek van die damkamp te kom. Jy was by die dag toe ons twee besluit het ons maak die hek oop om te sien wat soek hy dan daar.” vertel hy opgewonde.

 

Ek onthou dit en se dit vir hom, sy oe blink sommer as hy verder vertel.

 

” Hy het dadelik afgehardloop dam toe en daar geswem en baljaar vir byna n halfuur. Toe kom hy terug gehrdloop met sy stert in die lug tot hier by die kaal getrapte stuk grond langs die waterkrip. Daar het hy rondgerol en stof opgeskop tot hy genoeg gehad het. Toe kom staan hy hier naby ons teen die draad en skud hom skoon. Kan jy nog onthou hoe klink dit as n perd hom skoon skud, Toppie?. Die stadsmense ken nie daardie dreungeluid nie.”

 

Ek kry eintlik lekker soos die ou vertel, dit voel soos medisyne vir my siel om al die goed te kan onthou en in my gedagtes te kan herleef.

 

Na die tweede glasie Old Brown Sjerrie se ou Martiens vir my.

 

” Jy het darem jou broers en susters met wie jy kan gesels, ek nie. Ek praat soms met die bome en die veld, net hulle weet van ek en Frieda se lewe hier. Wens Pa en Ma het nog kinders gehad. So bly jy het kom kuier Toppie. Kan jy bly dat ons rugby kyk, Cheetahs speel vandag.”

 

 

 

 

5 antwoorde op Ek het altyd gedink n enigste kind het Hemel op aarde……

  1. HeavyHenry het gesê op Mei 26, 2012

    Ag nice!

  2. loudavisi het gesê op Mei 26, 2012

    Ek raak altyd opgewonde as ek sien jy is hier – oor ek jou skrywes so geniet.

    Hierdie een is weereens puik.
    Dankie

  3. Ou-Top het gesê op Mei 26, 2012

    Ek sal maar eendag ophou skryf as ek sien die mense lees dit nie meer nie. Dankie vir julle wat gereeld hier kom kuier.

  4. Perdebytjie het gesê op Mei 26, 2012

    Lekker geskryf Ou Top!!Moenie ophou nie asseblief.

  5. lekker gelees. Dankie, ou Top.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.