Kinders maak jou klaar.
April 25, 2012 in Sonder kategorie
Jou hare val uit, jy sweet van angs en jy voel magteloos. Laatlam is nou 22 en besig met haar honneurs in Kaapstad. Sy is klein en mooi en te avontuurlik vir ek en my vrou se ouderdom en senuwees. Sy en haar vriend gaan klim Tafelberg. Die mis oorval hulle net met die draai daarbo
Dis donker, hulle kan skaars twee meter voor hulle sien, hulle word nat, het die verkeerde klere aan, want dit was n gewone warm somersdag. Dis nou yskoud. Hulle skuifel voetjie vir voetjie af, die mis gee n oomblik n opening en sy sien die afgrond langs die paadjie. Sy skrik groot, sy wil ons bel hier in Bloemfontein, Ma sal help. Hulle gaan dit nie voor pikdonker tot onder maak nie.
Hy verbied haar om te bel. Rus n bietjie dan probeer ons weer. Twee Vrystaters wat hulle heeltemaal verneuk met ou Tafelberg se streke.
Hulle hoor voetstappe agter hulle, n stokou, fikse man van Kaapstad kom verby. Hy steek vas om die wasem van sy brille af te vee. Hy groet vriendelik.
“Are you guys OK?”, wil hy weet. Hulle is albei verstom, hy lyk dood op sy gemak, asof hy rustig op die strand wandel. Laatlam antwoord met klappende tande, ” No. we are definately not OK”.
Hy het n lang wandelstok, stap voor, hou soms haar hand vas as dit gevaarlik raak. Die rotse is nat. Die vriend hou haar ander hand vas. Die ou man gee mompellend klas oor kleredrag vir die Berg, van wat om te doen as dit erg raak. Ook wat om saam te neem ingeval van n situasie soos hierdie.
Hulle kom veilig onder aan, dis reeds donker. Nou bel sy en ek antwoord. Sy stotter alles uit, my vrou sien my gesig en gryp die foon. Nou is dit vuurwerke en naderhand huil altwee. Ek en die vriend praat maar verder. Hy se alles is orraait, die weer het in minute verander, Hulle het n duur les geleer. Ek hou van die outjie, hy kyk baie mooi na Laatlam daar in Kaapstad.
Twee weke later bel Laatlam, my vrou antwoord, ” Nee, nee, nee, jy gaan nie…”se sy vir die kind en gee die foon vir my.
Ek praat, hulle gaan die volgende dag Cage Diving van n boot af doen om te sien hoe lyk n Great White in sy natuurlike omstandigheid. As sy nader was het ek haar wragtig oor my skoot getrek. Sy is al dogter wat ons het, die ander is vyf seuns.
Sy praat so mooi, my hart vermurwe. Wat kan ek se. Sy sal gaan, sy is n koppige kind.
Ag my kind as jy dan moet, laat hom eerste gaan, laat ons eers sien of dit n aggressiewe haai is wat kom kuier het.
” Pa !!!”. gil sy op my, “ek is op speakerphone!!”
Onlangse kommentare