by

Swaer George en sy rugby.

Oktober 30, 2011 in Sonder kategorie

Vrystaat wen maar min die Curriecup. daarom is ons effens skisofrenies as dit by die finaal kom en die Vrystaatse

Cheetahs is nie daar nie. Ek skreeu gewoonlik vir albei spanne, in die tweede helfte skreeu ek vir die span wat

die mooiste hardloop rugby speel. Hierdie jaar was dit makliker, want die Boubulle  was nie in die eindstryd nie,

ek sukkel rerig om vir hulle te skreeu.

Ek en n paar vriende kyk die eindstryd tussen Transvaa(leeus)l en Natal(Sharks). n Vrystater skreeu nooit in die publiek

vir n ander span nie, net privaat, dis soos n man wat nie in die publiek praat van sy broer wat in die tronk sit nie.

Dis n baie private aangeleentheid.

Swaer George begin sommer van die afskopslag vir die Leeus te skreeu. Ons ander kyk hom skeel aan, het die man dan

nie karakter nie? So met die verloop van die westryd en veral na halftyd toe die Leeus sulke mooi hardloop rugby speel,skreeu ons ander uit volle bors ook vir die Leeus.

Later by die braaivuur vra ons vir George hoekom hy so karakterloos opgetree het aan die begin van die wedstryd.

Dis n belangrike saak wat heelwat selfondersoek en oorweging vereis.

“Ek sal nooit vir die Bloubulle kan skreeu nie, al speel hulle hoe mooi. Daai mense van Pretoria is die grootste

windgatte en snobs in Suid Afrika. En hulle is nogal almal Afrikaans ook. Hulle praat tot anders man, hulle lyk maar

net soos ons. Vir Natal kan ek nie skreeu nie, dis n klomp Ingelse, die meeste het teen ons in die Boereoorlog

geveg. Nee, vir die klomp Ingelse piesangboere kan ek nie skreeu nie. Vat nou vir WP, ek sal nooit as te nimmer vir hulle

skreeu nie, daai klomp wynsuipers wat dink hulle is die kernkultuur van ons Afrikaners, nooit. Hulle kan hulle wyn

landgoede, hulle snoek, hul  patats en hulle topbilling huise vir hulle self hou. Kyk net na hulle”bands” man,  Jack Sparrow

en daai maergat Ninja daggarokertjie met die skoolmeisie, wats sy naam, o ja, Die Antwoord.

Ek kan  vir die Leeus skreeu, want dis Joburg, ek het in Secunda my ambag geleer, dis manne daai. Toe was

Hillbrow nog n lekker jolplek op Vrydagaande.”

Ek bekyk vir George, sien die klein sweis brandmerkies op sy brille, sy hande is so hard soos bakstene, sy liggaam

op 65 nog lenig en taai, kan nog in my huis se plafon inklouter om my geyser te herstel. Kan enigiets van metaal

bou of regmaak. Sal sy klere uittrek vir sy naaste, al word hy meestal misbruik. My eie braaier is deur hom gebou.

En vier maande gelede het ons sy vrou begrawe na n lang siekbed. Ek sien hoe hy die pakkie twintig Lexington

uit sy hempsak haal en een aansteek. Hy blaas n paar kringetjies, ou gewoonte van hom. Dan se hy iets terwyl hy

oor my tuin staar.

” Jy weet Toppie, dis lente, kyk hoe blom jou goed, ou Bets sou dit vandag gelaaik het hier by julle. Dankie dat jy my genooi het.”

4 antwoorde op Swaer George en sy rugby.

  1. Stunning pos.

  2. TS het gesê op Oktober 30, 2011

    Jy is ‘n goeie siel…

    Lekker gelees dankie

  3. Freddy67 het gesê op Oktober 31, 2011

    Vreeslik lekker gelees. Dankie

  4. bloukaap het gesê op November 1, 2011

    ek ween steeds oor my WeeeeeePeeeeee!
    maar Outop, dis nie ons Kanpenaars wat sê snoek, patats en wyn is koning nie, dis die res van die land wat so sê. ons is reeds laaaankal gewoond daaraan …… hehehehehe
    maa, oor een ding is jy reg, daa was ‘n tyd toe die ‘Brow’ oppie weekends DIE plek was!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.