As jy oorsee bly en n Ma en Pa in Suid Afrika het moet jy versigtig en oplettend te werk gaan met jou kommunikasie
middels. n Ou vriend kom kyk gister krieket saam met my, hy is nie sy gewone self nie, is gewoonlik opgewek, ingelig en
vol kwinkslae, n plesier om saam mee te kuier. Na die wedstryd klink ons n glasie op die Proteas se oorwinning. Toe kom die
die ding uit.
Hy en sy vrou het op Skype met die kind en kleinkinders gepraat. Toe groet hulle na n halfuur se praat, maar op een of ander manier het hulle daar oorsee nie afgeskakel nie. My ou vriend vertel bedroef.
Vriend: Ek hoor iemand beveel: Now take of those stupid portraits from the wall, our friends are arriving now. Toe haal my
seun die ou portette af, dis van ons en die plaas waar hy grootgeword het. Dit was so vinnig, ek wou keer, maar
my vrou het dit ook gesien en gehoor. Ek sou haar so graag dit wou spaar, man.
Ek sit daar en dink. Ek vertel hom wat eenkeer met my gebeur het met die selfoon. Ook gegroet en hulle het nie afgeskakel.
Maar ek was gelukkig, my vrou was nie by, en dit was nie so erg nie. Maar dit het my laat besef dat ek lastig kan raak.
Dat ek myself meer op die agtergrond moet skuif, dat die kinders hulle eie lewe nou het en moet aangaan.
Ek: Maar Piet, onthou jy nie toe ons jonk en vol dinge was nie. Onthou jy nog hoe ons gese het, ag nee donder tog, hierdie naweek hou ons paartie en nou wil Pa en Ma kom kuier. Onthou jy nog toe jy die oggend vir My Pa gese het
ek is al weg klas toe, toe le ek met babelaas in die bed . Hy het gebel net voor hulle hom hospitaal toe geneem het.
Ons skink nog n glasie Drosdy low alcohol, twee glase is ons limit, dan word ons vaak. Ons is oud, afgeleef, eenkant en vergete, ons pla mense al.
Toe drink ons ewe hardegat nog n glasie wyn en ons maak ons harte oop vir mekaar. Teen die tyd wat die vrouens
terugkom van waar hulle was, toe is ons alweer sterk en onafhanklik, het al klaar ons jagtrip vir die winter beplan en
ons gaan die vrouens vanaand bederf met n snoekbraai op my gasbraaier in die garage, want dit reen buite en die wereld is mooi, kyk hoe bars die granate oop van die reen, ons moet vir die vrouens gaan pluk en skoonmaak.
Ja, platgeslaan en opgestaan, ons het nog baie om voor dankbaar te wees, soos mooi en gesonde kinders en kleinkinders.
As hulle net n bietjie meer bedagsaam kan wees.
Onlangse kommentare