Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

by ou-top

Oor jol en dominees.

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

n Paar blogs het my vanaand vêr terug gevat na my jeujare, toe ons Desember vakansies  teen die Vaalrivier gaan gaan kamp het tot na Nuwejaar. Ons jong manne het altyd een mooi hemp en een mooi broek saamgevat. dit sou ons dra op Oujaarsaand as almal wat kan en wil dans met die bakkies ingaan na Makwassie of Leeudoringstad se Boeresaal. Daar was n boereorkes en tafels en stoele, braaivleis en groenmielies  en girls.  Jong verpleegstertjies. of onerwyseressies op vakansie by hul ouers op die plase. Mooi meisies van die stad, Klerksdorp of Bloemfontein. Ons jong mans het van drie uur die middag al begin skrop en hare kam.

Man dit was lekker, tot die volgende oggend as ons half babalas in warmgebakte tente deur die twee dominees in ons familie bymekaar gemaak word. Die een dominee het so n diep stem gehad, dan spreek hy ons toe oor die sondeval. Vermaan ons om op die regte pad te bly.  Aan die einde het hy, gewoonlik terwyl hy na my loer, gesê. ” Tipies van vandag se kind, gousblom in die nag en molshoop in die dag, die duiwel se sondige dinge.

Maar teen sononder as almal daar om die vuur n knertsie maak, dan het Pa altyd vir Dominee sterkstem gevra of hy ook iets sal gebruik, en elke keer het hy nee ge-antwoord. Maar ek was sy oogappel, want hy sê dan elke keer vir Pa hy sal net graag n glasie vars melk wil nuttig. Dan kyk Pa vir my en dominee knipoog vinnig vir my. Ek gaan gooi dan dadelik n glas melk daar in die tuisgemaakte kombuis, loop n vinnige draai by Pa se tent en gooi sonder om te meet, n stewige dop Whitehorse whiskey by die melk.

Net ek en Pa het geweet. Dominee moet  voorbeeldig wees voor die gemeente.

En hy het my die geheime van karp visvang geleer, en my getrou, en hy het van my kinders  gedoop. Baie van ons familie begrawe en was n anker in ons gemeenskap gewees. Van bome, struike, diere , voëls en visse kon hy jou baie leer. Van die lewe, nog baie meer.

Ja, Oom Schalck was die beste mens wat ek geken het. Ons dink vanaand aan jou.

by ou-top

My vriend is n miljoenêr en hy is besig om te vrek van die honger.

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

Ons twee praat al weke hieroor en gister bring hy al sy bewyse . Ons sit by n tafel en ek maak sy somme. Hy vertou my, want van skool af was ek baie slimmer as hy.

Die ou het na sy aftrede met n paket van byna R1,600,000 sy huislening van R300,000 afbetaal en die res lekker veilig in n bank gaan belê om sonder bekommernis af te tree. Kinders klaar groot en almal uit die huis, net hy en die vrou en twee brakke.

Sy huis is vandag R1,000,000 (een miljoen) werd en hy skuld niks daarop. Hy het R 1,300,000 op vaste belegging by n bank wat mens dikwels op Noot vir Noot sien. Hy kry rofweg 7% rente per jaar. My vriend is dus R2,300,000 sterk, die huis se waarde en die belegging saam.  Nie sleg nie, maar hoekom sukkel hy dan?

Ons begin op n kant, eers sy inkomste per maand. Die bank betaal hom 7% rente per jaar op R1,300,000 en dis R91,000 per jaar en per maand is dit  R7,385. Daarop vat Jan Taks rofweg, 20% en los dus vir hom R5,908 per maand om van te leef.

Inkomste per maand                    =R 5,908

Sy uitgawes per maand.

Erfbelasting                                   = R350

Sanitasie                                       = R200

Telefoon                                        = R400

Apteek                                          = R450   ( vir goed wat nie deur sy mediese fonds betaal word nie)

Elektrieseteit                                = R1,600

Water                                           = R350

Assuransie op huis                       = R275

Assuransie op losgoed in huis      = R250

Assuransie op  motor                   = R375

Lewenspolis                                 = R300

Begrafnispolis                               = R100

Hondekos                                     = R  80

Melk                                              = R120

Petrol                                            = R400

Begroot vir klere                           = R100

Onderhoud van motor                   = R250     ( Bande, diens en so aan)

Kruideniersware  en waspoeier     = R900

TV Lisensie                                    = R25

Wegry van blare, takke ens.         = R30    ( hy kan nie self asgate toe gaan nie, laas beroof daar, het nie meer n selfoon nie)

Verf van geute, of huis, krane ens.= R100

Koerant                                         = R110

Kerk                                               =R 80     ( R10 per Sondag per kop)

Maalvleis                                        = R320

Mieliemeel                                      = R45

Een pampoen                                = R24

Een koolkop                                   = R 6

Hoendervlerkies                             = R32

Eeen pakkie hoenderlewer             = R8

Totale uitgawes                             =  R7,600

Tekort per maand                          = R 1,692

Ek sê toe hy moet die huis verkoop, die geld belê en net op sy rente leef. Hy sê ja, hy het dit getraai, maar die ouetehuis vra hom en sy vrou saam R10,400 per maand, kos ingesluit. As hy die huis verkoop en die eiendomsagent betaal het, bly daar R920,000 oor en die bank betaal hom rente daarop van 7%, dis R 64,400  per jaar en nou val hy wat inkomste betref in n ander bracket by Jan Taks.

Hy het nou  R1,300,000 van die eerste belegging en R920,000 van die huis, dis R 2,220,000-00 op vaste belegging. Teen 7% gee

dit nou R 155,400 per jaar en dus R 12,950 per maand waarvan die tax nou 25% vat, daar bly dus R9,713 per maand oor vir hom en sy vrou.

Die ouetehuis vra R10,400-00 per maand en hy het net R9,713. Hy kan dit nie doen nie.

“En ” sê hy , ” die veearts vra R250 om n hond uit te sit, ons het twee ; en die lorrie vra ons R2,000 om die meubeltjies te skuif na die ouetehuis se woonstel.  Ons moet nog apteekgoed koop en darem n melkie of koffie vir die woonstel, en ek moet n koerant met almal daar deel.”

Hy sit n oomblik stil en dink. Dan sê hy. ” En die huur daar gaan elke jaar met 8% op, as n ou langer as n jaar daar leef is jy diep in die skuld, so jy moet voor die begin van die tweede jaar sterf . As ek gelukkig is en in die eerste jaar wegval, kry my vrou darem die lewenspolis, dan kan sy so vyf jaar aangaan, maar dan moet sy ook maar die emmer skop of sy sit op straat.”

Genade mens, die lewe het verander. Seker die lat ek op 62 nog werk.

by ou-top

Skreeuend oor duisende seemyle heen herken ons mekaar se stem.

Februarie 1, 2011 in Sonder kategorie

My kleinkind in Perth is amper een jaar oud, hulle maak n video van hom en sy hond op die sand by die see. Hy kruip en seil. voel die water en hang aan die Labrador se stert. As ek net vir een minuut daar kon wees. Die video was te lank, ek download en toe “cap” hulle my en ek het geen internet nie, kan nie eers op Skype met hom praat nie. Ja, ons praa elke Sondag met mekaar, in ons geheime taal, sommer vir n uur of langer. terwyl hy in sy stoeltjie voor die laptop sit.

Toe bel my seun Sondag en sê die kind weet dis praatdag hy is onmoontlik, hy druk die selfoon teen die knaap se oor. Ek roep hom en maak my visarend geluid waarvan hy so baie hou. Ek hoor hom skreeu, hy gryp die selfoon en druk die verkeerde knop en ek word afgesny. My seun bel weer.

” Pa, jy sal dit nie glo nie, hy weet dis Pa. Het Pa gehoor hoe lag hy? Dis die eerste keer vandag. Ek druk dit weer teen sy oor, ek sal sy hande weghou.”

Ek  praat en roep sy naam.  Hy antwoord iets in ons taal. Ek kry  n lastige knop in my keel en  maak toe maar soos n bosduif vir hom, dan  hoor ek hoe hy skater van die lag.

Dis genoeg, dis heeltemaal genoeg vir sy Oupa hier in Afrika.

Veilig bly en groei ou Seuna, hier by ons gaan dit soms n bietjie rof. Buurman oorkant die straat is die naweek in donkernag en digte reën, van als beroof en seer geslaan.