by

Die man met die goue lepel.

Februarie 26, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer jy n mens byna vir n leeftyd geken het, dan weet jy sonder om te wonder of hy sy  lewe lank voorspoed of swaarkry ervaar het.  Oom Manie is op 78 , so n man. n man wat voorspoed in sy lewe ervaar het.  Sy jonger broer was my vriend en is reeds oorlede. Manie is fris en gesond en selfversorgend, het nog steeds dieselfde vrou en bly steeds in dieselfde middelslag huis,  vir die afgelope veertig jaar.

Oor die jare heen het ons ander hom soms gespot dat hy met die goue lepel in sy mond gebore was. Het altyd op die oog af net die regte ding gedoen, op die regte manier gelewe, het al drie sy kinders deur die universiteit laat leer. Hy is n afgetrede bouer, let wel nie n ontwikkelaar nie, n man wat met sy hande gewerk het, n kleinskaalse  bouer. Dinge het net altyd vir hom reg geloop en die lewe het hom min harde klappe soos vir ons ander gegee.  Ek kuier by hom, ons vrouens werk vandag saam vir die kerk.

Ek het groot respek vir die man, hy het net twee jaar van sy lewe vir n baas gewerk, daarna net vir homself, as bouer. Wat ons gesels kan ek maar hier neerskryf vir interessantheid of miskien vir iemand wat al gewonder het oor die verloop van sy eie lewe.

Ek: Manie, wat sou jy sê is die enkele ding wat jou oor die jare gedra het, hoekom het dit met jou altyd beter gegaan as met my, of jou broers of met ander mense wat ons ken. Jy is een van die gelukkigste mense wat ek ken, jy klae nooit, jy is nooit bedroef, moedeloos of beswaard nie. Jy het nog nooit geldelik swaar gekry nie. Jy en Elsie is gelukkig, julle gesondheid hou en julle is altyd opgewek en plesierig.

Manie: Ken jy Psalm 91 ?

Ek skrik half, want jy kan my  maklik vasvra met die inhoud van die Bybel. Hy neem die Bybel langs sy stoel en wys my. Ek ken die Psalm toe darem. Dit gaan oor die gelowige mens se beskerming deur die Allerhoogste.

Manie: Ek was gelukkig om vroeg in my lewe die Waarheid te ontdek. Hierdie Psalm van die Ou Testament  belowe my die beskerming as ek n gelowige is. Hoe raak ek gelowig? Maklik, ek kom die Tien gebooie na, want dit is die wette wat God vir Moses gegee het. Maar dan moet ek met my mond en met my hart leef soos voorgeskryf in Romeine 10 vers 5 tot vers 13 van die Nuwe Testament. Jesus se kruisiging en opstand moet erken word, ons sondes is vergewe, ons moet net met ons mond Jesus prys en met ons harte glo. My woorde moet ooreenstem met my dade.

Hy gee my sy Bybel en ek lees Romeine. Hy kyk my vraend aan, asof hy wil weet of ek verstaan.

Manie: Dis al, dis kinderlik eenvoudig. Oop vir almal, selfs vir geharde ou sondaars soos jy!.

Ek sit doodstil en dink oor alles.

Ou Manie glimlag: Maar as jy geseën word en dit gaan goed met jou, dan moet jy nie windgat raak nie, want dis net n toets. Nee, dan moet jy vir die armes en die kinders en oumense wat swaar en honger het n tiende gee, want jy gee dit vir die Here: Mattheus 25 vers 31 tot 46.  En as jy bang is jou Kerk spandeer nie jou geld korrek nie, dan gee jy dit direk vir die armes en die siekes, jy hoef nie ver te soek nie, hulle is hier om jou. Wat jy saai sal jy maai. Alles kom tienvoudig terug na jou. Maar doen dit soos in Mattheus 6 vers 1 tot 6.

Manie: Die hek staan wawyd oop vir ons almal, dit is Jesus se belofte aan ons. Hy soek net dat ons monde sy naam prys en ons harte om in hom te glo. Ons sondes is vergewe deur sy bloed aan die kruis.

Romeine 5 vers 6 tot 11

Ek sit nou al lank hier buite my huis onder die boom en dink oor Manie, n eenvoudige, hardwerkende mens met n sagte glans in sy oog. Ek blaai deur die verse wat hy my gegee het en lees dit weer.

In my gedagtes sien ek die groot beskermende vlerke van die Here  wat om hom vou, vir meer as vyftig jaar al.

5 antwoorde op Die man met die goue lepel.

  1. Sterre, Top!

  2. TS het gesê op Februarie 26, 2011

    Dis ook Genade

  3. Manie laat my aan my pa dink.
    Dankie dat jy hierdie met ons deel.

    Jy’s great, Ou Top.

  4. Ou-Top het gesê op Februarie 26, 2011

    Ja, ek is nie n predikant, n ouderling of n pastoor nie, net n gewone sondige ou man, maar ek het oë waarmme ek kan sien en ek het ore waarmee ek kan hoor. So skryf ek maar oor dit wat ek om my waarneem.

  5. My skoonma (76) is soos jou vriend Manie. Dis die dat selfs haar skoondogter dink sy is een van die mees fenomenale mense op hierdie aarde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.