by

Van jou sinne beroof.

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

n Goeie ou vriend, bejaard soos ek, beland op hul kleinhoewe in n struweling met dronk mense.  Ja, vier dronk persone rand n jong man in sy motor aan oor n onbenulligheid, hulle sleep hom uit sy motor en skop en slaan hom reg voor my vriend se woning. Hy storm uit om die geveg te stop en word ook aangerand. Hy bel my, want sy vrou is in die stad en antwoord nie die selfoon. Ek neem hom dokter toe en daarna na die polisietasie om n klag te lê. Gister het almal in die hof verskyn, die dag tevore het hy dreig boodskappe gekry om sy klagte terug te trek. Die ander klaer is op krukke daar, hy het sleg seergekry.

Die saak word uitgestel, want die polisie is nog nie heeltemaal klaar met hul ondersoek nie. Hy kom waar hy sy bakkie vroeër parkeer het en dit is weg, gesteel. Hy bel my, en ek gaan haal hom by die hof se parkeerarea.

Daar het dit so gegaan;

” Maar dis n veilige parkeer terrein, kyk daar is die hokkie, ek het daai man betaal toe ek terugkom. Nou sê hy, hy weet niks, en hy ruik na drank. Ek weet nie, die duiwel is los. Die polisie was hier, maar ek was van vanoggend in die hof, daar gewag dat die saak moet voorkom. Hulle kan al in Lesotho wees.”

Ek skud net my kop. Dinge raak rof.

” Wat gaan Lien sê, ons het net die bakkie, ons is karloos. Die assuransie sal seker iets betaal maar nie genoeg vir n ander bakkie nie. My ID en bankkaarte is onder die matjie op die vloer. Die ratslot is gebreek. Ek weet nie.”

Ek probeer hom troos en wegkry daar. n Polisie man wil weet of daar n vuurwapen in die bakkie was.

Toe haak my vriend se kop uit.

” Ek mag nie meer n vuurwapen dra volgens julle nuwe wette nie, my rewolwer is in my kluis soos die wet vereis. Nutteloos in my ou donderse kluis. Ek gaan hom nou haal en ek gaan my bakkie soek en as ek hulle kry gaan ek skiet en my bakkie terugvat. Ek gaan hom self soek. Duiwelsgoed.”

” Meneer, u is nou onverantwoordelik, los dit vir ons”, sê die polisieman.

” Los vir julle?” skreeu my vriend. ” los dit vir julle klomp poepols? Daar is van nuwejaar tot nou nog elke dag n boer op sy plaas vermoor.

 Hy draai na my, “Toppie, jou huis is nader, het jy n skietyster? Ons twee gaan soek self my bakkie, miskien is hy nog hier rond of in Bochabella. Ons ry n paar draaie, dalk kry ons my bakkie, dalk kry ons hulle. Kom ons mors nou tyd.”

So met die ryery op pad na my huis het hy algaande bedaar. Koffie gedrink en al stiller geword. Ek kom agter hy praat nie juis meer met my nie, hy fluister saggies onhoorbare dinge vir homself. Ek bel sy vrou en sy en haar vriendin kom haal hom daar by my.

Ek kyk na hom as hy na die kar toe stap, sy rug is krommer, sy gesig ouer, wanhoop en moedloosheid straal uit sy houding. Sy oë hang en hy lyk moeg. Hy groet met n slap handjie. Ek sien die steke bokant sy oog waar hy met die aanranding seergekry het, daar is nog n donker bloukol aan sy nek.  n Ou mens se wonde herstel stadig.

 Sy vrou maak die motor se deur vir hom oop.” Klim Pappa, ons sal n plan maak, laat ons net eers by die huis kom, ons sal wel regkom.”

7 antwoorde op Van jou sinne beroof.

  1. Ai tog. En hy wou maar net help…

  2. Ek het altyd gedink magteloosheid is ‘n posisie waarin mens verkeer….maar hoe langer ek leef hoe meer weet ek dis ‘n emosie wat mens hier diep in jou maag voel, en dan in hart en dan in die res van jou lyf, tot jy oorgee.

  3. Ai Ou Top, my eerste koppie koffie vir die oggend is nog nie klaar nie en ek is reeds befok.

  4. Dis die lewe vir jou. dis ‘n hartseer verhaal.
    ek het geen waarborg dat ek of my gesinslede nie volgende sal wees met so ervaring nie

  5. Dit maak mens de moer in.

  6. Ou Top, dis sulke dinge wat my erg demoer in maak.

  7. Murfy, ek weet hoe jy voel. Laas jaar en die jaar tevore het ons besigheid verskeie kere deurgeloop. Die skade maak dinge later netnie meer die moeite werd nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.