by

Ware liefde en omgee loop die sterkste vertikaal.

Februarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Vier jaar nadat n pragtige jong vroutjie se man tydens n inbraak in hul huis doodgeskiet is, ontmoet ek haar weer. Sy en haar man was opgewekte, lewenslustige jong mense, n jaar getroud en albei het goeie werke gehad. Na die moord en hofsaak het sy verward tussen vriende en werke rondgeval. Toe roep haar Ma haar huistoe, haar Pa is reeds lankal oorlede.

Daar by haar Ma het sy gesond geword, balans gevind en verder begin studeer, is nou besig met haar doktorsgraad in die natuurwetenskappe. Vertel sy ons van haar lewe na haar man se dood.

” Vir  byna n  jaar was almal bekommerd en simpatiek, het my sagkens behandel, maar die lewe moet aangaan en mens verloor vriende, ander getroude paartjies waarmee ons lank vriende was, het begin verdwyn.  Van my vriendinne het aanmekaar vir my n man gesoek, soveel so dat ek wou wegkruip en nie my foon geantwoord het nie”, sê sy.  “Ander het weer net die verskriklike haat teenoor misdadigers in my aangeblaas met praatjies en uitwys van koerantberigte. Vrees en haat, vrees en haat, elke dag van my lewe. In my tweede jaar het ek te veel gedrink en gejol, gedink ek kan so van alles vergeet.”

” Ons het nog nie n kind gehad nie, ek was jare spyt daaroor. Ek wou aan iets vasgeklou het, maar daar was niks, net gedagtes en n paar fotos.  Toe kom haal Ma my met geweld. Ek begin weer studeer. Ma lees vir my in die aande uit die Bybel en ons bid saam. Ons maak tuin, haar meenthuis het n voor en  n agtertuin. Ek sien dinge wat ons geplant het opkom en groei, maak blomme of vrugte wat ons kan gebruik. Ons blaai deur ons ou foto albums en praat oor Pa. “

“Aan die begin was dit vir my verskriklik eensaam en byna vervelig. Een nag kry ek weer die droom, duidelik net soos dit gebeur het.  Ma kom lê langs my op die bed. Sy bid vir my en hou my vas. So raak ons weer aan die slaap. Ek word ligdag eerste wakker. Ma het my een hand in albei haar hande vasgeklem in haar slaap, in my hand is die silwerkruisie wat Pa vir haar gekoop het om om haar nek te dra. Ek kyk na Ma se gesig;  oud, vol plooie, grys hare, maar daar is n sagte glimlag om haar mond. Ek is veilig, want ek is by iemand wat lief is vir my en wat omgee vir my, iemand wat sal sterf vir my.”

” Ma het met haar grenslose liefde en klein eenvoudige dingetjies my weer gesond  gemaak. Van vooraf, soos van geboorte af. Ek het al die pille binne twee maande net so gelos.”

Sy glimlag en groet, sy en my vrou moet nou ry, dis besoektyd in die hospitaal waar die meisie se Ma sterwend aan kanker lê.

6 antwoorde op Ware liefde en omgee loop die sterkste vertikaal.

  1. Pragtig vertel Top.

  2. ‘n Mens hou nooit op ma wees nie, selfs al het hulle die nes verlaat.

  3. There’s never enough mother

    So sê die skrywer, Marilyn French.

  4. TS het gesê op Februarie 19, 2011

    Ai sommige mense het meer swaar as ander

  5. Dis goed dat sy dit reggekry het om aan te beweeg!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.