by

n Longbesmette ou myner en vandag se hemel kaartjies.

Februarie 12, 2011 in Sonder kategorie

Eintlik wou ek my ou vriend wat jare vir die goudmyne gewerk het, net n bietjie terg, toe ontaard die ding.

Loop omtrent toe so:

Ek: Het jy gesien Zuma sê ons gaan in die hel brand, want ons het die verkeerde tickets?”

Myner: Sy hele militêre moer man, hy sê daar gaan n ATM wees en jou moet jou ANC kaart indruk om die poorte oop te maak, hy die antichris, hy……”

Toe begin hy te hoes van die longprobleem, maar hy kry dit onder beheer en vat eers n paar suie aan sy Lextington.

Myner:  Hy gaan brand man, hy spot met ons geloof. kind van satan is hy.

Ek: Maar Steve, kan jy onthou in matriek toe die minister ons kom toespreek het by die skool. Toe hy gesê het ons is Christelik Nasionaal, want ons behoort aan die Nasionale Party en ons gaan volgende jaar veg teen die rooigevaar, die antichristene. Dat ons met trots kan veg  teen die sataniese magte wat as antichristene gedoem is tot die hel.  Ons pad boontoe is oop, want ons veg vir die Nasionale Party en n Nasionale Vaderland. Ou PW, ou Pik en ou Magnus het maar byna dieselfde ding gesê as Zuma.  Die regte ticket maak jou pad oop.

Myner, verskriklik opgewonde: Maar jy is bedonnerd in jou kop, man. Sê jy nou Zuma is reg?

Ek: Nee, my ou vriend, hy is hopeloos verkeerd, net soos die vorige ouens ook, almal hopeloos verkeerd. Jy koop nie toegang tot die hemel met n politieke lidmaatskap kaartjie nie.

Ons sit op sy agterstoep, ons wag vir die stronke om kole te maak, ons gaan snoek braai en ons drink Black Label bier.

Myner: Net gedink jy raak nou af.

Ons sit vir die vlamme van die stronke en kyk.

Myner: Ons dag kom nader Toppie, word snags baie benoud. Kom sit dan hier buite en dink, wil nie die vrou pla. Dokter sê die een long is plat. Ons tyd kom.

Ek wou hom nog vra om die verdomde Lextingtons te los. toe sien ek hy koop nou pakkies tien, die klein pakkie.

Toe los ek hom en ons gesels oor sy rooi Cortina Big Six wat hy destyds daar in Welkom gehad het. Die vinnigste kar in die Goudveld. 

Hy praat aanmekaar en het nie een keer weer gehoes nie.

6 antwoorde op n Longbesmette ou myner en vandag se hemel kaartjies.

  1. Jis jy laat die arme man klink soos ‘n een twee drie man…

    🙂

  2. Ou-Top het gesê op Februarie 12, 2011

    My vriend is die beste wat jy kan kry.Hy is en was die sterkste, onverskrokke man wat jy kan vind. Hy beskryf homself as ” n longbesmette ou myner van die Oppenheimer groep”.
    Hy sê 5 kilometer diep in moeder aarde in, waar daar geen lig, geen lug, geen water en geen kafee is nie, moet jy net jou koplig afskakel en op die vloer gaan sit. Dan voel jy duidelik, hier is niemand en niks, nie eers die duiwel wil daar wees nie. Maar jy voel die teenwoordigheid van die Here aan, baie, baie sterk en duidelik aan.

  3. Maankind2 het gesê op Februarie 12, 2011

    Sterre ja.

  4. louisna het gesê op Februarie 12, 2011

    Pragtig Top. Onthou jy nog die Capri’s? Die Perana kon op sy dag ook gatskoonmaak.

  5. Ou-Top het gesê op Februarie 12, 2011

    Jis, daai Caprice met die V8 wat later uitgekom het. Hy was so mooi en vinnig, geen girl kon weghardloop vir hom nie.

  6. loudavisi het gesê op Februarie 12, 2011

    Ja, ek onthou van die NP se “Christelik Nasionaal”
    Toe het ek niks geweet nie.
    Gelukkig het die ouderdom insig gebring.

    Jou vriend is kosbaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.