by

Daar staan n pou wat pronk en pik.

Februarie 10, 2011 in Sonder kategorie

My oudste suster is  heelwat ouer as ek en woon al drie jaar in Pretoria waar sy en haar man in die veilige omgewing

van n meenthuiskompleks gaan aftree het. Die plaas word verhuur maar hulle het die woonhuis uitgehou. Sy het drie poue gehad en soms het sy in die ou dae  onder die reuse ou stinkhoutboom wat sy self donkiejare gelede in die tuin geplant het op die bankie gaan sit om mieliegruis en sonneblompitte te voer aan almal wat lus was daarvoor.

Die poue was gereelde besoekers en wanneer hy dikgevreet was het die pragtige mannitjie pou sy stertvere oopgesprei en vir ons gepronk. Sommer net uit vertoon en lewenslustigheid. Dis seker een van die mooiste tonele wat n mens kan

gadeslaan.

Verlede naweek besoek hulle die plaas, haar man is doenig in die huis en sy gaan sit onder die boom. Sy dink aan die poue

wat altyd saam met die ander tuinvoels kom vreet het. Skielik hoor sy die gefladder van swaar vlerke in die lug. Bo-oor

die veiligheidsomheining kom die mannetjie pou gevlieg en land kort voor haar. Hy staan n tree nader en bekyk haar

van bo tot onder, hy draai sy kop eintlik skuins soos hy haar bekyk. Toe is hy seker wie dit is en daar begin hy vir haar te pronk. Hy sprei sy kleurvolle stertvere wyd oop en trippel op en af reg voor haar. Vir twintig minute lank.

Sy staan op, want sy het niks kos by haar nie. Sy vra hom mooi om net n wyle te wag sy gaan  in die huis

kyk vir iets, al is dit  net meel of  n paar stukkies brood. As sy terugkom met die kos, is hy reeds weg, vir drie jaar het die plaaswerkers hom net van ver af gesien. Vandag was hy hier, en hy het vir haar kom pronk.

Sy bel my daar van die bankie af, sy is hartseer en opgewonde , alles tegelyk.

” Hy staan daar en pronk, wys vir my hoe mooi hy is en hoe lief  hy vir my is, hy pik self soms na denkbeeldige kossies op die gras, hy onthou my en hy kom groet my,”  vertel sy  uitasem.

Na n rukkie wil sy weet of ek dink die pou is kwaad vir haar omdat hulle weg is van die plaas.

” Nee, Ousus, ” se ek,” ek dink hy het net kom se hy vergewe jou, en dat hy verstaan, en dat hy wil he jy moet nou

ophou skuldig voel oor die wegtrekkery van die plaas.”

Ek moet leer om n wagter voor my mond te sit, want toe huil Ousus.

    

4 antwoorde op Daar staan n pou wat pronk en pik.

  1. Ons het ook poue gehad en ek kon as kind nes hulle skree. Dan het my pa gewonder wat maak die poue in die kombuis.

    Terloops Alexander die Grote het in 300vC die eerste poue in Indië gevang en Weste toe geneem.

  2. Lekker vertel – daar is darem niks soos ‘n pou se stertvere nie – hulle verander so van kleur soos die lig hulle anders vang.

  3. Ou-Top het gesê op Februarie 11, 2011

    Dankie Neander en Henry, nou sit ek hier en dink oor die fliek van Alexander die Grote. Die ou was so n woeste en sterk soldaat,maar op n stadium toe vry hy sommer medesoldate.Wonder of hy later die pouvere vir seksie kleertjies gebruik het.

    Kan jy nou meer, Alexander die Grote het poue na die Westerse wereld gebring.

  4. Huil ek nou sommer saam met Ousus. Ons het poue op die dorp en laataand hoor mens die suiwer nostalgiese roep wat net ‘n pou kan roep.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.