by

Genadedood? Ek pas dit al jare toe.

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

As jy lief is vir honde en jy is oor sestig jaar oud dan het jy al minstens vier honde uit liefde vermoor, want n hond word net so 15 jaar oud. As jy altyd soos ek twee honde op n slag gehad het, dan staan staan jy al aangekla van 8 moorde.

Jy sien, n ou hond besluit nie sommer net een oggend hy is nou oud genoeg en slaan morsdood neer nie. Nee, hy begin eers lam in sy agterlyf word van die rumatiek, dan begin hy doof word en dan begin hy blind word. Op die ou end word hy bedags op sy matjie uitgedra om in die sonnetjie te gaan lê;  en dan kan hy daar soms verskriklik aan die huil gaan oor sy pyn en oor sy lewe.

Almal kry hom jammer en op n dag sê die veearts, nee, julle moor hom nou, sit julle R300 neer en ek sit hom uit. My eerste een was n massiewe Great Dane, ou Duke. Ek was toe so vyftien jaar oud. Pa, wou hom skiet en ek wou mal word, het tot die patrone weggesteek. Toe ou Duke op die huil stadium kom het ons hom veearts toe gevat, die veearts was sommer kwaad vir my, ek laat dan die arme hond so ly. Hy spuit vir Duke, ek staan en huil en vryf hom op sy blad. Ek praat met hom, hy vertrou my, sy groot bruin oë kyk my vas aan. Tot hy dood is. Nooit, ooit weer sal ek dit doen nie. Dit vat te lank, Pa was reg, skiet hom in die kop, n split sekond en hy is dood.  Wreed, maar beter en vinniger as gif.

Ek weet nie wat ek eendag vir ou Duke gaan sê as ek hom weer moet raakloop nie. Ek weet wat hy vir my gaan sê;

“‘ Jou klein donder, jy lok my met klein stukkies biltong daar by die dokter in. jy praat my moed in, jy vryf my lyf en ek lê daar en dink, Outoppie gaan my nou, nou hier uit kry en dan ons gaan huis toe. Toe laat jy hulle my voor jou oë doodmaak. Jou klein bliksem.”

Die ander wat ek geskiet het sal ek net voor sê: Man jy was” flatout” agter n springhaas aan toe hol jy teen n boomstam vas.

Nee, ek sal  ou Duke se oë  nooit vergeet nie, hy het my tot aan die einde toe vertou, en ek het vir hom gelieg.

11 antwoorde op Genadedood? Ek pas dit al jare toe.

  1. Ek neem aan jy het hierdie gebaseer op ek en Pappeslaai se mees onlangse skrywes genaamd Flekkie en Platter?

  2. Ou-Top het gesê op Februarie 4, 2011

    Jammer Varkie, maar ek het dit nog nie gelees nie. So het ons elkeen ons pad geloop met ons troeteldiere. Ek skryf maar waaraan ek dink, kry min kans om te lees, gaan dit nou gou doen.

  3. zephur het gesê op Februarie 4, 2011

    Ek moes ook al die sneller trek

    Ou Top ek het nou ‘n hond wat 18 is…hy was sterk…maar die afgelope maand is hy op afdraende…ai tog

  4. brug het gesê op Februarie 4, 2011

    Jou privaat veearts se gif was te flou (vir die groot hond?) Die SPCA-inspuiting het onmiddellik gewerk. Geen lyding. Geen trauma vir Baas nie. Ek het gevoel ek doen die hond n guns. Wens so n spuit is vir my eendag wettig daar.

  5. eros01 het gesê op Februarie 4, 2011

    Moeilik man moeilik en die kinners huil en beskou jou met agterdog as jy alleen van die veearts terugkom. xR

  6. Neander het gesê op Februarie 4, 2011

    Ai Ou Top, diep emosies. Ek het ook die sneller getrek op Wappertjie en Boeloe.

    Op ‘n ligter noot, my pa het sy hond Koos voor my geboorte langs die rivier begrawe en 20 jaar daarna oopgespoel. Toe maak ek die paleontologiese vonds van die eeu.
    Verleentheid.

  7. Ou-Top het gesê op Februarie 4, 2011

    Neander laat my dink,hier op my erf lê daar diep onder die grond geraamtes van budgies, kokketiele, hamsters, n konyn, honde, katte, duiwe, een papegaai,n stokstert meerkat en n paar goudvissies. Eendag gaan iemand hulle ook seker nog opgrawe en wonder of ek hulle ge-eet het.

  8. het ‘n vriendin verloor omdat ek haar gevra het of sy aan die hond verduidelik hoekom hy so moet ly en sy nie die hart het vir enige vorm van genadedood vir die dier nie

  9. Toe ons nog op varsity was moes mnrlisa die bure se varkhond vir die tannie skiet…hy het begin om die voormanne te byt. Daarna moes die bure se seun weer my skoonma se staffy skiet, want sy kon hom nie beheer nie. Ons is nie kans gegee om te groet nie, net sommer die Sondag gehoor Brolloks is laatskiet. Dit was een van die dinge wat ek na twintig jaar sou kon lys tussen die baie dinge wat ons werelde geskei het. Geriefsdood.

  10. Ou Top

    Sien my antwoord op jou antwoord op my blog oor Flekkie.

    Groetnis aan die mense van my ou tuisdorp!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.