by

Oor jol en dominees.

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

n Paar blogs het my vanaand vêr terug gevat na my jeujare, toe ons Desember vakansies  teen die Vaalrivier gaan gaan kamp het tot na Nuwejaar. Ons jong manne het altyd een mooi hemp en een mooi broek saamgevat. dit sou ons dra op Oujaarsaand as almal wat kan en wil dans met die bakkies ingaan na Makwassie of Leeudoringstad se Boeresaal. Daar was n boereorkes en tafels en stoele, braaivleis en groenmielies  en girls.  Jong verpleegstertjies. of onerwyseressies op vakansie by hul ouers op die plase. Mooi meisies van die stad, Klerksdorp of Bloemfontein. Ons jong mans het van drie uur die middag al begin skrop en hare kam.

Man dit was lekker, tot die volgende oggend as ons half babalas in warmgebakte tente deur die twee dominees in ons familie bymekaar gemaak word. Die een dominee het so n diep stem gehad, dan spreek hy ons toe oor die sondeval. Vermaan ons om op die regte pad te bly.  Aan die einde het hy, gewoonlik terwyl hy na my loer, gesê. ” Tipies van vandag se kind, gousblom in die nag en molshoop in die dag, die duiwel se sondige dinge.

Maar teen sononder as almal daar om die vuur n knertsie maak, dan het Pa altyd vir Dominee sterkstem gevra of hy ook iets sal gebruik, en elke keer het hy nee ge-antwoord. Maar ek was sy oogappel, want hy sê dan elke keer vir Pa hy sal net graag n glasie vars melk wil nuttig. Dan kyk Pa vir my en dominee knipoog vinnig vir my. Ek gaan gooi dan dadelik n glas melk daar in die tuisgemaakte kombuis, loop n vinnige draai by Pa se tent en gooi sonder om te meet, n stewige dop Whitehorse whiskey by die melk.

Net ek en Pa het geweet. Dominee moet  voorbeeldig wees voor die gemeente.

En hy het my die geheime van karp visvang geleer, en my getrou, en hy het van my kinders  gedoop. Baie van ons familie begrawe en was n anker in ons gemeenskap gewees. Van bome, struike, diere , voëls en visse kon hy jou baie leer. Van die lewe, nog baie meer.

Ja, Oom Schalck was die beste mens wat ek geken het. Ons dink vanaand aan jou.

3 antwoorde op Oor jol en dominees.

  1. Ek is seker die jong meisies het die hele dag gepoeier en gepaint!
    Ons het altyd Santos toe gegaan vir 6 weke en het elke aand by die Bakke gedans. Those were the days.

  2. ‘n Dop op sy tyd is soos brood en konfyt.

  3. baie Vrydagaande het die Dominee en ‘daai’ clan by ons gebraai. dan sodra ons kinners ‘moes gaan slaap’, en die ‘tannies’ die anner kinners moes huistoe neem, het die ‘manne’ daar agter innie erf by die vuur agtergebly. jy weet mos. dinge moes ‘oor besin’ word. en dan het ek altyd so in die laaaaataand gelê en luister as die manne so ‘oooo brannewyn laat my staan’ sing en lag en ewe plegtig nog daarna die aand afsluit met ‘n gebed. jip, daai manne het geweet hoe. ek sal nooit ophou om ‘daai’ verantwoordelikheids ‘begrip’ te salueer nie. al weet ek vandag in my betere ‘sin’, daar was soveel weersprekinge daarin. immers weet ek een ding, daai gegewe ou manne, was trots, vreesloos, vindingryk en kon hulle pose hou na vele doppe. Saluut!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.