by

n Eienaardige voorval by die kasregister.

Januarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Dag voor Nuwejaar moet ek n laaste dingetjie gaan koop by ons woonbuurt supermark. Dis ekstra besig, ek het n fris man van so veertig twee keer in die gange gehelp om iets te vind, jy kon sien hy is nie gewoond aan inkopies met n trollie doen nie, ongeduldig wanneer hy nie die goed kan vind nie. Hy is al effens geswaai en praat- mompel so met homself.

” Nie hompe kaas nie, plat stukkies in n plastieksakkie vir toebroodjie, wa die moer is dit.” Sy vingers dartel oor aldie kase in die rak. Ek wys hom. “Thanks, uncle, vroumense is vol fiemies, kyk hierie lys.” Hy waai n hele bladsy voor my neus.

Ek kry hom later by die beskuitjies se rak. Hy soek die plat Joodse broodjies, sulke harde dun goedjies in n pakkie, smaaklose goed. Hy mompel en kry dit nie, hy praat al harder met homself en skiet amper n koronêr, ek wys hom toe die goed. “Thanks, uncle.” Teen die spoed wat hy vind en laai moes hy seker al n uur voor my daar gewees het, sy trollie is darem nou vol. Hy is voor my by die betaalpunt. Hy kyk op sy horlosie en praat nou aanmekaar kliphard met homself. Meestal oor sy kwaai vrou en oor sy tjomas wat vir hom wag. Ek maak uit dat sy skoonma daar kuier, en dat hy laat is vir n vinnige paar doppe saam met sy vriende  by n afgesproke punt wat beslis nie by sy huis is nie.

Die kasregister word beman deur n jong swart vrou met n breê glimlag, sy werk al lank daar, altyd vinnig en vriendelik, die mooiste paar tande in die Vrystaat.

Terwyl hy wag vir die persoon voor hom, praat hy aanmekaar.

” Sy kon die goed gister al self kom koop het, maar nee, sy wil my vandag treiter want sy weet ek moet Hunters toe. En die ou heks eet net sekere kossies vir haar maagseer. Nee, hulle weet.”

Dis nou sy beurt. Hy pak die goed op die toonbank, praat nou eers lekker.

” Kyk hier, nie gewone mushrooms nie, fokken gesniperde mushrooms in n blikkie moet dit wees. Nie groen kool nie, nee hierdie donderse rooi Russiese kool moet dit wees. Hulle maak my mal Lerato, hulle is heeltemaal bedonnerd.”

Die meisie lag net, sy is lenig en aantreklik, werk so vinnig as moontlik. Van die ander mense begin nou notisie neem.

” Ek moet ek vir my eerder n swart vrou kry, Lerato. Soos jy. Daan by die werk het een gevat na sy vrou hom gelos het. Julle het geen moeilikheid nie. Luister vir n man. Ja, Daan sê sy maak sing, sing kos, voer die honde, was die wasgoed doen alles asof dit n speletjie is.  Doen shopping en die huis blink. Nee, ek moet ook n plan maak. Het jy n man Lerato?”

Die meisie lag verleë. Die ander swart meisie by die kasregister langsaan, giggel oonbedaard. Die vloerbestuurder, ook n swart vrou,  staan nader. Mense daar rond klik tonge, een vrou sê kliphard” dronkgat”. Die vloerbestuurder kyk laggend na die bestuurder daar waar hy by die sigarettoonbank staan . Hy staan nader.

” Julle is baie beter vir n man, met min dinge tevrede, baklei nooit, hardwerkend en luister vir n man. My vrou baklei elke dag, en haar Ma help haar, ek moet gedurig spring, dan hier dan haar. Sy is lui, sy en haar Ma, en die ousie het af, nou is hulle eers moeilik.  Nee ek kry swaar, man,  kyk hoe suffer ek hier op die ou jaar. Almal hou party en ek suffer.”

Ek begin ook nou te lag.

Ons lag nou almal daar, swart en wit.

Maar ek sit nou hier en dink, ons volkie vorentoe. Hoeveel sulke ouens is daar, is ons wit vrouens lui? Ek weet nie, ek vertel maar net wat ek gesien en gehoor het en ek wonder.

9 antwoorde op n Eienaardige voorval by die kasregister.

  1. Dis lekker om so waar te neem!

  2. TS het gesê op Januarie 23, 2011

    eintlik tragies nê… en volgende Kersfees gaan dit weer so…

  3. Dis nou lekker – dissie elke dag dat mens so ‘n ou teekom wat beried is om sommer so te sê wat hom pla nie.

  4. Pateet, sonder emosionele intelligensie.

  5. Hie hie – ek het nou lekker gelees !

  6. Ek is ‘n wit vrou en ek is beslis nie lui nie!
    😀

    Lekker hier gekuier, Ou Top.

  7. dalk moet ons eskimo vroue ‘bestudeer’…. ek verstaan hul mans kla nooit.

  8. Ou-Top het gesê op Januarie 24, 2011

    Miskien Rusiese vrouens, maar daai Eskimos, nee o hel, die wat ek op TV gesien het lyk op dertig meer geplooid as n ” hunter gatherer” van daar diep in die Kalahari.

  9. Vetjan het gesê op Januarie 25, 2011

    Die Russe is ook maar moeilik … en hulle naam is altyd Natasha, of Nastja of Natalie of so

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.