by

Die dronk siel van n mens.

Januarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Ek werk kliphard en loop te veel, kry pyn en gaan stop op die verste parkering by die waterfrornt, amper teen die water. Ek het n bottel water en wil n pynpill sluk en so rukkie daar sit en kyk na die bleshoenders en die ganse.

Kom die wit boemelaar so koes. koes nader. Hy is vuil, verniel en stink na sweet en ou suur wyn.

” More Meneer, as Meneer my sal verskoon, soek net ietsie om my kop reg te maak, as Meneer dit kan spaar.

Wel hy is darem eerlik, dink ek, lyk nog half geswaai van die naweek. was baie plattelanders in die stad met die skole en technicons wat begin het.  Dit lyk of daar op sy neus n hele paar uitgeteerde blou erdwurms wriemel. Sy ouderdom skat ek enigiets tussen dertig en vyf en sestig.

Ek moet iets eet voor ek die pil drink anders word ek effens naar. Ek gee hom vyftig rand en sê hy moet oor die straat na Checkers gaan, ek soek een bruinbrood en n liter Amazi.

” Kom Meneer van plaas af? Hier drink geen witmens Amazi nie, dis mos suurmelk. Ek ken hom van die plaas se dae af.

” Ja, man ek drink hom vir my maag,” antwoord ek.

“Kan ek n ietsie vir my kry?”, wil hy weet.

“Ja ” sê ek” n meatpie of n dop, jy besluit maar self, glo nie daar is genoeg vir altwee nie.”.

Binne minute is hy terug, hy lyk sommer springlewendig. Het twee brode gekoop en n skroefprop wyn, so groen bottel.

Ek klim uit en sit op die reling naby die water. Eet n sny bruinbrood en sluk my pil met die suurmelk af. Ek gee vir hom en sê hy moet eers eet voor hy suip, dis gesonde kos.

“Nee, ” sê hy,” eers n apperitif, dan eet, ons het mos maniere.”

Hy vat twee slukke, skroef die bottel toe en sit hom versigtig neer daar op die gras. Verstommend hoe slordig boemelaars met alles anders is, maar met hul drank, die behandel hulle soos porselein. Ook snaaks hoe vinnig die drank hom vang. Sy tong is binne sekondes los soos die van n slim pappegaai.

Ek waarsku hom om nie verder te drink nie en dit te bere vir later.

” Ag nee wat, Meneer, as hy klaar is gaan ek daar onder die riete by die bruggie lê en slaap, tot ou Slapoog kom, hy is hier af na sy spot by die Munispaliteit se gebou. Goeie spot daardie.”

Alle boemelaars lieg vir simpatie, en almal begin dadelik vertel, veral na n sluk wyn.

” Was nie altyd so sleg nie Meneer, was n ingeneur in Joburg gewees, ook innie Weermag, in die bos baklei ook.”

Ek loer vir hom, “Ag stront man, jy weet nie eers wat is n windbuks nie, wat van bosoorlog.”

Hy raak so ontsteld, hy verstik aa die wyn.

” Ek?”, skreeu hy amper, ” ek was n parabat man, ek het uit donderse vliegtuie gespring man,  met n fokken LMG man, ek…ek…. ag wat weet jy, kom koop n dop vir my en dink ek is n faktap dronkgat. Ek is sleg, maar nie altyd nie, nie van altyd af nie, Meneer.”

” As jy n parabat was, sê my wat se ding is n marble en wat se ding is n aapkas?” vra ek hom.

Hy is skielik doodernstig en lyk skoon nugter. Hy kom nader en gryp my aan die arm.

“Meneer, was jy op die Rooiplaas?”

Ek sê ja.

Hy sit die wyn neer en kom flink regop. Hy staan met sy regterhand so oor sy maag, beskermend oor sy noodvalskerm. Sy linkerhand geklem om die tou waarmme sy valskerm aan die vliegtuig gekoppel is.

“n Dakota Meneer, Peppie van Zyl met sy rooi snor stuur ons af, jak twee, jak twee, jak twee, groen lig aan, staan in die deur, spring.” En hy spring, slaan op die gras neer en bly net daar lê, ek dog hy het homseld seergemaak en staan nader.  toe hoor ek  hy  lê daar  en huil.

” Sersant Soppies  ou tjomma,  Sarge Kruger, Jakes, Pottie waar is julle manne. Almal vrek man, vir wat.  Fok julle man, fok julle almal.”

Hy kom op sy hurke,

” Jy ook man,  julle is almal dieselfde, vat jou ou Camry en fokof.”

Ek kyk maar na hom, ek moes nie die wyn gekoop het nie, soms is ek dom.

” Troep”, skreeu ek so hard as wat ek kan,” gedra jou soos n parabat man, jy is nie n pantser of n blerrie voetsoldaat nie. Jy is van die Rooiplaas, vasbyt, vasbyt, vasbyt.”

Hy begin saam te sing. n Sekuriteitswag kom vra of die man my pla, ek se nee, ons praat oor die ou dae, die ou dae waarvan niemand meer weet nie.

Ons is okay.

13 antwoorde op Die dronk siel van n mens.

  1. Ja, daardie vraag: Vir wat???

  2. Uitstekend geskryf. Het dit baie geniet.

  3. Ou Top, hierdie skrywe is briljant!

  4. Neander het gesê op Januarie 18, 2011

    Die dronk mens met ‘n siel.
    Voorwaar briljant, dit verdien punte.

  5. Jy moet darrem baie kalmte in jou he om met die man te sit en praat.Ons kan almal iets leer.

  6. Ou-Top het gesê op Januarie 18, 2011

    n Boemelaar dryf soos n blaartjie, hy is eensaam en doen wat jy vra, vir daai oomblik is hy weer trots, die ou mens wat hy was, moet net nie sê hy lieg nie, want dis al wat hy het, sy memories, al is dit hoe ookal verdraai om hom goed te laat lyk. Glo hom, want dit is sy genade, soos Kami sê.Ons gewone mense besef nie aldag ons genade nie.

  7. UNPOCO het gesê op Januarie 18, 2011

    Luide applous!

  8. Puik stuk Oudste! (Maak nou gaan ek heeldag in die verlede dwaal – en vannaand ‘n dop of twee te veel drink sodat ek more nie meer onthou nie.)

  9. Hoe is daai stukkie wat se: …but for the grace of God?

  10. ek het hoenervleis en trane en lees jou stuk twee keer deur en kan net lieeeeewe vok dink en sê, en wonder maar net weer en tog weer oor die ‘maktub’ begrip…. soos kamma sê ‘behalwe genade’ …en dan begin die ongelowige Thomas in my weer aan ‘maktub’ dink en wonder.

  11. Berwick het gesê op Januarie 18, 2011

    Ek stem saam.

  12. Ou-Top het gesê op Januarie 19, 2011

    Vir die wat wonder, maktub van Pruimtwak is n ou begrip ek dink uit Egipte. ” Dit staan geskryf, ons kan niks daaraan doen nie. Is lankal reeds in die Groot Boek geskryf, so sal dit wees.”
    Of weet iemand beter?

  13. Maklik een van die beste inskrywings wat ek al ooit op ‘n blog gelees het.
    Baie, baie dankie hiervoor. Dis wat die “Lit” in Litnet sit. Ek het dit nou-die-aand eintlik al op die selfoon ‘opgetel’ en vir my man, sy vriend (‘n weermagman) en my seun gelees. Hulle was stil.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.