by

n Kramp in die gat.

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Verlangs familie van my se seun verhuis met sy gesin van Johannesburg na Bloemfontein. Ek moet saam met hulle gaan huise kyk omdat ek die wereld hier ken en hulle ouers wil nie hê die kinders moet ingeloop word nie. Die eiendomsagent is n pragtige, vlytige jong dame wat ons n huis in n natuurreservaat hier teen die stad gaan wys. Dis eksklusief, die pryse beslis ook.

Nou kom ons by die huis aan en die eienaars is van daardie hoogvaardige, baie beter as jy, soort van mense. Op die koffietafel lê drie groot hardeband boeke, oor tuinbou, watervalle en een met pragtige fotos van die natuurlewe in die Krugerwildtuin. Ek dog nogal, maar dis mooi van hulle miskien het ek te gou ge-oordeel, die mense is wel belese en stel belang in die natuur. Toe sê die vrou van die huis met haar dun lippies. ” En hier is nog n diensklokke in die biljard kamer.”

Dis die vierde diensklokkie in die huis. Sy het ons nog n paar klokkies daarna ook gewys. Die vrou is behep met diensklokkies. Ek wonder stilweg hoe die huisbediende dit hier hou met al die klokkies wat gelui kan word. Sy gaan beslis nie n oorgewig  amakeia tipe wees nie. Dit lyk of hier gedraf kan word.

Vrou van die huis: En hier onder ons voete is die wynkelder, nie dat ou manlief juis n drinker is nie. Ons beskou die versameling eerder as n belegging.

Die wynkelder  is groter as my huis se sitkamer. Volgepak met horisontale bottels wyn.

Vrou : En hierdie is die binnebraai vertrek vir daardie koue, winderige dae. n Baie gesellige ou vertrekkie. Dan kan die skuifdeure ge-open word na die oop lapa vir daardie warm somerdae. O, en u self merk dat die swembad geverf is met n donkerkleurige swamdodende middel.

My donder, ek het nog nooit n  swembad met n swart bodem en kante gesien nie, ek dog eers hul boer met platannas daar.

Die man sluit nou by ons aan, hy het met n siwerkleurige BMW 4×4  hier aangekom.

In die gang sien ek vier of vyf van ou Vader Klaerhout se se kaalgat Sothovrou sketse. Die vrou verduidelik dat hulle dit ook as n baie goeie belegging beskou, veral nou dat ou Klaerhou gesterwe het.

Ons is bo op n enorme balkon, het sy eie kroegie, dakkie en pragtige houtmeubels en n borrelbad.

Man van die huis: En van hier kan jy die wild dophou teen sononder of vroeg in die oggend. Kyk daar, hier reg voor die huis, daar stap n steenbokkie.

Ek kyk na die man, is hy dan blind, dis n duiker rammetjie wat daar stap.

Man: En kyk daar teen die bome, dis die Impala ram.

Ek kyk weer na hom, dis n Tsessebi wat daar staan.

Hier kom die plankdun  bediende vlytig ingedraf  met n skinkbord tee. Sy groet beleefd in Engels. Daar is vier soorte suikerpotjies. Wit, bruin en wit met reën boog kristalle daarin. Ook n potjie met suikerpille.  As sy verdwyn sê die vrou.

” Sy is van Zimbabwe, het haar eie kamer hier, hulle werk baie harder vir baie minder geld as ons eie volkies.

My fok tog.

Die mense praat n ander soort Afrikaans vir my, hulle siening en gedagtes is vreemd vir my. Hulle is baie welgesteld en hulle gooi gedurig sulke fyn skimpies oor n huisie of twee by die see, n onlangse trip na die Ooste en n bellegging in die ontwikkeling van n golflandgoed in die Laeveld. Hulle wil jou goed laat verstaan met wie jy hier te doen het. Jy moet nie dink hulle het dalk geld nodig nie.

Net toe dit vir my voel ek gaan n kramp kry, toe is ons klaar. In die motor sê my familie sê seun vir ons.

” Oom Toppie, dit was een moerse steenbok daardie, bietjie vaal, maar n moerse steenbok. En daai Impala ram is beslis op steriods.”

Ek wonder oor daai borrelbad op die boonste dek met die skuifdeure van die hoofslaapkamer wat daarop uitloop. Sou die deftige en stemmige kultuurvrou nie dalk op n warm somersaand haarself kaal  uittrek en die ou man uitsleep na die borrellende water toe nie. Met koggellende impalas en duikers in die agtergrond .

Ek wonder oor hierdie soort van mense.

11 antwoorde op n Kramp in die gat.

  1. Hehehe…’n vreemde spesie!!

  2. Angelor het gesê op Januarie 11, 2011

    Ek sou gevra het of die rooibok mak was, en vertel het dat hulle verskriklik mak word as jy hulle borsvoed, net om haar aandag te kry.

  3. Definitief kramp in die gat mense.

  4. Ou-Top het gesê op Januarie 11, 2011

    Angelor, jy bly maar n weirdo en ek sit nou lekker en lag: n borsvoedende rooibokram, wonder of ou Kurt of Stevie nie n song hieroor kan maak nie.Ons doop die song dan: Die Horinglose Borsvoedende Rooibokram vannie die Vrystaat. Tjiekekang, tjiekelang.

  5. buiten vir die kramp, het ek al voorheen so donker swembad gesien. het gewonder of dit nie die water langer in die herfs in sal warm hou nie

  6. Ou-Top het gesê op Januarie 12, 2011

    Kan wees, Rosie, kan wees, swart trek mos hitte aan, van die swamme wat nie daarop teel nie, die het hulle wel gesê. Bly snaaks vir my, lyk soos n donker kuil destyds oppie plaas.

  7. Ek het ook al ‘n swart geverfde swembad gesien, en dit lyk maar grillerig – mens weet nooit wat op die bodem vir jou loer nie.

    Ek hou baie van jou laaste paragraaf.
    😀

  8. abrham het gesê op Januarie 12, 2011

    vrees vir ons sterflikheid beslaan sommige met goud

  9. AS niets iets geword het, is die son vir haar te duister.
    Die swart ghoefies is defnitief daar vir hitte bewaring.
    Rykdom kom in baie vorme, kyk maar na Bill Gates, Anton Rupert ens.

  10. Wonder ook hoe lyk daardie mense se balansstaat regtig…

  11. zephur het gesê op Januarie 12, 2011

    Hiers ek weer…hiers ek weer met my avatar voor jou blogdeur…

    Voorspoedige 2011

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.