by

n Stroewe stoere nasie, die Afrikaners.

Januarie 9, 2011 in Sonder kategorie

Die Afrikaner man is n stroewe mens, hard, ongenaakbaar en hy word grootgemaak met die begrip dat n man nooit mag huil nie, bitter min moet lag en homself nie mag ophou met enige ligsinnigheid nie. Sy gesin moet hy met n ysterhand regeer en sy woord is die wet. Grappies en lawwigheid moet gelos word vir vroumense en kinders. Sy emosies moet hy vir homself hou, hy moet n ware man wees. Sterk en standvastig.

Toe is ek gister op n troue en n stokou omie kry n spreekbeurt van twee minute lank: hy moet n boodskappie oor die getroude lewe vir die bruidegom gee.

Hy sê:

Verlede week was ek by n ou vriend van my daar in die Oos Kaap, sy vrou het gesterf en ons hou begrafnis. By die graf is my ou vriend verskriklik hartseer. Almal is naderhand weg, net ek en hy en dominee staan nog daar langs die graf van sy vrou. My ou vriend was n baie sterk soort mens, liggaamlik en geestelik. n Ware man onder die manne. Dis die eerste keer in my lewe dat ek hom sien huil.

 Hy sê vir dominee:  Ek was verskriklik lief vir haar, dominee.

Dominee: Ons weet dit almal, broer, jy was goed vir haar. Vyftig jaar getroud. Nee, jy was goed vir haar.

My ou vriend raak nou onbedaarlik aan die snik en hy gryp dominee se arm vas.

Vriend:  Ek was werklik baie lief vir haar….. en weet dominee, ……….ek het dit  eendag  amper vir haar gesê.

Ons moet verander, die Here weet, ons moet verander.

5 antwoorde op n Stroewe stoere nasie, die Afrikaners.

  1. louisna het gesê op Januarie 9, 2011

    Ja Top, die las om nie te mag huil nie, slaan soms hard.

  2. TS het gesê op Januarie 9, 2011

    Kan vir almal goed wees

  3. Dis flippen hartseer!
    Dalk het sy dit geweet.

  4. Dit sou snaaks wees assit nie so waar was nie!

  5. Naandsê Outop. Hoop die jaar behandel jou mooi …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.